Die Eerste Brief van Johannes: dinge van die wêreld Die derde vereiste om in die lig te kan lewe: verwerp wêreldsgesindheid en oorwin die bose (vervolg) (b) dinge van die wêreld (2:15-17)

In verse 12-14 was die werkwoorde in die voltooide tyd – wat God reeds aan die gelowiges gedoen het, en waarvolgens hulle nou lewe. In verse 15-17 is die werkwoorde waarskuwings wat in die teenwoordige tyd gegee word, waarvolgens hulle nie behoort  te lewe nie. Waar 12-14 telkens  in drie parallelle frases die nuwe orde bespreek, wat met Jesus se koms aangebreek het, verwys verse 15-17 in drie parallele frases  na die ou orde wat nog voortbestaan tot die wederkoms van Jesus, en die verhouding van die gelowige teenoor die voortgaande ou bedeling:

 

               ‘As iemand die wêreld liefhet, is die liefde van (en vir) die Vader nie in hom nie.’ God se gawe van sy liefde en lewe moet reg gebruik word, deur Hom lief te hê, en in sy liefde te leef in hierdie wêreld. Dit beteken dat jy liefde vir die sondige wêreld verwerp, en selfsugtige begeertes weerstaan. Liefde is nie ‘n onbeheerbare emosie nie, maar konstante toewyding van jou wil. Die mens wat die dinge van die wêreld liefkry, gee homself daaraan oor en leef volgens die norme van die wêreld, wat nie met God rekening hou nie.

 

2:16 Johannes verduidelik wat ‘al die dinge wat in die wêreld’ is, wat teen God staan:

(i)  ‘die begeerte van die vlees’ – eintlik is dit ‘n opsomming van  alles wat deur die volgende twee dinge verder verduidelik word. Die woord ‘vlees’ (sarks) word gebruik vir die natuurlike swak liggaam, asook vir die sondige gees. So is daar  goeie begeertes en slegte begeertes. Hier gaan dit om die sondige begeertes van die sondige mens, wat uitinge van sy selfsug en hoogmoed is (vgl. die lys van Gal 9-21). ‘Begeerte’ (epithumia) verwys na ‘n sterk begeerte (neutraal), maar ook om te kry wat aan iemand anders behoort, ‘n lus daarna (negatiewe betekenis). Laasgenoemde  gaan om ‘n eiewillige selfbeskikking en selfgerigtheid, los van die wil van God.   

(iii) ‘praalsug’ of  ‘grootpratery /arrogansie van die lewe’ – (lewe, bios, verwys na jou daaglikse optrede of gedrag, of na jou besittings) die dinge in die wêreld maak dat ‘n mens daarop  roem en  daarop vertrou.. Die woord  arrogansie, of pretensie verwys na iets  wat spruit uit ‘n valse  waardering van wêreldse besittings, houdings en aktiwiteite. Daarmee wil ‘n mens wys dat hy beter is as ander, en versteur só juis sy verhouding met ander (vgl. Flp 2:3-5 vir egte nederigheid).

Bose begeertes (i), en valse waardes (ii), gaan oor onheilige begeertes na dinge en posisies wat ons nie het nie, en egoïsme (iii), gaan oor onheilige trots oor prestasies of dinge wat ons het.

Johannes het verduidelik wat al die dinge van die wêreld is wat die gelowige moet vermy en nie moet  liefhê nie: selfsugtige begeertes, wat gestimuleer word deur wat die oë sien en tot uiting kom in ‘n uiterlike vertoon.

 

2:17 Die wêreld met sy dinge wat begeer word, is aan die verbygaan. Dit is die tweede rede waarom ‘n Christen nie die wêreld moet liefhê nie (die eerste rede in 2:15-16: liefde vir die wêreld en liefde vir God sluit mekaar uit). Die dinge van die wêreld het egter nie permanente waarde nie, so ook nie die begeerte na die dinge van die wêreld nie (1 Kor 7:31 sê: ‘hierdie wêreld soos ons hom ken (letterlik: die huidige vorm of voorkoms van hierdie wêreld), is aan die verbygaan.’  Daarom het dit nie blywende waarde nie. Daarom moet die Christen sy liefde vir dinge van die wêreld en sy verlange na die eer van mense aflê. Dit is deel van sy selfverloëning.

            ‘maar  hy wat God se wil doen, bly vir ewig’ – God se wil is boweal dat ons Hom sal liefhê, deur sy gebooie te gehoorsaam, en deur  steeds in liefde op te tree teenooor  alle mense met wie ek in aanraking kom (vgl. Rom 13:16 die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet). Liefde vir die wêreld kom uit die wêreld (2:16) wat aan verbygaan is. Liefde vir God kom uit God, en God is ewig, so ook die lewe wat Hy vir die gelowige gee. Omdat dit uit God is, is dit permanent, ewig. Dit behoort aan ‘n heeltemal ander dimensie as die wêreldlike lewe wat die Christen omring met verloklikhede om hom weg te lei van God se wil af, saam met eiewilligheid wat jou soos ‘n tipiese wêreldling laat optree. Daar is slegs een manier om afstand  te kan hou teenoor die wêreld se aansprake, naamlik om die wil van God te doen deur lief te hê – dit bly vir ewig en gee sin en rigting in die lewe.

Skrywer:  Prof Francois Malan