Die betekenis van die kruis (2)

. —C.H. Spurgeon

Die betekenis van die kruis (2)

Ons gaan nou verder na die betekenis van die kruis kyk.

  • Die kruis bring genesing vir ‘n stukkende en gebroke mensdom.

Hierdie tema is reeds deur die profete hanteer. God word vergelyk met ‘n son van redding met genesing in sy strale (Maleagi 4:2). Jesus se genesende bediening kan as ‘n voortsetting en uitbreiding van hierdie tema gesien word.

Hierdie tema word beklemtoon deur ‘n fokus op die kruis. Die Nuwe Testament sien dit as ‘n vervulling van die “lydende dienaar” tema in Jesaja. Tog het hy ons lyding op hom geneem, ons siektes het hy gedra. Maar ons het hom beskou as een wat gestraf word, wat deur God geslaan en gepynig word. Oor ons oortredings is hy deurboor, oor ons sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom (Jesaja 54:4 – 5). Augustinus het gesê dat die wêreld soos ‘n hospitaal is – vol gewonde en siek mense wat besig was om te herstel onder die versorging van die goeie geneesheer.

Baie mense dink dat die samelewing – en hulleself – gebroke en gewond is. Hulle voel dat dinge nie reg is nie en dat dit herstel moet word na wat dit behoort te wees. Maar waar kan ons hierdie genesing kry? Hier kan ons ‘n sterk band met die Christelike geloof lê. Ons kan dit doen deur beelde – die bekende beeld van die gewonde, lydende Christus aan die kruis wat vertel van God se solidariteit met diegene wat swaarkry. Dit praat ook van die moontlikheid van vernuwing en herstel. Ons kan dit ook intellektueel doen – Christus tree die vallei van menslike hartseer en pyn binne om dit te verander. Geen wonder in die Nuwe Testament se visie van die nuwe Jerusalem is hartseer en pyn afwesig. Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan (Openbaring 21:4).

  • Die kruis demonstreer die liefde van God vir die mensdom.

Die kern van die Christelike geloof is ‘n betroubare God wat ons liefhet. God bewys hierdie liefde deur Jesus se kruisdood: Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was (Romeine 5:8). Aan die kruis word die volle omvang van God se liefde geopenbaar. Baie mense voel hulle het so diep in die sonde vasgeval dat God hulle nie kan liefhê nie. Maar dit is nie wat die Bybel sê nie: Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? En dan die gevolgtrekking: Niks kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here (Romeine 8:31 – 38).

God is liefde (1 Johannes 4:8). Hy is soos die herder wat een skaap verloor het en die 99 ander skape in die veld los om daardie een skaap te gaan soek (Lukas 15:4 – 7). Dade spreek harder as woorde. God is ‘n dinamiese en lewende God wat optree om die volle omvang van sy liefde vir ons te wys.