Die Eerste Brief van Johannes (12)

Die Eerste Brief van Johannes (12) – Jan van der Watt

Deel 3: Die ratte loop op liefde – maar steek ook vas

Hoofstuk11: Gesinsrebellie, oftewel sonde

God self is sonde se grootste vyand, want Hy verdra dit doodgewoon nie. As jy naby Hom leef, behoort sonde ook nie vir jou ’n probleem te wees nie! Dit is egter juis sonde wat ons weerhou daarvan om naby God te leef. Maar wanneer God ons oë oopmaak om die volle prentjie te sien en sonde te verstaan, trek Hy ons weer nader aan Hom.

Gesinsvreugde of gesinsrebellie?

God se gesin het sy huisreëls. Dit is nie sommer ’n deurmekaarspul waarin elkeen kan doen wat hy of sy wil nie. Soos ’n goeie Vader van die gesin laat God sy kinders nie in die duister oor hoe hulle moet optree nie. Hy gee aan hulle gebooie.

(1) Hoe weet ’n mens volgens 1 Joh. 2:3–4 dat jy die Vader van die gesin “ken”?

(2) Kan jy aan redes dink waarom Johannes die “ken van die Vader” aan die “gehoorsaam van gebooie” verbind (dink in gesinsterme)?

(3) Maar … wat ís sonde dan?

Lees 1 Joh. 3:4 en beantwoord die vraag wat sonde is.

’n Mens sou kon sê dat die gebooie of wet van God die reëls is waarvolgens die kinders moet optree. Daarin lê die gesin se gemeenskaplike identiteit.

As jy immers waarlik lid van ’n groep of gesin is, sal jy graag wil doen wat die groep of gesin tevrede stel. Dit is baie soos met ’n sportwedstryd. Jy kan dadelik sien wie die spelers is, wie die beamptes is en wie die toeskouers is aan die manier waarop die onderskeie groepe min of meer dieselfde optree.

’n Mens sou kon sê dat die gebooie of wet van God die reëls is

waarvolgens sy kinders moet optree. Daarin lê sy gesin se

gemeenskaplike identiteit.

Om Johannes goed te verstaan, is daar een vraag wat ons eers vir onsself moet beantwoord: Hoe maklik of moeilik is dit om die groepreëls te breek—ongehoorsaam te wees—as jy regtig baie lief is vir jou pa en die groep of gesin eerste stel?

Kom ons kyk na ’n voorbeeld:

In die Springbokspan

Sê jy speel vir die Springbokspan rugby. Julle het ’n deeglike plan uitgewerk om die Britse Leeus te klop.

Sal jy sommer so op jou eie die plan los, met die gevolg dat die beweging elke keer by jou doodloop? Nee, nooit—jy sal eerder jou bes probeer om die beweging te laat werk. Sal jy, as julle op die punt staan om ’n drie te druk, die bal sommer in die hand van ’n teenstaander gooi? Nog minder—jy sal alles doen om vir jou span te probeer punte maak.

Om te doen wat jou span van jou verwag, sal vir jou baie belangriker wees as om jou eie kop te volg.

In God se span

’n Rugbyspan is ook maar ’n groep, soos die kerk oftewel die gesin van God.

As jy regtig in die “span van God” speel en vir Hom lief is, sal jy niks wil doen wat die “span” kan seermaak nie, inteendeel.

Sonde kom neer op rebellie teen die gesin van God. Iemand vir wie

die gesin werklik belangrik is, sal nie eers daaraan dink om die gesin

van God te wil benadeel nie.

Jy sal ook nie eers daaraan dink om die “planne” van die “span van God” vir hierdie wêreld in die wiele te probeer ry nie.

Die moontlikheid om byvoorbeeld ongehoorsaam aan God te wees, sal vir die een wat God liefhet eintlik so onwaarskynlik wees soos wat dit vir die rugbyspeler is om die bal vir ’n teëstaander te gooi. Jy sal eerder probeer om saam te werk om God en die gesin se planne tot uitvoering te bring.

Die gedagte om dinge te doen wat jou “span” of gesinsgroep skade kan aandoen, sal inderwaarheid nie eers by jou opkom nie.

Sonde sal nie eintlik vir jou ’n opsie wees nie, tensy jou Pa of die gesin natuurlik nie regtig vir jou belangrik is nie. Hoe minder jy vir God en die res van jou gesin voel en hoe belangriker jy dink jyself is, hoe groter raak die gevaar om sonde te doen.

