Die Bybel het meer waarde as die lewe self

 

The truth is like a lion. You don’t have to defend it. Let it loose. It will defend itself – Augustinus

 

Die Bybel het meer waarde as die lewe self

U wet is vir my kosbaarder as ‘n oorvloed van goud en silwer (Psalm 119:72). Die digter gaan verder: My lewe is gedurig in gevaar, maar u wet verontagsaam ek nie (119:109) – God se wet is vir hom ‘n reddingsboei. Hoeveel van ons kan dit sê van die Bybel.

 

Die probleem is nie dat ons nie weet hoe waardevol die Bybel is nie – ons het nog nie ons praktyk in lyn met dit wat ons glo gebring nie. As ons die woord van God se waarde besef, hoekom verslind ons dit nie? Daar is ‘n vyand wat soos ‘n brullende leeu rondloop en soek na mense om te vernietig. Ons enigste hoop is God se woord, want die enigste manier om ‘n leuen te konfronteer is deur die waarheid te ken.

 

Toe die duiwel vir Jesus aangeval het, het Hy hom met die woord gekonfronteer. Waarmee kom ons na vore as die duiwel ons aanval? Die woord van God is lig en lewe; dit is verlossing. God het alles met woorde geskep. Jesus het siekes genees, blindes se sig herstel, sondes vergewe en mense uit die dood opgewek met woorde.

 

Ons waardeer nie altyd God se woord soos ons behoort te doen nie. Die skrywer van Psalm 119 eindig hierdie psalm met: As ek sou ronddwaal soos ‘n skaap wat weggeraak het, soek my dan, want u gebooie het ek nie verontagsaam nie. Daar is spanning in hierdie psalm: die psalmis sê aan die een kant dat Hy God se woord liefhet. Aan die ander kant sê hy dat daar dinge is wat hy meer liefhet. Wat doen hy? Hy besluit om God se woord lief te hê en vra God om sy hart in lyn te bring.

 

Hierdie is ‘n bemoediging vir wandelende harte. Ek het nie God se woord lief soos ek dit behoort lief te hê nie. Groei as ‘n Christen begin deur te erken dat ek nie sy woord lief het nie en dan vra ek dat God my maak wat ek behoort te wees.