Die evangelie keer die wêreld se waardes onderstebo

 

Each of us is an innkeeper who decides if there is room for Jesus. – Neal A.Maxwell

 

Die evangelie keer die wêreld se waardes onderstebo

Ons leef vandag in ‘n individualistiese kultuur waarin jy jouself bevorder deur jou grade en rykdom en prestasies. Matteus het in ‘n kommunale, familie-georiënteerde samelewing gewoon. Jesus se geslagsregister is in werklikheid ‘n getuigskrif. Destyds was dit jou familie en stam – die mense aan wie jy verbind was – wat jou getuigskrif was. Die geslagsregister was ‘n manier om vir die wêreld te sê: “Dit is wie ek is.”

 

Destyds het mense, soos vandag steeds, met hulle getuigskrifte gepeuter. Hulle het dele wat nie so goed lyk nie, uitgelaat. Die doel van die geslagsregister was om mense te beïndruk met jou wortels. Maar Jesus se geslagsregister skok ons. Daar is vyf vrouens in die geslagsregister – skokkend. In die patriargale sisteem van destyds is vroue feitlik nooit in sulke lyste genoem nie. Nog erger – drie van die vroue – Tamar, Rut en Ragab – was nie Jode nie. Hierdie volke was onrein en in nie eers op die tempelterrein toegelaat nie.

 

Nog erger: hierdie vroue herinner ons aan van die mees onsedelike insidente in die Bybel. Tamar het haar skoonpa verneuk om by haar te slaap. Sy word swanger en sy en haar seuns verskyn in Jesus se geslagsregister. Ragab was nie net ’n Kanaäniet nie, maar ook ’n prostituut. En dan is daar Dawid. Ons sou hom darem graag in ons geslagsregister wil hê. Maar Matteus sê: Dawid was die vader van Salomo by die vrou van Urija. Sy was natuurlik Batseba – nog ‘n tragiese verhaal. Hier het ons dus morele buitestanders – prostitute, owerspeliges – sowel as kulturele en etniese buitestanders. Maar hulle word in die openbaar beskryf as Jesus se voorgeslag.

 

Wat leer ons hieruit?

  • Mense wat as gevolg van kultuur, ras en selfs die wet uitgesluit is, kan deel van God se familie word. As jy in Jesus Christus glo, sal die genade van Jesus jou sonde bedek en jou met Hom verenig.
  • Daar is niemand, selfs nie die grootste gelowige, wat nie die genade van Jesus Christus nodig het nie.
  • Daar is niemand, selfs die slegste mens, wat nie Jesus Christus se genade sal ontvang as hy hom net bekeer en glo nie.

Hier sien ons dat verlore mense aanvaar word en dat Christus hulle liefhet. God is nie skaam vir ons nie – ons is almal deel van sy familie. Jesus se waardes verskil radikaal van ons waardes.

Om hierdie rede is Jesus nie skaam om hulle sy broers te noem nie (Hebreërs 2:11).