Die Eerste Brief van Johannes (17)

Die Eerste Brief van Johannes (17) – Jan van der Watt

Deel 4: Al die verskil – in wat die gemeente doen

Hoofstuk 16: Christenskap ontplof in liefde

Wie is ’n ware Christen? Dit is iemand wie se Christenskap in liefde ontplof omdat God se liefde in sy hart ontplof het! Maar dit is nie die soort ontploffing wat stil word tussen stof en rook en dood nie…

Soos ’n persoon wat lank op ’n plek vertoef het vir oulaas weer by al die bekende plekke langs stap voordat hy vertrek, so gaan ons vir oulaas weer deur 1 Johannes “stap”.

Wat is ware Christenskap?

Johannes draai nie doekies om nie. Hy sê reguit waarom hy die brief geskryf het. Hy sit hierdie “doel” van die brief egter nie in die eerste hoofstuk van sy brief nie, maar aan die einde van sy brief. ’n Rede is omdat niemand nou sy doel kan misverstaan nie. Hy het immers in die res van die brief aan hulle verduidelik wat hy bedoel. So deur die loop van die brief moes hulle immers al agtergekom het wat hy presies vir hulle wou sê.

Waarom het hy die brief geskryf? (1 Joh. 5:13.)


Daar is twee dinge wat vir Johannes sentraal staan:

’n Christen moet seker wees van sy of haar belydenis van Wie Jesus is en wat Hy vir ons kom doen het.

’n Christen moet soos Jesus lewe, ewig lewe … en die lewe moet liefde van voor tot agter wees!

’n Christen moet seker wees van sy of haar belydenis van Wie Jesus is

en wat Hy vir ons kom doen het.

Hierdie twee sake hou direk met mekaar verband. Wie onthou dat Johannes sê die gemeente kan met ’n antieke gesin vergelyk word, verstaan ook makliker hoe hierdie dinge saamhang. Wie Jesus ken, weet dat Hy ons deur geboorte deel van God se gesin maak. Ons is dan kinders binne hierdie gesin.

Soos dit met ’n tipiese gesin van daardie tyd was, moes die kinders optree soos die Pa van hulle verwag. So kan almal hulle uitken as kinders van God.

Ware Christenskap is om deur God sy kind gemaak te word omdat jy in sy Seun glo en dan soos ’n kind van God in die wêreld te leef soos sy Seun jou geleer het om op te tree.

 

Die brief in ’n neutedop

Daar is in die loop van hierdie Bybelstudiegids aan verskillende belangrike onderwerpe aandag gegee. Die onderwerpe wat behandel is, is oor die hele brief van 1 Johannes heen versprei. As afsluiting sou dit goed wees om soos ’n arend oor die landskap van die brief te vlieg en te kyk hoe die brief opgebou is.

1 Joh. 1:1–4

Gee in jou eie woorde weer wat Johannes hier wou sê.

1 Joh. 1:5–2:11

’n Gelowige moet daarna strewe om reg te lewe.

(1) Watter verse in hierdie gedeelte verwys na die stelling hierbo en wat word verwag?

Hoewel ’n mens goed wil leef, is en bly sonde tog nog ’n realiteit. Daarvan moet ons ontslae raak!

(2) Watter verse ondersteun hierdie stelling, en hoe ondersteun dit die stelling?

Oor godsdiens moet ’n mens nie huigel nie. Jy is of ’n gelowige of nie! Iemand wat net voorgee om God te dien maar dit nie regtig doen nie, moet hom of haarself nie Christen noem nie!

(3) Watter verse vertel hiervan?

1 Joh. 2:12–17

Die gelowiges moet God liefhê en nie hulleself nie, want hulle behoort aan God!

(1) Watter verse verduidelik hoe hulle aan God behoort?

(2) Hoekom is wêreldliefde en selfliefde eintlik hier dieselfde?

1 Joh. 2:18–27

’n Christen moet soos Jesus lewe, ewig lewe … en die lewe moet

liefde van voor tot agter wees!

’n Gelowige moet God heelhartig deur sy Gees se krag dien.

Iemand wat egter nie vir Jesus as die Verlosser wil erken nie, word Jesus se vyand, die antichris, al sit hy of sy in die banke van die kerk!

(1) Watter verse bevestig die tweede stelling hierbo?

(2) Watter verse bevestig die eerste stelling hierbo, en hoe bevestig die verse dit?

1 Joh. 2:28–3:10

Deur Jesus is ons vir ewig kinders van God! Ons het geen begeerte om anders te leef of iets anders te wees nie! Ons wil God tevrede stel en glad nie sondig nie!

(1) Watter verse ondersteun die gedagte?

(2) Wat doen Jesus vir ons?

1 Joh. 3:11–18

Liefde beteken lojale selfopoffering vir jou naaste. Daarvan het Jesus ons self kom leer.

Watter verse vertel vir ons hoe die gelowige se gedrag moet lyk?

1 Joh. 3:19–24

’n Kind van God kan in ’n vrymoedige, oop verhouding met God leef.

Hoe word hierdie verhouding hier beskryf?

1 Joh. 4:1–6

Oppas vir mense wat verkeerde dinge oor Jesus sê, byvoorbeeld dat Hy nie mens geword het nie. Sulke mense is vals profete.

Wat sê Johannes van die verhouding tussen die vals profete en die gelowiges?

1 Joh. 4:7–21

God is liefde en daarom kan ’n gelowige nie anders as om ook lief te hê nie!

Waarom nie?

1 Joh. 5:1–5

’n Gelowige is ’n oorwinnaar deur geloof en liefde … omdat Jesus hulle oorwinnaars maak!

Wat word hier alles verder oor Christene gesê?

1 Joh. 5:6–13

Wie Jesus het, het die lewe. Daarvoor staan God self in!

1 Joh. 5:14–17

Bid en jy sal ontvang. Oppas vir die sonde wat jou van Jesus weghou!

Kan jy nog onthou wat Jesus oor gebed sê?

1 Joh. 5:18–21

Hoe wonderlik om die Jesus te ken—Hy wat ons teen die Bose en Satan bewaar!

Hoe sal jy die aanslae van die lewe die hoof kan bied?


Kyk weer

Kyk nou weer ’n keer na al hierdie wonderlike dinge wat Johannes vir ons in sy brief meedeel.

(1) Wat is die saak wat jou die meeste in hierdie brief getref het?

(2) As jy die kans het om twee verse aan iemand uit die brief voor te lees, watter twee sal dit wees?


Moenie die brief van 1 Johannes by jou laat verbygaan sonder dat jy die waarde daarvan deel van jou lewe gemaak het nie.

Dink oor die invloed wat hierdie Bybelstudie op jou lewe het.

Maak die gedagte vas wat vir jou die meeste uitgestaan het.

Dank die Here vir sy Woord wat ook ’n lamp vir jou voet en ’n lig vir jou pad kan wees.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt