Die Eerste Brief van Johannes (14)

Die Eerste Brief van Johannes (14) – Jan van der Watt

Deel 4: Al die verskil – in wat die gemeentes doen

Ons begin nou met die vierde en laaste deel van ons Bybelstudie oor 1 Johannes

Hoofstuk 13. Pasop vir die duiwel – hy is slinks

As Jesus sê ons is oorwinnaars, sê Hy eintlik ons is saam met Hóm; ons is niemand se slawe nie, veral nie die duiwel s’n nie. Om dus te leef asof jy nie werklik versoekings kan oorwin nie, is om ’n mosie van wantroue in Jesus se oorwinning te stel. Waarom voel ons dan nog soms moedeloos of magteloos oor sekere sonde in ons lewe?

Moenie die duiwel onderskat nie

Elke nou en dan word daar onder groot koerantopskrifte vertel van een of ander sel van duiwelaanbidders wat ontmasker is. Dan suis dit gewoonlik in al wat skool in die omgewing is en Bybelstudiegroepe bespreek dit met groot oë!

Wat mense nog meer kriewelrig maak, is as daar gesê word dat die Satansaanbidders “bid” vir die val van kerke of dat sekere jongmense die spoor byster moet raak.

Soms lyk dit of paniek en onsekerheid gelowiges beetpak as hulle sulke dinge hoor. Dit is al asof hulle bang is ’n sekere mag oorval hulle waaroor hulle nie beheer het nie.

(1) Dink jy die paniek onder gelowiges is nodig? Waarom sê jy so?

(2) Wat, dink jy, sê die “onsekerheid en kriewelrigheid” van hoe sulke Christene hulle geestelike verhouding met Jesus sien?

Aan die lewenstyl van ’n persoon kan jy agterkom of hy of sy aan

Satan of aan God se gesin behoort.

Ek wonder net waarom gelowiges nie altyd ’n gevoel van krag en oorwinning kry as ons sê dat daar kerke vol mense elke Sondag vir die ontvouing van die Christendom bid nie? Die derduisende gelowiges is tog baie meer as die paar Satansaanbidders. En hulle bid tot die almagtige God! Vir my lyk dit of die Satansaanbidders eerder moet begin bewe!

(3) Verduidelik waarom jy met die bewering direk hierbo saamstem of waarom jy nie daarmee saamstem nie.


Waar kom die sonde vandaan?

Die verhaal van die gevalle engel wat God se plek wou neem, kom nie uit die Bybel self nie, maar uit ’n buitebybelse bron. Ook Johannes sê nie presies waar die sonde vandaan kom nie. Tog laat hy ons nie heeltemal in die duister oor die sonde nie.

(1) Van wanneer af sondig die duiwel? (1 Joh. 3:8. Vergelyk dit met wat oor Jesus in 1 Joh. 2:13 en 14 gesê word.)

(2) In wie se mag is die ongelowiges, oftewel die wêreld? (1 Joh. 5:19.)

(3) Wat is die houding van die wêreld teenoor die gelowiges volgens 1 Joh. 3:13?

(4) Hoe pas die antwoorde wat uit die voorafgaande verse kom, volgens jou, by die gesinsbeeld in?

Satan lê mense voor. Maar die gelowige kan vashou aan Jesus se

oorwinning oor Satan.

Johannes sê dat as ons deur ’n “geestelike” bril na die werklikheid kyk, sien ons twee “wêrelde”. Daar is die wêreld van lig en lewe, van God. En daar is die wêreld van die duisternis en dood, van Satan. (Vgl. 1 Joh. 1:5–6; 3:13–15.) Soos God ’n gesin het, het Satan ook ’n gesin. Satan se gesin was van hulle begin af gekenmerk deur sonde en haat (1 Joh. 3:13; 5:19. Vgl. ook Joh. 8:44).

’n Mens kan jou dit byna voorstel dat daar twee gesinne in ’n dorpie bly en dat die een gesin (Satan) die ander gesin so haat dat hulle alles in hulle vermoë doen om die ander gesin skade aan te doen. Hulle doen dit op allerhande agterbakse maniere, want hulle is immers baie bang vir die Pa van die ander gesin (God).

Sonde kom dus van Satan af. Hy het mense in sy mag gekry (1 Joh. 5:19) en hulle tree nou op soos hulle “heer”.

(5) Wat sê 1 Joh. 3:8 en 10, hoe kom ’n mens te wete aan watter gesin ’n persoon behoort?

Aan die lewenstyl van ’n persoon kan jy agterkom of hy of sy aan Satan of aan God se gesin behoort.

 

Tref voorsorg

Sê nou net jy sit by die werk. Iemand kom in en waarsku jou dat hy gehoor het dat ’n bende besluit het om jou op pad huis toe aan te val en te vermoor.

Wat sal jy doen?


Leef uit Christus se oorwinning

Satan het nie goeie voornemens met mense nie, dit vertel die Bybel vir ons oor en oor. Hy lê ons oral voor. Maar een ding waaraan die gelowige kan vashou, is die oorwinning van Jesus oor Satan. Kom ons kyk hoe praat Johannes oor hierdie oorwinning.

(1) Wat sê Johannes in 1 Joh. 3:8 in hierdie verband?

(2) Wie se oorwinning word dit ook? (1 Joh. 2:13–14.)

(3) Hoekom word dit ook ons oorwinning? (1 Joh. 4:4.)

Kol. 2:15 sê dat Jesus die Bose magte in sy triomftog meevoer.

Hierdie triomftog was destyds ’n tog waarin die oorwinnaar en sy mense met die verslane vyand kaal en aan kettings deur die skares van die oorwinnaar se tuisdorp gery het. Die skares kon daar sien hoe sterk die oorwinnaar is en hoe magteloos die vyand is.

Ons oorwinning oor Satan lê nie in onsself nie, maar in Jesus! As jy

in alles wat jy doen naby die Oorwinnaar bly, sal jy ook

die oorwinning smaak.

Die duiwel en sy magte kan maar net in kettings in die Oorwinnaar, Jesus, se triomftog deur die wêreld aanstrompel!

Dit maak al die paniek en vrees wat soms vir die Satanisme losbreek so ’n bietjie belaglik, veral onder gelowiges!

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt