Die Eerste Brief van Johannes: Die eeste vereistes vir kinders van God – breek met die sonde (3:4-9) – Francois Malan

Geen sonde in Jesus nie (3:4-5)

Die simbool waaronder die Christelike lewe bespreek is in hoofstukke 1-2 is: ‘God is lig’ (1:5-7) en daarom moet ons in die lig lewe. Dieselfde vereistes word herhaal onder die nuwe simbool in hoofstukke 3-4: ‘God is Vader’ (3:1-3), en gelowiges is lede van sy gesin deur hulle verbondenheid aan sy Seun, Jesus Christus, en daarom moet ons lewe as kinders van God, wat nie voortgaan in die sonde nie.

Nadat 2:28-29 dit beklemtoon het dat ‘n Christen in Christus moet bly, en al meer soos Hy moet word deur soos Jesus reg te lewe, word die noue verband tussen Christus en die christen verder uitgewerk. Elke lid van God se gesin moet soos Jesus lewe (vgl. Hebr 12:1-2 ‘…met volharding hardloop, die oog gerig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof…’).

3:4 ‘elkeen wat sonde doen, doen/beoefen wetteloosheid, want sonde is wetteloosheid’ – mense lewe asof daar geen wet is nie, of: weier om die wet te onderhou, of: hulle minag alle wette. In die Griekse teks het die woorde ‘sonde’ en ‘wetteloosheid’ telkens ‘n lidwoord in 3:4-5: ‘die sonde’ as onderwerp van die sin verwys na sonde in die algemeen, en ‘die wetteloosheid’ as voorwerp van die sin wys na enige oortreding van God se wet, wat insluit die arrogante opstand teen en verwerping van God se openbaring van Homself in Christus deur die antichriste (2:22-23), en só die duiwel se wil uitvoer. In sy wese is sonde opstand teen God en ‘n oortreding van sy goeie wil vir die mensheid, ook van sy goeie reëls vir sy huisgesin.

‘wetteloosheid (anomia)’ word in die Nuwe Testament spesifiek gebruik van die boosheid wat deur die Satan geïnspireer word. 2 Ts 2:3,8 praat van die antichris as ‘die wettelose mens;’ Mt 7:22 letterlik: ‘Ek het julle nooit geken nie, gaan weg van My af julle wat wetteloosheid doen’ wat ‘n aanhaling is van Ps 6:9 (ook in Mt 13:41); In Mt 24:11-23 voorspel Jesus dat daar baie valse profete sal kom wat baie mense sal verlei, en omdat die ‘wetteloosheid’ sal toeneem, sal die liefde van die mense verkoel, maar wie volhard tot die einde toe sal gered word. In 2 Kor 6:14 vra Paulus: watter vennootskap kan daar wees tussen reg en onreg/wetteloosheid?

Teen dié agtergrond moet ‘n mens nie sonde lig opneem nie. As jy nie oppas nie, lei dit jou tot in die ryk van die Bose, die groot verleier, waarin jy verstrengel raak. ‘n Mens se dade wys aan wie hy/sy behoort. Wetteloosheid is om nie God se gebooie in ag te neem nie, en sy grootste gebod is die liefde vir Hom en vir mekaar.

3:5 Vers 4 het die aard van sonde verduidelik as ‘wetteloosheid’ – om sonder God se wet te lewe. Vers 5 konsentreer op die persoon en werk van Jesus om die mag van die sonde te breek. ‘Julle weet…’ – ‘n beroep op dit wat elke christen ten minste weet – ‘…dat Hý (met klem verwys Johannes na Jesus) verskyn het (die verlede tyd verwys na sy eerste koms na die wêreld) om die sondes (meervoud: om nie net die totaliteit van sonde aan te wys nie, maar veral die sondige dade van elke mens) weg te neem…’ (die woord airoo’wegneem’ het ook die gedagte van verwyder, vernietig). Johannes die Doper het dieselfde woord gebruik in Joh 1:29 oor die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem. In 1 Jn 2:2 is reeds gesê Hy is ‘n versoening vir ons sondes, en nie net vir ons sondes nie, maar ook vir dié van die hele wêreld. Terwyl die Evangelie van Johannes vir Jesus veral as openbaarder van God skilder, beklemtoon 1 Johannes ook dat Jesus die Verlosser is. Hier word die versoening egter nie voorop gestel nie, maar die verlossing uit die ban van die sonde. Jesus het gekom om die mag van die sonde te verbreek, die sonde se ontwikkeling te stuit, en die houvas daarvan op die gelowige te vernietig.

‘…en in Hom is daar geen sonde nie’ – in sy wese is Jesus nie teen sy Vader se wil in opstand nie, maar volkome een met die Vader. Hy is die Heilige van God, volkome aan sy Vader se wil toegewy (Jn 5:40; 8:55). Hy is die volmaakte offer vir die sondes van die mensdom (vgl. Jn 8:46: ‘wie van julle kan sonde by My aanwys?’ 2 Kor 5:21: Hy – Christus – wat nie sonde geken nie, Hom het God ter wille van ons sonde gemaak, sodat ons in Hom voor God geregverdig kon word; Hebr 4:15: ons Hoëpriester is, soos ons, in alle opsigte versoek, en dit sonder dat Hy gesondig het. 1 Petr.1:19: ons is vrygekoop met die kosbare bloed van Christus, Hy wat soos ‘n lam is, vlekloos en sonder liggaamsgebrek. Omdat Jesus sonder sonde by ons kon lewe, kan ons ook sonder sonde lewe as ons in Hom bly deur sy Gees wat in ons bly, want net Hy breek die mag van die sonde. Wie aan Jesus in geloof verbind is deur die Heilige Gees, begin ‘n nuwe lewe van liefde (3:14).

 

Skrywer:  Prof Francois Malan