Die doop as teken

Die doop as teken – Jan van der Watt

Johan vra:

In ‘n artikel waarin u raad gee aan ‘n vrou oor die doop, noem u dat die doop ‘n teken is. Kan u asb verduidelik waarvan die doop ‘n teken is asb. Ek sien dit nie duidelik in u antwoord aan die vrou nie.

Antwoord:

Prof. Jan van der Watt antwoord:

Die doop word in die Ortodokse en Rooms Katolieke kerke gesien as die instorting van genade in die mens. Daardeur sou die mens dan salig word. Dit is byna soos ‘n glas wat met geboorte halfpad vol water (genade) is, maar nog nie vol is nie. Met die doop word die glas dan heeltemal volgemaak met genade, wat beteken dat die persoon dan gered is.

Die Reformatore (Luther, Calvyn en andere) het ‘n ander pad ingeslaan. ‘n Mens word nie deur die doop gered nie, maar deur geloof in Jesus. As die doop dan nie red nie, waarom doop mens dan, is toe gevra. Die Reformatore het verduidelik dat die doop ‘n teken is van iets groters, net soos die ring aan die vinger van ‘n getroude die teken van iets groters is. Maar waarvan is dit ‘n teken?

Romeine 6 en Kolossense 2:11 help ons om die vraag te antwoord: Met die doop word die persoon saam met Jesus begrawe (die ou mens is weg) en saam met Hom opgewek (sodat hy of sy ‘n nuwe lewe kan leef (Romeine 6 en Kolossense 2 ).Die doop wil dus simboliseer dat mens van die dood na die lewe saam met Jesus toe oorgegaan het. Jy het nou ‘n nuwe identiteit, naamlik van iemand wat gered is en aan Jesus behoort. Daaraan moet die doop jou herinner en daarvan is dit ‘n teken.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt