Die Evangelie volgens Lukas: Die eise van dissipelskap (Luk 14:25-33) – Francois Malan

Na die inleiding volg twee uitsprake oor die eise om Jesus waarlik te kan volg. (14:26-27). Dit word gevolg deur twee gelykenisse om jouself op die proef te stel of jy vir die eise geskik is, met ’n toringbouer en ’n koning wat optrek in ’n oorlog as voorbeelde (14:28-33).

14:25 Na die maal by die Fariseër se huis en die gelykenis van die feesmaal waarheen die mense op straat later genooi word omdat die eerste genooides gevra het om verskoon te word, word hier gesê dat groot skares mense saam met Jesus gereis het. Die skare Galileërs volg Hom met entoesiasme waar Hy gaan (vgl. bv. 11:14, 27,29; 12:1,13,54; 13:14,16). Hulle bly by Hom, maar dit is met ’n entoesiasme wat Hom nie goed verstaan nie. Hulle dink dit is die triomftog van die Messias na Jerusalem, en wil sy kroning sien, hom besing en deel wees van sy heerlikheid.

14:26 Met meedoënlose eerlikheid ontnugter Jesus hulle. In Jerusalem wag daar vir Hom ’n veeleisende en gevaarlike taak. Daarvoor het Jesus nie entoesiastiese toeskouers nodig nie, maar volgelinge met onverdeelde lojaliteit en getrouheid aan Hom. Vir die skare volgelinge sê Jesus: ‘as iemand na My toe kom en My nie meer liefhet (die 1983-vertaling van die woord ‘haat’;  letterlik staan daar ‘en hy haat nie sy pa, ens…nie’ miseō om te haat  of te verafsku is om ’n sterk afkeer te hê; dit impliseer teensin en vyandskap; vgl. Luk 16:13 sonder om rekening te hou met iemand, teenoor ‘voorkeur gee’ aan iemand of iets). Jesus se woord vra dat sy volgeling alles eenkant toe skuif vir die binding aan Hom; Lukas noem al die persoonlike gesinsbindinge waarin ‘n mens staan (vgl. ook Mat 10:37). Lukas voeg by ‘ja, selfs sy eie lewe’ (vgl. jouself verloën, Luk 9:23; Joh 12:25) – dit alles moet nie mee rekening gehou word as jy Jesus volg nie. Dit was reeds die veronderstelling in Luk 12:51-53 oor die verdeeldheid in die gesin oor Jesus. Jesus bedoel nie dat jy jou vader of moeder nie sal liefhê nie (Luk 18:20,22). Jou binding aan Jesus is egter aan jou Here en Meester, wat die seggenskap kry oor jou lewe. Alle bindings waarin ’n Christusgelowige staan kry eers sin vanuit sy verhouding met sy Here (vgl. Luk 8:20). Jesus stel dit egter op ’n skokkende wyse om die skare tot selfondersoek te skok, met die woord ‘haat,’ wat nie letterlik opgeneem moet word nie. Die semitiese denke gebruik uiterstes: lig-duisternis; waar-vals; liefde-haat, sonder grys gebiede tussenin. Hulle sal nie sê ek verkies dit bo dat nie, maar ek hou van dit en haat dat (vgl. Gen 29:30; Deutr 21:15). In Luk 6:27 het Jesus reeds gesê: julle moet julle vyande liefhê. Maar toewyding aan Jesus kan nie anders wees as heelhartig nie. Vir volgelinge van Jesus om hulle families te haat beteken om aan hulle die tweede plek toe te ken in jou keuses.

14:27 Die tweede uitspraak se tweede vereiste, om jou kruis te dra, is ook nie so duidelik nie. In Galilea was kruisiging ’bekend as die Romeine se metode om politieke agitators tereg te stel. Het Jesus dit gebruik as ’n simbool vir lyding, buitensporige marteling en vernedering, en selfs die dood waarvoor sy volgelinge bereid moet wees?  In Luk 9:23  het Jesus gesê: As iemand My wil navolg moet hy homself verloën en elke dag sy kruis opneem en My volg, waaruit blyk dat kruis dra verwys na die uiterste selfverloëning wat daagliks om elke draai in die pad nodig is vir ’n Christusvolgeling, om selfs bereid te wees tot ’n wrede dood. Die uitspraak van Jesus is ook ’n voorbereiding vir die skare en vir sy dissipels oor wat werklik met Hom gaan gebeur wanneer hulle in Jerusalem kom.

