Die Eerste Brief van Johannes (6)

Die Eerste Brief van Johannes (6) – Jan van der Watt

Deel 2: ‘n Geesvervulde lewe – in die gesin van God

Ons begin nou met die tweede deel van ons Bybelstudie.

Hoofstuk 5: ‘n Vader duisend? Duisend maal meer!

Niemand minder as God self sê dat Hy na jou sal omsien as jy sy kind is nie. Glo jy dit? Waarom is daar dan nog twyfel en vrees by jou?


 n Klein, klein wêreld … jóú wêreld?

Hoewel ons op die maan en ander planete land en met teleskope dieper die ruimte inkyk as ooit tevore, is ons wêreld geneig om al hoe kleiner te word. Hoe dan so?

Die rede is omdat ons die grense al hoe nouer om onsself as mense trek. Alleen dit wat sogenaamd bewys kan word, met die oog gesien en met die verstand uitgeredeneer kan word, glo ons regtig en is vir ons waar! Dinge wat ons nie mooi kan verstaan nie, bestaan volgens ons eintlik nie regtig nie. Ons leer ons kinders op skool dat iets alleen “wetenskaplik” en dus “waar” is as ons dit met ’n eksperiment kan bewys—en so kyk ons self na die lewe.Die gevolg is dat ons wêreld “klein” geword het—net so groot as wat ons verstand kan begryp of ons oë ver kan sien … en dit is nie so baie ver nie.


“Ons wêreld” te klein vir God

Hierdie houding van ons het egter een vernietigende gevolg: ons het God so uit ons wêreld begin uitsluit. Ons kan God nie met die verstand verklaar of met die oog sien nie. Hy is te groot daarvoor! Omdat ons egter net glo wat ons kan verklaar of kan sien, plaas ons God so buite die wêreld of realiteit wat vir ons geloofwaardig lyk.

Ons sit wel miskien in die kerk, maar ek glo nie werklik dat God my finansiële probleem sal kan oplos nie. Ek vertrou Hom nie heelhartig vir ’n besluit wat ek moet neem nie. Dit is vir my te onseker en te onverklaarbaar. Ek wil liewer die beheer in my eie hande neem… En so word my wêreld klein omdat dit sonder God is.

God se liefde is nie soos die wind wat nou waai en netnou gaan lê nie.

Ons situasies mag wissel van goed na sleg, maar die bewys van

liefde aan die kruis bly vas en seker deur al ons situasies heen.

Stel nou eers vas hoe “groot” of “klein” jou wêreld regtig is:

  1. Vertrou jy gewoonlik vir alles blindelings op God? Wat sê jou antwoord vir jou oor jou “wêreld”
  2. Hoe lyk jou gebedslewe? Bid jy byvoorbeeld met oorgawe omdat jy iets verwag?. Wat sê jou antwoord vir jou oor jou “wêreld”?

 

God is ons Vader

Ons het uit die vorige Bybelstudies gesien dat God die Vader van die Christelike gesin is. Lees weer die gedeelte oor die antieke gesin in die vorige Bybelstudie deur.

  1. Wat is die funksies van die pa volgens daardie beskrywing?

  1. Wat kan jy van God, die Vader, verwag veral as jy onthou dat Hy baie beter as ’n gewone pa is?

Wat ’n groot gedagte is dit om te dink dat God jou Vader is; Hy wil jou so naby aan Hom hê dat jy jou geestelike arms om Hom kan slaan, jou vrese in sy oor kan fluister, jou probleme met Hom kan bespreek, alles met die wete dat Hy HOOR en die beste laat gebeur. As ons Vader versorg en beskerm Hy ons immers!

Weet verseker en voel vertroos: In die geskiedenis het God sy liefde

met die bloed van Jesus aan sy kinders verklaar!

  1. Lees die vorige sin weer en word ’n minuut of wat stil terwyl jy die wonderlike gedagte oordink. Dink mooi wat dit presies vir jou beteken. Leef jy so?

 

God is liefde

As ons God wil verstaan, moet ons eers verstaan wat liefde is.

1. Wat is Goddelike liefde presies volgens 1 Joh. 4:9–10?

2. Wat is die gevolg hiervan vir jou alledaagse lewe? Byvoorbeeld: dink jy God sal sommer enigiets onnodig (pynliks) met jou laat gebeur? En indien so iets gebeur, hoe moet jy dit sien?

3. Nog ’n voorbeeld van die gevolg op Vraag 1 hierbo: Sal God jou in die steek laat? Indien iets gebeur wat jou so laat voel, hoe moet jy dit verwerk?

God het sy liefde vir jou aan die kruis bewys; sy liefde vir jou lê nie daarin dat dit net altyd met jou goed gaan volgens die manier wat jy dit sien en dat alles gebeur soos jy dit wil hê nie.

IMMERS: God se liefde is nie soos die wind wat nou waai en netnou gaan lê nie. Ons situasies mag wissel van goed na sleg, maar die bewys van liefde aan die kruis bly vas en seker deur al ons situasies heen.

WEET VERSEKER EN VOEL VERTROOS: In die geskiedenis het God sy liefde met die bloed van Jesus aan sy kinders verklaar!


God is getrou en regverdig

Is God buierig en wispelturig? Enigiemand wat iets van God af weet, sal die antwoord sommer dadelik kan gee. Nee, God is nie buierig en onvoorspelbaar nie.

Hy het wel die mag om soms die onvoorspelbare te kan doen. Kyk net hoe verslaan Hy Satan op die onwaarskynlikste plek, naamlik aan die kruis, toe Satan begin dink het dat hy ’n kans het om te wen! Soms gebruik God wel die Gideonsbende of die skaapvelletjie met die dou op.

God is nie Iemand wat sy Woord breek nie!

Soos Hy Homself aan ons openbaar het, so is Hy!

God is nie Iemand wat sy Woord breek nie! Soos Hy Homself aan ons openbaar het, so is Hy!

Juis hierdie gedagte beklemtoon Johannes met die woorde in 1 Joh. 1:9 as hy God getrou en regverdig noem. God is getrou aan Homself en sy beloftes. Hy is alles wat ons van ’n getroue en regverdige Vader kan verwag!

Dink oor die volgende paar situasies. Verduidelik elke keer jou antwoord.

As God getrou en regverdig is, wat beteken dit vir my as

1. Ek ’n troetelsonde het waarvan ek bewus is, maar nie van ontslae wil raak nie?

2. Ek gevaar loop om my werk te verloor of gebrandmerk te word omdat ek nie oneerlik wil wees in my werk soos die baas verwag nie?

3. Ek nie meer met my huweliksmaat oor die weg kan kom nie?

4. Iets vreesliks met my gebeur, soos as ek my werk verloor of ek ’n geliefde aan die dood afstaan?


Gebruik nou ’n tydjie en gee jou volle aandag aan jou liefdevolle en getroue Vader. Dink aan hoe jy sy liefde en nabyheid ervaar.

Dink aan aan wat die nabyheid en liefde van hierdie Vader elke dag vir jou in jou verskillende situasies kan beteken.

Loof die Vader vir sy wonderlike liefde vir jou. Bid vir die vrede van die liefde wat net jou hemelse Vader aan jou kan gee.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt