Die Evangelie volgens Lukas: Die bespotting van Jesus (Luk 22:63-65) – Francois Malan

Lukas plaas die bespotting van Jesus voor die offisiële vergadering van die Sanhedrin, tydens die onwettige nagtelike vergadering in die hoëpriester se ampswoning.

 Johannes 18:13,24 sê dat hulle Jesus eers na Annas toe geneem het en daar sy verhoor gehou het (moontlik het Annas in die ampwoning aangebly nadat hy afgesit is as hoëpriester). Markus 14:53-65 en Mattheus 26:57-68 plaas Jesus se hele verhoor en mishandeling ook tydens die onwettige vergadering van die Sanhedrin in die nag. Johannes 18:22 noem slegs die klap wat een van die tempelwagte Jesus gegee het.

 Lukas verwys na die spot wat hulle met Hom gedryf het, Hom geslaan het en baie ander beledigende dinge bygevoeg het by hulle bespotting van sy profete-amp: hulle het Hom geblinddoek en vir Hom gesê: ‘Profeteer, wie is dit wat jou geslaan het?’ So maak hulle sy aanspraak dat Hy die boodskapper van God is, belaglik. Vir hulle is Hy ’n belaglike profeet, met wie ’n mens ongestraf kan speel, want Hy gaan tog doodgemaak word. So regeer die duisternis in die Jode en hulle leiers se uur van haat teenoor Jesus en sy boodskap (Luk 22:53).

 Markus 14:65 voeg by dat hulle minagtend op Hom gespoeg het (vgl. Jes 50:6; Matt 26:67 hulle het Hom in sy gesig gespoeg). In Mattheus 26:68 word Hy ook minagtend uitgeskel as ‘Christus, profeteer vir ons, wie is dit wat jou geslaan het?’ So word sy profete-amp bespot en verwerp as die Messias wat hulle verwag het, die gesalfde koning wat hulle uit die hand van die Romeine sou verlos.

 Die offisiële verhoor voor die Sanhedrin (Luk 22:66-71)

 22:66 Toe die dag breek kon die Sanhedrin wettig byeenkom. Die Sanhedrin was die hoogste hof van die Jode wat bestaan het uit 70 lede plus die hoëpriester as voorsitter. Daarop dien Sadduseērpriesters,  die familiehoofde van die volk en die Fariseërskrifkenners. Die tempelwag lei Jesus van die hoëpriester se ampswoning na die raadsaal in die tempelgebied vir die offisiële sitting van die Sanhedrin. Lukas het ’n kort beskrywing van die vrae voor die offisiële vergadering.

 Markus, Mattheus en Johannes beskryf die ondervraging en skuldigbevinding van Jesus by die nagtelike vergadering, Lukas nie. Johannes 18:24 sê slegs: ‘Annas het Hom toe geboeid na die hoëpriester Kajafas weggestuur’  sonder melding van die raadsbesluit. Markus 15:1 sê: ‘En dadelik, vroeg die oggend het die hele Sanhedrin’n plan beraam. Mattheus 27:1: teen dagbreek het hulle ’n besluit geneem om Hom dood te maak.

 22:67 Die Raad ondervra Jesus oor sy Messiasskap: ‘As jy die Christus is, sê dit vir ons.’ Hulle wil Hom by die goewerneur aankla as iemand wat vir die Romeinse regering ’n polities gevaarlike aanspraakmaker is op die kroon (Luk 23:2). So het Herodes die Grote destyds met Jesus se geboorte ook gereken (Matt 2:16). Daarop antwoord Jesus egter nie, want Hy is nie die soort Messias wat hulle verwag nie. Hulle verstaan nie sy goddelike Koningskap nie, en sal dit beslis nie glo nie. Hulle sal nie glo dat die geboeide en vernielde Jesus voor hulle, die Seun van die Mens is wat vir ewig sal regeer oor al die volke, nasies  en taalgroepe, soos Daniël 7:14 in sy nagtelike visioen gesien het nie.

 As die Seun van die Mens, het Hy na Homself verwys voor die leiers in Getsemane (Luk 22:48); ook dat Hy die Seun van Dawid van Ps 110:1 is, vir wie Dawid sy Here noem (Luk 20:41-44). Nee, hulle vraag oor sy Messiasskap gaan nie om in Hom te glo nie, maar om ’n aanklag teen Hom te formuleer vir voorlegging aan Pilatus. Hulle wil Hom dood hê (Luk 19:47; 22:2), en slegs die Romeinse goewerneur het die reg om iemand tot die dood te veroordeel.

 22:68 ’n Diskussie oor sy Messiasskap is doelloos omdat hulle nie die voorveronderstelling verstaan vanwaar Jesus se vraag sou kom nie. ’n Gesprek tussen Hom en hulle oor die Ou Testament se beloftes oor die Gesalfde van die Here is nie meer moontlik nie, want hulle en veral hulle skrifkenners verstaan dit heeltemal anders as Hy.

 22:69 Hulle is egter die werktuie van sy verhoging tot Messias. As die Seun van die Mens sal Hy van nou af aan die regterhand van God sit. Volgens God se geheimenisvolle raadsplan vir die verlossing van die mens se sonde is juis ‘hulle tyd.’ Hulle tyd van die duistere mag van haat (Luk 22:53)  is juis die voorbereiding vir ‘Jesus se tyd.’ Jesus se tyd is die tyd van sy liefdesmag aan God se regterhand (vgl. Luk 12:50 ‘Ek het ’n doop waarmee Ek gedoop moet word, en hoe word Ek beperk totdat dit volbring word’). So word Daniël 12:14 se belofte vervul, en is Hy die regeerder en regter oor alle mense. Die Sanhedrin dink hulle sit as sy regters, maar in waarheid is die rolle omgekeer. Hy is die Regter en van nou af is hulle en die hele Joodse volk onder verhoor voor die hemelse regbank. Dit is dan sy antwoord op hulle vraag oor sy Messiasskap. Hy is God se Gesalfde om as regeerder oor die skepping aan die regterhand van God te sit. Sy dood is sy salwing as Koning wat in geregtigheid regeer, as Priester wat Homself in liefde offer vir die wêreld, en as Profeet wat God se liefde verkondig

 22:70  Toe Jesus weier om ’n politieke antwoord oor sy Messiasskap te gee, soos hulle dit uit sy mond soek om Hom te kan aankla, vra hulle oor sy Seunskap van God. Almal van hulle vra tegelyk: ‘Is jy dan die Seun van God?’ Die Romeinse denarius met die kop van keiser Tiberius daarop het die onderskrif: ‘Tiberius, Keiser, Augustus, seun van die goddelike Augustus’ (vgl. by Luk 20:24). So beskou die Egiptenaars en die Babeloniërs ook hulle faraos of konings as die seuns van God. Die Jode vra of Jesus dan so ‘n politieke seun van God is, wat die keiser van Rome wil vervang? Dan sou hulle Hom daarop voor Pilatus kan gaan aankla (vgl. die leuen waaroor hulle Hom by Pilatus aangekla het deur sy woorde in Luk 20:24 voor Pilatus te verdraai in Luk 23:2).

 Volgens Mattheus 26:65-66 beskou die Sanhedrin Jesus blykbaar as ’n godslasteraar volgens tekste soos Deuterononium 13:8 wat beveel dat ’n profeet wat jou nooi om ander gode te dien wat jy nie vroeër gedien het nie, doodgemaak moet word; en Deutr 18:19 ‘’n Profeet wat hom dit aanmatig om in my Naam iets te sê wat Ek hom nie beveel het nie, moet sterf.’ Lukas konsentreer op die aanklag wat hulle aan Pilatus gaan voorlê.

 Jesus antwoord op hulle vraag: ‘Júlle sê dat Ek is,’ met klem op die ‘julle.’ Dit is ’n erkening dat Hy die ‘Ek is,’ die  Jahweh van Eksodus 3:14-15, is, wat Hom aan Moses geopenbaar het as die Verlosser van Israel uit hulle slawerny in Egipte. Hy is nie soos die Sanhedrin ‘seun van god’ wil verstaan as ’n politieke verklaring of as ’n godslasterlike uitspraak nie. Hy is die Seun van God wat in Ps 2:7 van die koning gesê word en in Jesus vervul word, waar die Here aangekondig het: ‘Jy is my seun.’  Jesus vervul wat in Ps 89:27 van Dawid gesê word, dat hy die Here sal aanroep met die woorde ‘U is my Vader.’ Jesus vervul die Here se belofte aan Dawid in 2 Sam 7:13-14  ‘Ek sal sy koningskap vir altyd laat voortbestaan. Ek sal vir hom ’n vader wees en hy sal vir My ’n seun wees.’ Maar boweal is Hy die Seun van God wat aan die regterhand van God gaan sit na sy hemelvaart.

 22:71 Jesus se antwoord is vir die Sanhedrin genoeg. Geen verdere getuienis teen Hom is nodig nie. In hulle oë het Jesus  self  ’n aanmatigende uitspraak gemaak, waarop hulle Hom godsdienstig kan veroordeel en ook aan Pilatus kan oorgee. Lukas vertel nie dat hulle ’n besluit geneem het nie, soos bv. Mark 14:63-65 en Matt 26:65-66 nie. Die godsdienstige rede vir sy skuldigbevinding is sy aanmatigende uitspraak dat Hy die Seun van God is. Die politieke aanklag teen Hom voor Pilatus is dat Hy ’n teenstander seun-van-god soos die keiser is, wat opstand teen die keiser onder die mense verkondig.