14:28-30 Die eerste gelykenis waarmee Jesus sy waarskuwings verduidelik, verwys na ‘n toringbouer; waarskynlik na  ’n wynboer langs die skare se reis na Jerusalem, wat ’n toring in sy wingerd wil bou as wagtoring waaruit voëls en wilde diere betyds gesien kan word, soos in Mat 21:33, of ’n uitkyktoring op die stadsmuur of in die stad soos in Luk 13:4. As hy nie vooraf ’n berekening van die koste gaan maak nie, kan hy hom tot die spot van die mense maak wat altyd teen slegs ’n fondament of ’n halfgeboude gebou vaskyk. Om Jesus te volg moet jy die koste bereken, of jy wel bereid is om jou geheel en al aan Hom oor te gee as jou God. As daar van die skare droom oor wat die koninkryk vir hulleself kan beteken saam met die verwagte Messias, kan hulle wreed ontnugter word. Daarmee wil Jesus nie mense afskrik om sy volgelinge te word nie, maar Hy waarsku die entoesiastiese skare dat die keuse om Hom te volg die belangrikste besluit van hulle lewe is. Niemand kan op ’n vloedgolf van emosie en verkeerde verwagtings in die koninkryk van God ingaan nie. Jy moet met ernstige oorweging en oop oë deur geloof in Jesus bereid wees om jou daarin te laat opneem (soos Maria se reaksie na haar vrae aan die engel ‘Kyk, ek is die diensmeisie van die Here. Laat met my gebeur soos u gesê het’).

14:31-32 Ná die kleinboer, verskuif die tweede gelykenis na die groot koning wat wil optrek teen ’n ander koning om sy gebied teen die invaller te beskerm. As hy die saak goed bekyk en vind dat sy 10 000 man nie opgewasse is teen die ander koning se 20 000 nie, gaan vra hy vrede, soos koning Toï van Hamat (2 Sam 8:8-10;), die Gibeoniete (Jos 9:3-6) en vergelyk Jesus se raad in Luk 12:58. Die toringbouer het ’n eie keuse om te bou of nie. Die koning word egter bedreig deur die vyande wat teen hom optrek. In die eerste gelykenis sê Jesus: gaan sit en bereken of jy dit kan bekostig om My te volg. In die tweede geval sê Jesus: sit en bereken of jy dit kan bekostig om my eise te weier.

14:33 Die twee gelykenisse waarsku teen ondeurdagte intrede in die volgelingskap van Jesus, soos in Luk 9:57-62. Dit word saamgevat in die bereidheid om af te sien van al jou eie besittings, soos aan die ryk jongman gestel is (Mark 10:21). Die woord  hupargō wat vir besittings gebruik word is ’n omvattende term wat verwys na iets wat aan jou behoort of wat jy het, en sluit jou familie,  jou aardse besittings, talente,  jouself,  jou  begeertes, planne, ideale, jou hele menswees in.  Dit alles, die hele jy behoort eintlik aan God, jou Skepper en Onderhouer(vgl. Mat 13:45-46). Dit vra dat jy aan God toegewy sal lewe as volgeling van Jesus wat in alles aan sy Vader behoort en tot die dood aan die kruis vir al die sonde van die wêreld die Vader se wil volbring (Luk 22:42).

 

Goeie en Smaaklose sout (Luk 14:34-35)

Jesus se volgelinge word geroep om die sout van die samelewing te wees, wat bewaar en smaak gee. Sout is goed. In die kombuis of op die kalkgrond is daar egter nie plek vir smakelose sout nie. Dit word in die straat uitgegooi saam met die ander vullis. So is daar nie plek vir Jesusvolgelinge wat nie die eienskappe van ’n dissipel het nie. Die Dooie See wat geen water deurgee nie, is so sout dat dit onbruikbaar geword het, sonder enige plant of vis wat daarin lewe. Die sout wat die Jode uit die Dooie See gehaal het, was vol onsuiwerhede en het gou sleg geword. So ook ’n christen wat dit wat hy/sy het vir hom/haarself hou sonder om ander se nood te sien. Die volgeling wat by Jesus bly en sy woord gehoorsaam uitlewe, word ’n seën vir die samelewing waarin hy/sy lewe.

Wie ore het om te luister na wat Jesus sê, sal doen wat Hy sê deur selfverloëning en toewyding aan God en medemens.