Die Eerste Brief van Johannes: Die tweede vereistes vir kinders van God (3:14-17) – Francois Malan

Sonder liefde beteken die dood

3:14 Johannes benader sy stellings in 3:12-13 nou van die anderkant af, van die negatiewe kant af: wie die liefdesgebod oortree behoort aan die Bose, eerder as aan God, en lewe daarom in die duister van ‘n geestelike dood (dit ‘n uitbreiding op 2:9-11: sonder liefde bly jy in die duisternis).

‘Ons (wat aan Christus behoort, lede van die liefdesgemeenskap; staan beklemtoon voorop in die sin, teenoor die wêreldlinge) weet dat ons klaar uit die dood na die lewe oorgegaan het…’ die woord ‘oorgaan’ (metabainoo) beskryf die vertrek uit die een plek of posisie en aankoms in ‘n ander plek of posisie, wat baie anders as die oue is. Die voltooide vorm van die werkwoord onderstreep dat dit klaar gedoen is, en die gevolge duur voort: uit die ban van haat en moord, na God se ryk van liefde en lewe. Deur ons verbondenheid aan Jesus het die gelowiges deel aan God se gawe van die ewige lewe (1:2; 2:25). Deur ongehoorsaamheid aan God se bevel om lief te hê, het die persoon wat sy rug op Jesus gedraai het, homself afgesny van die Lewe, en bly reeds in die sfeer van geestelike dood (vgl. Jn 5:24)

‘omdat ons ons broers liefhet’ – Broederliefde is die bewys dat ons uit die dood na die lewe oorgegaan het, en is die toets daarvoor. Liefde is die opsomming van die gehoorsaamheid en diens wat van ‘n christen verwag word (2:5; 3:10,11). Liefde is ‘n teken en bewys dat jy die ewige lewe ontvang het, nie die grond daarvan nie. Die ewige lewe, wat ons van God ontvang, is deelname aan die liefde van God, wat Hy in ons harte gee, deur in ons te kom woon. Maar die liefde kan in dade en gesindhede gesien word, en bewys dat ons die ewige lewe reeds het. Die liefde vir ‘die broers’ (meervoud) verwys na die onderlinge liefde in die gemeente, onselfsugtige sorgende liefde. En die vorm van die werkwoord onderstreep dat die liefde konstant is.

Daarteenoor staan ‘wie nie liefhet nie, bly in die dood’ (geestelike dood). Dit gaan nie net om liefde vir die broederskap nie, maar vir alle mense. Enigeen wat nie in liefde leef nie, is nie ‘n kind van die God wat lewe gee nie.

3:15 Hier gaan dit om die mens se innerlike. ‘Elkeen wat sy broer haat, is ‘n moordenaar’ – ‘nie liefhet nie’ van v14 word hier aangewys as ‘haat.’ Hy is nog nie innerlik verander nie. Die lewe van God is nie in sy hart nie. In Mt 5:21-22 het Jesus verduidelik dat die sesde gebod se doodslaan ook haat en uitskel insluit. Alle haat het die potentiaal en kan in die praktyk tot moord oorgaan. Haat is fundamenteel ‘n miskenning van die lewe van die ander persoon.

‘en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe blywend in hom het nie’ – Jesus word in 1:2 die Ewige Lewe genoem. In 2:25 het Hy dit aan ons beloof. In 5:11 het God dit aan ons gegee as lewe deur en in gemeenskap met sy Seun. Eintlik is ‘ewige lewe’ sinoniem met Christus: 5:20: Hy ís die ware God en die ewige lewe. Daarom is haat die weiering om Christus te aanvaar as die beslissende openbaring van God se liefde vir die wêreld (Jn 3:16; 1 Jn 4:9). Die ewige lewe, as God se gawe, bly nie as ‘n voortgaande mag in die moordenaar se lewe nie.

3:16 Teenoor Kain as die simbool van haat en moord, stel Johannes Jesus as die simbool van gehoorsame liefde.

‘hieraan ken ons die liefde…’ – ‘hieraan’ verwys na Jesus se lewe en sterwe – wat die gemeentes leer ken het en in dié kennis lewe (die werkwoord ‘ken’ is in die voltooide tyd wat voortduur aandui). As jy wil weet wat liefde is, kyk na die lewe en sterwe van Jesus.

‘dat Hy sy lewe vir ons afgelê het’ – dieselfde uitdrukking word gebruik in Jn 10:11,15,17 van die Goeie Herder wat sy lewe aflê vir sy skape. In 1 Jn 2:2 is gesê dat Hy ‘n versoening vir ons sondes is (vgl. 4:10).

‘Ook ons behoort ons lewens vir ons broers af te lê’ – ‘behoort’ in die voortgaande teenwoordige tyd veronderstel dat dié soort liefde ons gewoonte behoort te wees. Die liefde moet bereid wees vir die hoogste offer. Soos haat kan lei tot moord, so mag liefde lei tot die uiterste selfopoffering. Moord neem die lewe van ‘n ander; liefde gee my lewe vir die ander (vgl. Jn 15:13: niemand het groter liefde as dit nie, dat hy sy lewe vir sy vriende aflê). Die soort liefde behoort die kenteken van die christen te wees. In 4:14 sê Johannes: die Vader het die Seun as die Redder van die wêreld gestuur – ‘die wêreld’ is wyer as slegs die broederskap.

 

Skrywer: Prof Francois Malan