(4) Met hierdie opmerkings in gedagte, sê nou hoe jy 1 Joh. 3:9 verstaan waar Johannes sê dat ’n kind van God nie meer kan sondig nie.

Sonde kom neer op rebellie teen die gesin van God. Iemand vir wie die gesin werklik belangrik is, sal nie eers daaraan dink om die gesin van God te wil benadeel nie.

 

Hoe lyk “sondaars”?

Soos in Hoofstuk 1 gesê is, was daar ’n stryd tussen twee groepe wat as die Johannese gemeente bekend gestaan het. Hulle optrede het egter baie van mekaar verskil. (Daaroor meer in die volgende hoofstuk). As jy die twee groepe so langs mekaar gesit en gekyk het hoe hulle optree, sou jy nooit kon sê dat hulle aan dieselfde Goddelike gesin behoort nie! Dit is onhoudbaar!

In 1 Joh. 2:18–19 spreek Johannes hom skerp uit teen een van die twee groepe wat nie meer volgens die gesinsreëls optree nie, hoewel hulle hulleself nog Christene genoem het.

(1) Wat noem Johannes hierdie mense wat teen Jesus en die gesin van God gedraai het (“anti” beteken in Grieks “teen”)?

Hoewel hierdie mense nog die naam van “’n gesinslid van God” gebruik, is dit duidelik dat God nie tevrede is met mense wat hulle nie eintlik meer aan Hom steur nie.

(2) Watter “soorte mense,” dink jy, kan in ons gemeentes met die “antichriste” vergelyk word?

Dit is vir ons egter baie belangrik om die werklike probleem van die sonde te probeer raaksien.

(3) Wat sê Johannes in 1 Joh. 2:22 oor die verhouding van hierdie mense met die Vader en die Seun?

(4) Wat sê Johannes in 1 Joh. 3:10 en 15 oor die verhouding van sondaars tot ander mense?

(5) Wat is volgens hierdie verse die hart van sonde?

Let daarop dat dit nie hier gaan om “foute” of enkele “verkeerde dade” nie—daaraan gaan ons in die die volgende hoofstuk aandag gee—maar om die gebrek aan ’n verhouding met die Vader of die gesin. Dit is die basis en hart van alle sonde.

Die basis en hart van alle sonde is die gebrek aan ’n verhouding met

die Vader en sy gesin.

As jy na jou eie lewe kyk, dink jy dat die mense jou sal assosieer as “iemand wat in die gesinspan van God speel”? Wat, dink jy byvoorbeeld, sal jou man of vrou sê? Wat sal die kinders by die skool, of jou kantoorgenote, en so aan, oor jou te sê hê?

As die hart van sonde nou op die vlak van die agteruitgang en vernietiging van verhoudings met God en jou medegelowiges lê, hoe stel ’n mens dit reg?

(6) Kyk na die volgende (onthou, dieselfde beginsels geld vir verhoudings op die geestelike vlak as vir gewone verhoudings wat ons met ander mense—ons huweliksmaat, vriend of vriendin—het):

As jou verhouding met God nie meer so sterk is nie, wat kan jy doen om dit te verbeter? Doen voorstelle aan die hand.

Is daar ’n manier waarop ’n mens seker kan maak dat jou daaglikse verhouding met God nie agteruit gaan nie?

Hoe moet ’n mens probleem-verhoudings met jou medegelowiges hanteer?

Help dit om altyd alles met almal te wil “uitpraat”? Noem ook voordele en nadele daarvan.

 

Die sonde tot die dood

In 1 Joh. 5:16–17 word daar van sonde gepraat wat “tot die dood lei”.

As jy in gedagte hou dat sonde beteken dat ’n mens teen die Vader en die Seun draai of Hulle glad nie ken nie, help dit om hierdie moeilike deel te verstaan. “Sonde tot die dood” beteken om Jesus nie te ken of te WIL ken nie. So ’n persoon is nie deel van die gesin van God nie en het ook nie die ewige lewe nie (1 Joh. 5:12).

Weet jy van enige sonde in jou lewe wat jou regtig hinder in jou verhouding met jou Vader? Wat behoort jy daaraan te doen?

Kyk of jy met volle oorgawe vir die Here kan sê: “Here, hier is ek!”