Die duiwel het my dit laat doen!

A Christian community should do as Jesus did: propose and not impose. Its attraction must lie in the radiance cast by the love of brothers.” ~Jean Vanier

 Die duiwel het my dit laat doen!

Ek het pas gesondig. Het die duiwel my dit laat doen?  Ons lees: Dan sal hulle weer tot nugtere insig kom en vry raak uit die vangstrik van die duiwel, waarmee hy hulle gevange gehou het om sy wil te gehoorsaam (2 Timoteus 2:26). Hier verwys Paulus na dwaalleraars. Hy verwys ook na ouderlinge wat maar onlangs tot geloof gekom het en in die oordeel kom waarin die duiwel hom laat beland … en hy in die strik van die duiwel beland nie (1 Timoteus 3:6 – 7).

 

 As Paulus egter met gelowiges oor hulle sondes praat, doen hy dit direk – soos in Efesiërs 4:25 – 32.  Paulus praat wel van die duiwel in hierdie gedeelte: Moenie die duiwel vatkans gee nie. Ons moenie die duiwel vatkans gee deur kwaad te word en die dag kwaad af te sluit nie. Ons sonde mag aan Satan die geleentheid gee om sy agenda deur ons te bevorder, maar Paulus sê nie dat ons sonde deur die duiwel veroorsaak word nie. Paulus sê vir hulle hierdie dinge is ontoepaslik en dat God se kinders niks hiermee te doen moet hê nie. Sonde is ongehoorsaamheid en ons het nie ‘n graad in duiwelkunde nodig om gehoorsaam te wees nie.

C. S. Lewis waarsku dat Satan gelukkig is met ons onkunde en ook ons obsessie met hom. Die Bybel sê dat Satan ‘n werklikheid en gevaarlik is, maar gelowiges is nie aan sy genade oorgegee nie. Die verlossing wat Christus bewerk het, stel ons vry van Satan se tirannie. Ons is nie meer slawe van sonde en die dood nie. Nee, ons is onder gesag van die Heilige Gees en dra sy vrug in ons lewe.

Moet ons van die duiwel bewus wees? Ja.

Moet ons van sy motiewe en optrede bewus wees sodat ons hom kan vermy? Beslis.

Moet ons vir ‘n duiwel agter elke sonde soek? Nee.

 Moet ons bewe vir sy mag? Onder geen omstandighede nie.

Satan se kennis en mag is beperk; sy vernietiging is verseker. Hy verdien nie ons obsessie, tyd en emosies nie. Nee, ons lewe met ons oë op Jesus gerig – Hy het ons van Satan se toorn gered en ons weet dat eendag sal ons vir altyd van hom ontslae wees.