Die Drie-eenheid, Jesus se geboorte en opstanding

Die Drie-eenheid, Jesus se geboorte en opstanding – Francois Malan

Petro vra:

Daar gaan nou gerugte rond dat ook van die Christelike gelowe nou die Drie-eenheid, die geboorte en die opstanding van Jesus bevraagteken. Is dit waar en as dit nie die geval is nie waar kom die gerugte vandaan?

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

Deur al die eeue was daar mense wat hulle self as Christene beskou het, en wat nie die Drie-eenheid of die maagdelike geboorte en opstanding uit die dood van Jesus aanvaar het nie.

Vir die gemeente in Korinte skryf Paulus reeds: ‘as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos en is julle nog gevange in julle sondes’ (1 Kor 15:17).  Vir die gemeentes wat hy in die provinsie Galasië gestig het skryf Paulus: ‘Dit verbaas my dat julle so gou van God wat julle deur die genade van Christus gered het, afvallig geword het en ‘n ander evangelie aanneem’ (Gal.1:6). Na sy stryd met die valse leraars in Korinte sluit hy 2 Kor 13:13 af met ‘Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees.’ Daarmee bevestig Paulus die Drie-eenheid van God, al gebruik hy nie die term ‘drie-eenheid’ nie.

2 Petrus 2 waarsku al teen dwaalleer, dat daar mense is wat deur ons Here en Verlosser, Jesus Christus, verlos is en wat weer deur die besmettinge van die wêreld vasgevang is en daardeur oorweldig word (v20).

Sedert die verligting van die 16e en 17e eeue het mense die gesag van die Bybel begin bevraagteken. In die 19e en 20e eeue het mense die Bybel al meer begin sien as ‘n boek deur mense geskryf, oor wat hulle van God gedink het. Daarteenoor glo die kerk dat die Bybel geskryf is deur mense, met al hulle beperkings, swakhede en kortsigtigheid, maar dat dit die manier is waarop God met ons mense wil kommunikeer, en dat Hy die skrywers in hulle oortuigings gelei het deur sy Gees, soms met gesigte en drome, maar meestal deur oortuigings in hulle hart.

Veral in ons tyd word Bybeluitsprake bevraagteken, bv. as daar gelowiges is wat die skepping beperk tot ses dae op grond van Genesis 1 se digterlike lof aan God as die Skepper. En dit terwyl daar daagliks nuwe wetenskaplike ontdekkings gemaak word, bv. oor die heelal met sy wydheid en oudheid, wat in miljoene ligjare gemeet word, die opgrawings van antieke mense se beendere, en van dinosourusse wat miljoene jare gelede al uitgesterf het, ens. Dat God ons daagliks meer van sy skepping leer uit ons wetenskaplike ontdekkings, maak juis dat ons ‘n baie wyer insig kry in God se grootheid en sy skepping, as die mense van die ou tyd. Ook dat Hy daagliks besig is om sy skepping te onderhou en te ontwikkel, ten spyte van die sonde en dwaashede van mense.

Ons lewe in ‘n tyd waarin mense wetenskaplike bewyse soek en waarin die wonder bevraagteken word. En die grootste wonder van alles, dat God mens geword het en uit die dood opgestaan het, word daarmee saam bevraagteken.

Daarom is daar mense wat hulle self Christene noem, omdat hulle Jesus se voorbeeld en uitsprake as ‘n mooi en ideale voorbeeld sien, waarvolgens hulle probeer lewe, om God so te behaag. Maar dan is Hy nie meer my Verlosser wat vir my sonde gesterf het nie. Want geen mens, hoe goed ook al, kan vir my sonde sterf nie. Dit kan alleen God, wat mens geword het in Jesus Christus, vir my doen. En nou is die grootste wonder dat dié God deur sy Gees in my kom woon om my van sonde te oortuig, my ook oortuig van geloof in Christus, my aan die Seun van God se sterwe en opstanding verbind om saam met Hom te sterwe aan myself en saam met Hom op te staan om vir God en my medemens te lewe (Romeine 6:11), van my ‘n kind van God maak, en my daagliks lei om al meer soos Jesus te word (vgl. Romeine 8:9-17; 2 Kor 3:18).

 

Skrywer: Prof Francois Malan