Die Eerste Brief van Johannes: Kinders van God (2:28-5:13) – Francois Malan

Die eerste hoofdeel van die brief (1:5-2:27) sê ‘God is lig – lééf in die lig!’ Jesus Christus het ons kom verlos van die bose mag van die duisternis om te leef as oorwinnaars oor sonde, die Bose, wêreldsgesindheid, en die antichris. Die tweede hoofdeel handel oor ‘Kinders van God’ en verskuif na die gelowige se kindskap van die lewende God. Die eerste deel daarvan (2:28-4:6) sê ‘God is ons Vader – lééf as kinders van God.’

  • Uit God gebore (2:28-29)

Dié twee brug-verse vorm ‘n oorgang, as die slot van die vorige gedeelte en die inleiding tot die volgende deel van die brief.

2:28 Johannes spreek sy gemeentes weer aan met die lieflingsnaam teknia ‘my geliefde kindertjies’ en herhaal wat hy in v27 gesê het: bly in Jesus – deur geloof in Hom wat in julle kom woon het deur sy Gees. Lewe in die lig van Jesus se woorde en voorbeeld! Dit word met ‘n nuwe motivering op hulle harte gedruk. Die gelowige word verplaas van die hede af na die ewige toekoms:

‘sodat ons vrymoedigheid (parresia) kan hê wanneer Hy verskyn/geopenbaar word, en nie met sy wederkoms (parousia aankoms, om teenwoordig te wees, teenwoordigheid) deur/voor Hom in skande gestel word nie.’

Let op die klankwoordspel tussen parresia (vrymoedigheid) en parousia (koms/teenwoordigheid). Dit is die enigste keer dat die woord parousia deur Johannes gebruik word.

Beskaam word voor/deur Hom, verwys na twee sake: (i) dat ons ons sal skaam om in sy teenwoordigheid te verskyn oor ‘n verkeerde lewenswyse; (ii) dat ons in die skande gestel word deur sy veroordeling van ons lewenswyse en ongeloof in Hom. Nie een van die twee sal egter gebeur as ons in Hom bly nie. Maar dié gelowige wat volhard in vertroue op Jesus en volgens sy woord lewe, sal met vreugdevolle vrymoedigheid sy Here ontmoet en in sy teenwoordigheid blom.

Die woord parousia ‘aankoms/koms’ word veral vir Jesus se tweede koms gebruik (Hebr. 9:28; vandaar die vertaling ‘wederkoms’). Die woord parousia word gebruik vir die besoek van ‘n koning aan ‘n gebied, maar die koms van Jesus, soos die koms van God se koninkryk, is dinamies en gebeur ook van dag tot dag. So het ons ook daagliks vrymoedigheid om voor God te verskyn. Maar sy wederkoms in goddelike glorie lei tot ‘n ewige vrymoedige gemeenskap met God deur Christus, met wie ons ewig verbind bly om volgens sy woord en liefde te lewe.

2:29 ‘as julle weet dat Hy regverdig is, weet julle ook dat elkeen wat doen wat reg is, uit Hom gebore is’ – omdat Jesus regverdig is, lewe die kinders van God volgens God se aanwysing in sy woord vir hulle lewe. Weereens beklemoon Johannes die belangrikheid van ‘n regte lewe as die vrug van die regte geloof.

Reeds in Deutr. 32:6 word God die Vader van Israel genoem, die Skepper wat hulle geskep/verlos het, gemaak het, hulle in die lewe gebring/bevestig/gevorm het. Jes 63:16 sê: U is tog ons vader…U, Here, is ons vader, van ouds af is u Naam: Ons Verlosser (vgl. Mal 1:6: ‘n vader wat geëer behoort te word). Ps 103:13: soos ‘n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien (vgl. Spr 3:12: soos ‘n vader wat sy geliefde kind straf). Vir die koning sê die Here: vandag het Ek jou gegenereer (Ps 2:7). Maar eintlik ken die Ou Testament nie die term wedergeboorte vir die geestelike verandering van die gelowige tot kind van God, soos die Nuwe Testament nie (1 Petr.1:3 ons is opnuut verwek/weergebore tot ‘n lewende hoop; 1 Petr 1:23: julle is immers weer gebore…uit onverganklike saad, die lewende en blywende woord van God; Titus 3:5: ons Verlosser het ons gered…deur die afwassing van die wedergeboorte en vernuwing deur die Heilige Gees (vgl. van Bo-gebore in Jn 3:3).

‘uit Hom gebore is’ – die voltooide tyd wys daarop dat God dit reeds gedoen het en dat ons daarom in Hom bly, as sy kinders, verbind aan sy Regverdige Seun, wat ons verhouding met God reggemaak het aan die kruis, sodat ons reg sal lewe voor God, met die krag van die Gees van God in ons; dat ons wêreldsgesindheid aflê (2:12-17) en die geloof behou soos die apostels verkondig het (2:18-29). Egte gelowiges kan in die lig lewe, deur die werk van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en behoort daarom so te lewe. Die woord van God en die Gees van God bly in hulle. Deur in die Vader en die Seun te bly kan die gelowige nou reeds in die lig lewe, met vertroue op die finale openbaring met die koms van Christus, die Regverdige Regter, wat elkeen wat die geregtigheid doen nou reeds in die regte verhouding met God geplaas het, omdat hulle uit God gebore is deur geloof en vertroue op Jesus.

 

So word die gedeelte, wat in 1:5-7 begin het met God wat lig is en geen duisternis in Hom nie, en dat ons daarom in die lig moet lewe, afgesluit met ons sekerheid van ons kindskap van God, wat die volgende gedeelte inlei. Die gelowige wat deur Christus aan God verbind is, moet sonde los (1:8-2:2), en gehoorsaam aan sy Vader lewe (2:3-11).

 

Skrywer:  Prof Francois Malan