Die Bybel is ‘n myn – nie ‘n museum nie

 

The gospel is the dynamic for all heart-change, life-change, and social-change. For deep change you need an encounter with radical grace – Tim Keller

 

Die Bybel is ‘n myn – nie ‘n museum nie

Hoekom moet ons die Bybel eerder as ‘n myn en nie as ‘n museum sien nie.

  • Museums is interessant

Museums is baie interessante plekke – allerhande fassinerende dinge word uitgestal. Jy beweeg van die een uitstalling na die ander, lees wat daar geskrywe staan. In die proses verbreed jou kennis. Die probleem is dat dit alles na ‘n oppervlakkige kennis van die geskiedenis of wetenskap of kuns of wat ook al lei. Selfs al is daar ‘n gids is jou verstaan steeds oppervlakkig. Die hoeveelheid tyd wat jy by ‘n uitstalling spandeer, is beperk. Jy aanvaar alles wat jy sien en lees.

 

Herhaalde besoeke help. Gereelde museumgangers kan later die uitstallings ken en kan selfs intelligent oor hulle praat. Alles bly egter meerendeel oppervlakkig.

 

  • Myne is verrykend

Vir mynwerkers is die kennis wat hulle het nie net interessant nie, maar lewensbelangrik. Hulle brei nie net hulle kennis uit nie, hulle soek ‘n skat. Kennis is vir ‘n spesifieke rede: sulke kennis lei tot ‘n fortuin. Myne probeer rykdom uitgrawe. Hulle grawe; hulle soek oral rond; hulle kyk intensief; hulle kap en bestudeer rotse. Ons praat nie nou van ‘n middaguitstappie nie. Mynbou is toegewyde en volhardende werk. Ure word gespandeer in ‘n klein gebied terwyl jy versigtig soek. As jy nie versigtig kyk nie, mag jy dalk ‘n skat nie raaksien nie.

 

  • Skatte vir diegene wat grawe

Die Bybel, soos ‘n museum, is fassinerend. Ons kan baie sommer so oppervlakkig leer. Maar die Bybel is ook so verrykend soos ‘n myn. As ons begin grawe en dinge ondersoek kom ons af op wonderlike dinge wat ons nie vantevore raakgesien het, af. Kyk na die verhale in die Bybel. Hoekom is daar so baie verhale in die Bybel? As ons hierdie verhale soos uitstallings in ‘n museum lees, bly ons kennis oppervlakkig. As ons ons egter begin ingrawe – soos mynwerkers – sien ons hierdie verhale is vol skatte. Daar is baie meer in hulle as wat ons aanvanklik gesien het. God begrawe rykdomme in die Bybel wat ‘n myner maar nie ‘n museumganger sal ontdek nie.

 

  • Dinge nie gesien nie

As dit by die lees van die Bybel kom, is ons nie dikwels museumgangers nie? In Matteus 13:44 lees ons die kort gelykenis van die skat wat in die saailand begrawe is. Ons moet gaan soek daarvoor.

 

Ons moenie museums afkraak nie – hulle dien ‘n belangrike rol, maar as dit by die lees van die Bybel kom, moet ons eerder soos myners en nie soos museumgangers wees nie. Daar is baie skatte begrawe in die Bybel – ons moet net grawe om hulle te kry.