Die Christus-lied

 “Sin corrupts even our good deeds. We injure our shoulder trying to pat ourselves on the back.” D.A. Carson

Die Christus-lied

In Filippense 2:6 – 11 kry ons ‘n wonderlike Christus-lied. Die probleme is dat die woorde van hierdie lied vir ons net leë teoretiese woorde is sonder enige praktiese toepassing. Mense vra wat hierdie woorde vir die ontvangers van die brief beteken het. Maar wat het dit gedoen aan die lesers en ook wat doen dit aan ons in ons konteks.

Die kode van destyds het sosiale status beklemtoon. Mense met hoë status is geëer; mense van lae status is geïgnoreer. Om dus te sê dat Jesus Hom verneder het, sou geen sin maak nie. Vandag is ons steeds behep met individue, status en beroemde mense. Paulus se lied daag hierdie algemene siening uit.

 

Vandag klop ons onsself op die skouer en kondig aan dat ons nie tradisie volg nie, ons aanvaar nie leiding van ander nie, ons loop ons eie pad. Dieselfde geld ook vir ons verlossing. Ons sê dat ons Jesus in ons liggame ingenooi het – ons het die inisiatief geneem. Maar wat lees ons van Jesus in hierdie brief? Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.Saam met hierdie gesindheid van Jesus kry ons ook nederigheid: Maar Hy het Homself verneder.  Gehoorsaamheid plus vrywillige nederigheid. Ons denke kan nie ‘n strewe na nederigheid verwerk nie. Ons soek ‘n duidelike prentjie oor wat om te doen en dan doen ons dit.

Kyk net na die vrywilligers in ons gemeentes. Ons ontwerp ‘n model waarvolgens ons van ons tyd gee – so asof dit ons tyd is om te gee. Ons doen dit aan diegene wat ons glo nou op een of ander manier by ons in die skuld is. Die probleem is dat hierdie gesindheid van diens net daar is as ons iets doen – byvoorbeeld in ‘n sopkombuis werk. Daarna gaan ons terug na ons “normale” lewe. Dit is nou ons lewe buite die arena van die vrywilliger. Dit alles doen ons om te wys hoe gaaf en nederig ons is.

Jesus leer hier vir ons ‘n belangrike les: Geen werk/taak is benede ons nie; niks wat ons doen is so uitstaande dat dit die lof van God werd is en ons verlossing verseker nie; ons dien nie ander om ons beter oor onsself te laat voel nie. Ons moet die skeiding tussen ons “normale” lewe en ons lewe as vrywilliger uitwis.