Die belang van bekering

 

The true convert does not receive the gospel as an addition to his previous life, but in exchange for it. —Paul Washer

 

Die belang van bekering

Bekeer julle en glo die evangelie (Markus 1:15)

Dit was Jesus se eerste openbare oproep. As bekering dan so hoog op Jesus se prioriteitslys was, moet ons sekerlik ook aandag daaraan gee. Maar hoe moet ons dit doen? Hier kan Psalm 32 ons baie help. Ons kry hier vyf belangrike stappe:

  1. Wees eerlik oor jou behoefte aan bekering

Dit gaan goed met die mens vir wie die Here die oortredings nie toereken nie en in wie se gees daar geen valsheid is nie (32:2). Bekering vereis eerlikheid Niemand kom na die Here voordat hulle nie eers hulle behoefte aan vergifnis en versoening met Hom erken het nie. Net diegene wat nie meer probeer om hulle sonde met selfregverdiging te bedek nie, kan diep en blywende verandering ondervind.

 

  1. Erken die gevaar van sonde en die skade van skuldgevoelens

Toe ek oor my sonde geswyg het, het my liggaam uitgeteer soos ek heeldag om hulp geroep het. U hand het dag en nag swaar op my gedruk, my krag het opgedroog soos water in somerhitte (32:3 – 4)

Ons blameer dikwels ander vir ons spanning, maar dikwels voel ons sleg, want ons het slegte dinge gedoen. Die psalmis beskryf hier die fisiese en emosionele simptome van iemand met ‘n skuldige gewete. Ons moet eerlik die gevolge van ons sonde ondersoek – beide persoonlike gevolge en die impak wat dit op ander het.

 

  1. Bely volledig

Toe het ek my sonde bely, my oortredings nie weggesteek nie. Ek het gesê: “Voor die Here bely ek my opstandigheid” (32:5).

Dit klink vir ons verkeerd, maar die enigste manier om deur God vergewe te word, is as ek my sonde volledig blootlê. Ons moet 100% deursigtig oor die breedte en diepte van ons sonde voor God wees. Ons eerlikheid lei na vryheid en vreugde.

 

  1. Skuil in God

U het my skuld vergewe. Dit is waarom elke gelowige in ‘n tyd van nood tot U bid; selfs vloedwaters sal hom nie skielik oorval nie. U is vir my ‘n skuilplek, U beskerm my teen aanvalle. U laat my oorwinningsliedere sing (32:5 – 7).

Adam en Eva het agter onvoldoende, mensgemaakte bedekkings hulle sonde probeer wegsteek. Ons skuil ook dikwels agter selfgemaakte geregtigheid om ons meer aanvaarbaar te laat lyk. As jy egter werklik wil verander, moet jy by God skuil. Dit is nie genoeg om berou oor sonde te hê nie – baie mense doen dit. Ons moet ook oor ons pogings om ons sonde weg te steek, berou hê. Moenie in jou eie pogings probeer skuil nie – skuil in God.

 

  1. Gryp die hoop aan

Die goddelose het baie smarte, maar wie op die Here vertrou, dié omvou Hy met sy liefde (32:10).

Hoe kan ek verseker weet dat die Here my sal vergewe? Sy onfeilbare liefde. Dink na en word verseker deur sy geloftes deur die geskiedenis en hoe hulle in Jesus Christus vervul is. Dink maar net aan God se beloftes aan Abraham, Moses en Dawid. Hy is voldoende. Kyk weer na sy beloftes en gryp die hoop aan.

Verbly julle in die Here en juig, regverdiges, jubel, alle opregtes (32:11)