Die duiwel as aanklaer – Hermie van Zyl

Jan vra:

Boodskapteks: Openbaring 12:7-11 vertel van ‘n oorlog wat in die hemel gekom het tussen Migael en sy engele en die draak en sy engele met lg wat uit die hemel op die aarde neergewerp is – die groot draak, die ou slang wat duiwel en Satan genoem word.

Vers 10 sê: “Nou het die heil en die krag en die koningskap die eiendom van onse God geword, en die mag van sy Christus; want die aanklaer van ons broeders is neergewerp, hy wat hulle aanklaag voor onse God, dag en nag.” (1933/53 Afrikaanse Vertaling.)

Uit hierdie verse lyk dit vir my dat Satan terwyl hy nog in die hemel was sekere van “ons broeders” by God aangekla het, dag en nag. Toe hy uitgewerp is uit die hemel het hierdie funksie van hom verval. Maar as mens vers 11 lees, skuif die tyd vorentoe omdat hulle (die broeders) die Satan oorwin het deur die bloed van die Lam en die woord van hulle getuienis.

Iemand verklaar dat die Satan nog in die hemel kan verskyn om ons voor God aan te kla.

Hoe moet mens hierdie verse verstaan asseblief?

 

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die vraag, soos ek dit verstaan, gaan daaroor of die Satan nog steeds gelowiges in die hemel voor God kan aankla, veral in die lig van Op 12:8,10 waar staan dat die Satan uit die hemel gewerp is.

Dat die Satan tradisioneel as die aanklaer van gelowiges bekend gestaan het, moet teen die agtergrond van Job 1:6-9; 2:1-6 verstaan word (kyk ook Sag 3:1-2). In Job word Satan beskryf as een wat toegang het tot die hemel, waar die hemelwesens in God se teenwoordigheid verkeer. So het Satan vir Job by God beswadder, as iemand wat God net dien omdat dit met hom goed gaan. Wat hierop volg, is bekend: God “oorhandig” Job aan Satan sodat dié met Job kan maak wat hy wil (behalwe om hom dood te maak), om te kyk of Job God nog sal dien as dit met hom sleg gaan. Die Satan as die aanklaer van gelowiges onderlê ook ‘n teks soos Rom 8:33: “Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry.” En God spreek die “aangeklaagdes” (gelowiges) vry op grond van die soendood van Christus aan die kruis. Daar is dus geen grond vir die aanklagtes meer nie. Dieselfde gedagte kom ook in Op 12:10 voor, waar staan dat Satan die aanklaer van die gelowiges is. Maar na ‘n oorlog in die hemel tussen die engele (onder aanvoering van die aartsengel, Migael) en die draak (= Satan) het lg die onderspit gedelf en is toe uit die hemel gegooi (Op 12:7-9). Hierdie “oorlog” is eintlik net ‘n beeldryke voorstelling van die oorwinning wat Christus oor Satan behaal het, op grond van sy offerdood aan die kruis (Op 12:11).

Weens Satan se uitwerping uit die hemel kan ‘n mens aflei dat hy nou nie meer toegang het tot die hemel nie en gevolglik nie meer die gelowiges by God kan aankla nie. So ‘n afleiding is korrek, maar dan moet ons nie die eintlike bedoeling en gevolg van hierdie uitwerpingstoneel uit die oog verloor nie. Hierdie toneel wil nie soseer sê dat Satan nou geen verdere mag het en dat hy geen verdere verwoestingswerk kan aanrig nie, maar wil eerder beskryf wat agter die skerms in die hemel gebeur het en wat die uitwerking daarvan op die menslike geskiedenis is. Satan se uitwerp uit die hemel skuif naamlik die toneel reg vir die verdere konflik tussen die Satan en die kerk op aarde. Aangesien hy geen mag meer in die hemel het nie, rig hy nou sy woede op die kerk op aarde. Dit sal lei tot die finale veldslag waar die duiwel se mag ook op aarde gebreek word, hy dan in die poel van vuur gewerp word en die nuwe hemel en aarde tot stand kom (beskryf in Op 19-22).

Om hierdie toedrag van sake verder te verduidelik, kan ons let op hoe die verhaal in Op 12 ontvou. Dit bestaan uit drie groot tonele: 1. 12:1-6 vertel hoe die draak probeer om Jesus te vernietig. Hy kry dit egter nie reg nie omdat Jesus sy missie voltooi en in die hemel opgeneem word. 2. 12:7-12 vertel vervolgens hoe die duiwel se mag in die hemel gebreek word. Waar hy altyd in ‘n sekere sin nog “vrye toegang” tot die hemel gehad het, word hy nou uitgewerp. Hy het geen plek meer daar nie. Hy verloor sy “reg” om die gelowiges aan te kla. 3. 12:13-17 vertel dan hoe die duiwel, nadat hy die stryd teen God en Christus verloor het, nou sy woede ten volle rig op die kerk op aarde as die volgelinge van Jesus, uiteindelik ook sonder sukses.

In die tweede toneel (12:7-12) vervul vers 10-12 ‘n besondere rol. Dis eintlik ‘n soort tussenpose, ‘n lied om die oorwinning oor Satan te vier. Enersyds word die uitbanning van Satan uit die hemel gevier, maar andersyds word daar by wyse van vooruitskouing reeds ‘n loflied aangehef oor die oorwinning wat nog gaan kom, so asof dit reeds plaasgevind het. Want die Satan gaan nou sy woede op die kerk laat neerkom. Maar daar word reeds ‘n loflied gesing oor die gelowiges wat deur die bloed van die Lam en deur hulle getuienis oor die evangelieboodskap van verlossing, die oorwinning behaal het (v11). Vers 13 tel dan weer die draad by vers 9 op om te sê hoe die duiwel, nadat hy uit die hemel gegooi is, nou probeer om die kerk op aarde te vervolg.

Enersyds moet ons dus sê dat die duiwel inderdaad uit die hemel gegooi is; hy kan nie meer voortgaan om die gelowiges aan te kla voor God nie. In stede van aanklagte het Christus nou met sy versoeningsdood sy plek in die hemel ingeneem en tree Hy vir die gelowiges in by God (Heb 7:25; 9:24). Soos Rom 8:33 sê: “God self spreek hulle vry”. Maar dit beteken nie dat die duiwel nie op aarde met sy verwoestingswerk teen die kerk kan voortgaan nie. Inteendeel, hierdie woede van die duiwel sal voortgaan tot en met die wederkoms van Christus. Maar die uiteindelike oorwinning is verseker met die oorwinning van Christus aan die kruis en deur sy opstanding. Dít is juis wat besing word in die loflied van Op 12:10-12.

 

Skrywer: Prof Hermie van Zyl