Die Eerste Brief van Johannes: Bly in Jesus Die vierde vereiste om in die lig te kan lewe – behou die geloof (vervolg). (d) Bly in Jesus (2:27) – Francois Malan

2:27     Getroue gelowiges het ‘die salwing’ van Jesus ontvang. Die salwing dui op die inwyding in die gesin van God deur die ontvangs van die Heilige Gees wat in die gelowige kom woon het, wat hom/haar deur die woord van God wat Jesus verkondig het, oortuig van God se wonderlike verlossing deur sy Seun, en hom/haar daagliks lei met die woord van God wat in hom/haar bly (2:24).

Die gelowige is deur Christus gesalf met die Heilige Gees en die woord van God wat in die gelowige kom bly het – God self het met sy woord in die gelowige kom bly om ons te lei om volgens God se woord en wil te lewe, ondersteun deur die krag van die Gees (vgl. Jer 31:33: ‘Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagtes vaslê. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees; Jn 17:14: Ek het u woord aan hulle gegee; Jn 14:17: die Heilige Gees bly by julle en sal in julle wees). Omdat die salwing met die Gees en die woord in ons bly, moet ons in die Gees en die woord bly, daarin volhardend lewe.

Johannes se stelling ‘julle het niemand anders nodig om julle te leer nie’ is waarskynlik gerig teen die ‘verligte’ dwalendes wat dink dat hulle alles weet. Daarteenoor sê Johannes dat die gelowiges wat die salwing het (nl. die woord van God en die Gees van God in hulle), eintlik die persone is wat die basiese geestelike onderrig het wat nodig is vir hulle toewyding aan die waarheid van God. In Jn 6:45 haal Jesus Jes 54:13 aan: al jou kinders/inwoners sal leerlinge van die Here wees; die Griekse vertaling, die Septuaginta: al jou kinders sal deur God geleer wees.

‘en sy salwing leer julle oor alles’ – Jesus het julle gesalf met die woord en die Gees – Jn 14:26: die Heilige Gees sal julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek gesê het; Jn 16:1:3: die Gees van die waarheid sal julle in die hele waarheid lei.

‘en dit is die waarheid en geen leuen nie’ – die gelowige wat deur Heilige Gees ingelei is in die woord van God, kan die geloof behou want hy/sy ken die waarheid (1 Jn 2:21) – teenoor die dwalendes wat valsheid versprei (2:22)..

‘soos Hy julle geleer het, moet julle in Hom bly’ – soos wat Jesus sy volgelinge geleer het, so moet hulle in Hom bly lewe; Jn 15:4-7: ‘julle moet in My bly en Ek in julle….wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie…as julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry.’ Soos Jesus hulle tydens sy aardse lewe geleer het, en die dissipels sy woorde in die Bybel opgeteken het, so leer die Heilige Gees ons tans deur die woord wat in die Bybel opgeteken is. Daarvolgens moet ons in ‘n persoonlike verhouding met God lewe, bewus dat ons voor sy aangesig lewe en dat Hy in ons kom woon het om ons te help en te lei. Om in Christus te bly beteken dat ons met selfverloëning saam met Hom gesterwe het vir die sonde, en saam met Hom opgestaan het, nee sê vir sonde en lewe vir God en ons medemens (vgl. Rom 6:16-19).

Vier redes word hier aangegee waarom ons deur geloof in Jesus moet bly:

i       ons het ‘n geestelike ‘salwing’ van God ontvang met sy woord, wat Jesus gebring het, en God op ons harte geskryf het deur die Heilige Gees, wat in ons kom woon het.

ii     die ‘salwing’ met die woord en die Gees leer ons alles wat ons nodig het.

iii    die salwing waarborg die waarheid van die lering: woorde wat van God, deur Jesus en die Gees kom.

iv    Jesus het self gesê ons moet in Hom bly – in ‘n persoonlike liefdesverhouding aan Hom toegewy.

Daarom moet gelowiges hulle nie laat verlei om die gemeenskap van gelowiges te verlaat en die bande met Christus te verbreek nie. Die Gees lei nie sonder die woord nie, en die woord is kragteloos sonder die werking van die Gees. Alles dring ons om in gemeenskap met Christus Jesus te bly lewe.

Skrywer: Prof Francois Malan