Die Eerste Brief van Johannes (8)

Die Eerste Brief van Johannes (8) – Jan van der Watt

Deel 2: ‘n Geesvervulde lewe – in die gesin van God

Hoofstuk 7: Vervulling met die Gees

Die landerye onderkant ’n besproeiingsdam kan alleen vrug lewer as dit water uit die dam kry. So kan ’n gelowige alleen sinvol leef deur die krag van die Gees van God wat elke gedagte, daad, beweging of gesindheid “vul”. Die gelowige is van die Gees van God afhanklik om ’n normale Christelike lewe te lei! En tog is ons ervaring en verstaan van die Gees so vaag.

  Hoe weet ek dit is die Gees?

Sê eers vir jouself duidelik hoe jy die werk van die Heilige Gees in jou verstaan deur die volgende twee vrae te beantwoord.

  1. Verduidelik hoe jy die “vervulling met die Heilige Gees” verstaan.

  1. Hoe kan ’n mens (prakties) weet dat die Heilige Gees in jou werk?

Twee-uur een nag lui die telefoon. Jy skrik jou boeglam en wonder wie siek of miskien dood is!

Toe jy optel, hoor jy ’n kerkvriendin van jou vrou. Sy val met die deur in die huis en begin jou uitvreet oor wat jy alles verkeerd doen. Sy sê die Heilige Gees het nou vir haar gesê om vir jou te sê dat jy jou moet bekeer. Jy is op pad hel toe as jy so aangaan! Kaplaks sit sy die telefoon weer neer.

Die Heilige Gees tree net binne die raamwerk van Jesus en

sy verkondiging op. En dit is die raamwerk waarvan ons in die evangelie

van Jesus Christus leer!

Jy het eers gewonder waaroor dit gaan. Toe hoor jy jou vrou het by ’n Bybelstudie ’n opmerking gemaak dat jy so besig is dat jy selfs na ure moet werk. Die vriendin het dit duidelik verkeerd vertolk. Om een of ander rede het sy gevoel sy moet jou bel en jou regsien.

Sy beweer egter dat dit die Heilige Gees is wat haar gelei het…

Die groot vraag by baie Christene is: Hoe weet jy of hoe kan jy weet of dit regtig die Heilige Gees is wat met jou praat?

Dink na oor die volgende vraag en formuleer ’n antwoord daarop:

Wanneer kan jy seker wees die Heilige Gees lei jou?

Mense sê gedurig die Heilige Gees het dit of dat vir hulle gesê, of het hulle sus of so gelei. Dikwels kry ’n mens in ’n gesprek met so ’n persoon selfs die gevoel dat God jou vergeet het, omdat dit klink of God so direk met hierdie mense praat. Wat van jou? Hoekom “hoor” jy God nie so duidelik soos hulle nie?


Die taak van die Heilige Gees

Johannes gee nogal ’n duidelike beskrywing van die taak van die Heilige Gees. Die taak word deurgaans in die lig van Jesus beskryf.

Lees die volgende gedeeltes en dui elke keer aan wat die Heilige Gees doen.

1. Joh. 14:25–26:

2. Joh. 15:26:

3. Joh. 16:13–15:

4. Gal. 1:8:

Die Heilige Gees tree net binne die raamwerk van Jesus en sy verkondiging op. En dit is die raamwerk waarvan ons in die evangelie van Jesus Christus leer!

Dit is interessant dat volgens Joh. 16:13 die Gees ook dinge gaan openbaar wat nog gaan kom, maar dat dit nie in botsing is met die verkondiging van Jesus nie!

Daarmee het die Bybel eintlik aan ons ’n belangrike sleutel gegee om vas te stel of te “toets” of die Heilige Gees by iets betrokke is of nie.

Die toets vir die Gees: As iets met die EVANGELIE VAN JESUS bots, of op punte nie daarmee ooreenstem nie, kom dit nie van die Heilige Gees nie!

 

Toets die “Gees”

In die vroeë kerk was daar ook mense wat beweer het dat hulle “deur die Gees” praat. Dat daar sulke groepe in die Johannese gemeente was, het ons alreeds in die eerste Bybelstudie gesien.

As iets met die evangelie van Jesus bots, of op punte nie daarmee

ooreenstem nie, kom dit nie van die Heilige Gees nie!

Die probleem met die bewering: “die Heilige Gees het vir my gesê,” is dat dit nie kontroleerbaar is nie. As iemand dit vir jou sê, voel jy nie dat jy eintlik met hom of haar kan stry nie. Dit mag lyk of jy die gesag van God nie wil erken nie!

