Die evangelie begin met ‘n belofte (2)

 

We are faced with this tremendous alternative of making ourselves weapons in the hand of God or weapons in the hand of sin – Barclay

 

Die evangelie begin met ‘n belofte (2)

In die vorige blog het ons na God se verbonde met Abraham en Dawid gekyk.

Die nuwe verbond

Daar kom ‘n tyd, sê die Here, dat Ek met Israel en Juda ‘n nuwe verbond sal sluit … Dit is die verbond wat Ek in die toekoms met Israel sal sluit, sê die Here: Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees. ‘n Man sal nie meer vir sy buurman of broer voorhou: “Jy moet die Here dien” nie, want almal sal My dien, klein en groot, sê die here. Ek sal hulle oortredings vergewe en nie meer aan hulle sondes dink nie (Jeremia 31:31 – 34)

 

Twee belangrike bestanddele kom na vore:

  • Daar sal vergifnis van sonde wees. Vergifnis staan nooit alleen nie – dit is ontwerp om die verhouding met God te herstel.
  • God se wet sal op mense se harte geskrywe wees. Die lang geskiedenis van afvalligheid bewys dat mense nie die verbond kon onderhou nie. Hulle het God se teenwoordigheid en krag in hulleself nodig.

 

Luister na wat God deur Esegiël sê:

Ek sal reinigingswater oor julle uitgooi sodat julle rein kan word. Ek sal julle reinig van al julle onreinheid en van al julle afgodery. Ek sal julle ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ‘n hart van vleis gee. Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom (36:25 – 27).

‘n Nuwe hart en ‘n nuwe Gees; ‘n nuwe begin. As God se mense sy wet gaan gehoorsaam, sal dit nie wees omdat hulle harder probeer nie, maar omdat God se Gees in hulle woon.

 

Agter die evangelie staan die belofte van drie verbonde. Dit is in werklikheid een belofte: God gaan mense vorm wat God se beloftes en seëninge in ‘n wêreld vol beloftes sal weerspieël. Hierdie drie verbonde vorm die ruggraat van die evangelie. God gaan ‘n volk vorm waardeur die mensdom geseën sal word; Hy sal dit doen deur die beloofde Messias. Daardie koning bring twee dinge wat die wêreld desperaat nodig het: vergifnis van sonde en ‘n herstelde verhouding met die lewende God.