Die evangelie begin met ‘n belofte (1)

 

There is no absolute independence for man, our nature requires us to serve some master – J. Denney

 

Die evangelie begin met ‘n belofte (1)

Die mens het diep behoeftes. Ons is bewus daarvan dat ons hunker na dinge wat ons net nie op ons eie kan kry nie. Ons wil aan iets buite onsself verbind wees. Ons wil weet waarom ons bestaan. Hierdie behoeftes en verlangens staan sentraal in die storie van die Bybel. Die evangelie begin met ‘n belofte wat die diepste menslike behoefte hanteer. Waar verhoudings stukkend is, bring die evangelie herstel.

 

God het dus ‘n plan om hierdie verhouding te herstel. Hy doen dit deur sy verbonde. Kom ons kyk na ‘n paar.

 

Die verbond met Abraham

Die evangelie begin nie in Matteus 1:1 nie. Baie eeue vantevore het God ‘n belofte aan Abraham gemaak – hy sal die vader van ‘n spesiale groep mense wees. Ons lees daarvan in Genesis 12:1 – 3. Waarskynlik die grootste van God se beloftes aan Abraham was dat Hy deur hom sy seëninge na al die nasies sal versprei. Die konteks van hierdie belofte is belangrik. In Genesis 1 – 11 sien ons dat die mensdom sy eie pad loop – voortdurend van sy Skepper afdwaal. Die mens, soos vandag nog, het die neiging om sy rug op God te keer en sy eie belange na te jaag. Die verhaal is van God se standvastige liefde vir die mens. God se liefde is die kern van die evangelie.

 

Uit die verbond met Abraham vloei die storie van Israel. God se program is aan hierdie mense geopenbaar. Hulle was die draers van God se belofte en openbaring. Hulle word ‘n nasie geroep om God te eer.

 

God se verbond met Dawid

Israel het na ‘n koning verlang – soos die ander nasies gehad het. God was nie goed genoeg vir hulle nie. God gaan ‘n verbond met Dawid, die tweede koning van Israel, aan (2 Samuel 7:8 – 16). Hierdie koningslyn wat nou tot stand gekom het, het ‘n spesiale verhouding met God gehad as sy verteenwoordiger. Ek sal vir hom ‘n vader wees en hy sal vir My ‘n seun wees (2 Samuel 7:14). Hier kom die hoop van ‘n unieke koning – die soort heerser wat God begeer. Hieruit kom die hoop van die Messias – ‘n koning wat vrede sou bring en geregtigheid in ooreenstemming met God se beloftes aan Abraham sou vestig.

 

Die meeste van Israel se konings het misluk – hulle het nie God se ideale bereik nie. Hulle volg hulle eie koppe. Uiteindelik oordeel God die volk – oorlog en ballingskap. In hierdie konteks belowe God ‘n nuwe verbond. Volgende keer kyk ons na hierdie nuwe verbond.