Moet ’n mens iemand wat sê dat hy of sy deur die Heilige Gees praat, “toets” en indien wel, hoe? (Kyk ook weer na die deel wat hierbo bespreek is.)

Vergelyk jou antwoord met die antwoord wat jy op die vraag net na die vertelling van dié voorbeeld aan die begin gegee het.

 

Vervul met die Gees

Ons hoor dikwels dat daar gesê word dat elke gelowige die Heilige Gees in hom of haar het.

Tog is daar gelowiges wat sê dat baie mense wat hulleself Christene noem, nie eintlik weet wat die “krag” van God se Gees oftewel die “vervulling met die Heilige Gees” regtig beteken nie! Maar as ’n mens die slag “vervul” is en daardie wonderlike ervaring gehad het, is dinge vir jou nooit weer dieselfde nie.

Nou wonder ’n mens: hoe pas die bewering dat alle gelowiges die Heilige Gees het by die bewering dat ’n mens spesiaal met die Gees vervul moet word?

  1. Kan altwee die bewerings direk hierbo gelyktydig waar wees? Dink hieroor en soek ’n oplossing.

  1. Lees Joh. 14:16–17; 1 Joh. 3:24; Rom. 8:9 en 1 Kor. 12:3. Wat sê hierdie verse oor die vraag of die gelowige die Heilige Gees het?

  1. Wat sê Joh. 14:26; 16:13; Gal. 5:25 en Rom. 8:5 oor die manier waarop die Heilige Gees in ons lewe teenwoordig is en ons lewe wil beïnvloed?

Vervulling is ’n verhouding

As dit gaan oor die vervulling met die Heilige Gees, moet ons onthou dat dit gaan oor ’n verhouding wat tussen twee persone bestaan.

As jy onseker is hoe die vervulling met die Gees werk, dink daaraan

hoe ’n verhouding tussen twee persone werk. Gebruik dit dan as

voorbeeld vir die manier waarop jy die verhouding tussen die Gees

en jouself kan verstaan!

Daarom word uitdrukkings gebruik soos: ons moet ons deur die Gees laat lei of laat beheers. Dit beskryf die verhouding wat daar tussen ons en die Gees bestaan.

Die Gees is in ons. Die Gees maak soos ’n intieme vriend deel van ons lewe uit.

Die Gees wil bewustelik invloed op ons uitoefen deurdat die Gees ons wil lei of beheers.

Soos in die geval van enige verhouding is dit egter moontlik om die invloed van die ander party te ignoreer en net te doen wat jy wil. Dan bedroef so ’n persoon die ander party. Net so kan die gelowige die Gees bedroef.

Dit beteken nie dat hulle nou sonder die Gees is nie, maar dat hulle verhouding met die Gees vertroebel is. Soos in ’n gewonde verhouding moet hierdie saak reggestel word deur die verhouding te suiwer. Gaan op jou knieë en praat die probleem uit en herstel die verhouding.

Wie egter konstant bewus is van die Gees se teenwoordigheid in sy of haar lewe en sy wil en besluite geheel en al ondergeskik maak aan die leiding van die Gees, sal in alles wat gedoen word die wil van die Gees ten volle (vervuld) uitleef.

Soos in die geval van ’n gewone verhouding voel ’n mens soms nader aan die ander persoon en soms verder van hom af. Jy voel nie altyd dieselfde nie, maar dit verander nie die feit dat daar ’n verhouding tussen julle bestaan nie.

Net so met die Gees. Dit mag wees dat jy ’n besondere ervaring van die nabyheid van die Gees het en oorspoel word deur die bewustheid van sy nabyheid. Later mag die “gevoel” weg wees, maar dit beteken nie dat die Gees nou minder by jou is nie.

Die belangrike ding is dat daar by jou die begeerte moet wees om jou in gehoorsaamheid deur die Gees te laat lei. Jy moet geestelik sensitief bly vir sy teenwoordigheid en leiding in jou lewe.

As jy onseker is hoe die vervulling met die Gees werk, dink daaraan hoe ’n verhouding tussen twee persone werk. Gebruik dit dan as voorbeeld vir die manier waarop jy die verhouding tussen die Gees en jouself kan verstaan!


Dink biddend na oor jou verhouding met die Heilige Gees. Vra jouself:

Hoe is my verhouding met die Gees? Hoe bewus is ek van die Gees in my lewe? Is ek bewus van sy “stem” in my lewe?

Hoe gehoorsaam is ek aan die wil van die Gees in my lewe?

Vra dat die Gees jou lewe lei, wat beteken dat jy jou wil volledig in die hand van die Gees lê.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt