Die Evangelie volgens Lukas: Die geboorte van Jesus (Luk 2:1-7) – Francois Malan

2:1-3 Keiser Augustus regeer vanuit Rome oor die hele Romeinse ryk van 40 v.C. tot 14 n.C.. Sirenius was die keiser se verteenwoordiger in die groter provinsie Sirië waaronder Palestina geval het (Herodus die Grote wat die seuntjies van Betlehem na Jesus se geboorte laat doodmaak het, regeer as koning oor die hele Palestina van 37-4 v.C.). Die registrasie van die hele ryk het waarskynlik in 7 v.C. plaasgevind (destyds is die jaartalle aangegee volgens die keisers se regeringsjare. Die Ab Dionisius Exiguus het in 525 n.C., in opdrag van die pous, die vleeswording van die Here as die jaar 1 bereken, wat volgens die Romeinse kalender 754 na die stigting van Rome sou val. Maar die geboorte van Jesus stel hy waarskynlik 6 jaar te laat en reken nie met ’n jaar 0 nie. Sodat Jesus moontlik in die jaar 7v.C. gebore is, toe daar konjunksies van die koningsplaneet Jupiter en die Joodse volk se planeet Saturnus was).

Lukas gebruik nie die keiser se naam Oktavianus nie, maar sy erebynaam, Augustus ‘die verhewene,’ wat ’n einde gebring het aan die jarelange interne oorloë in die Romeinse Ryk, en die Pax Romana bewerk het met sy wyse, opbouende en vredevolle regering. Hy het paaie laat bou, waterleidings en brûe, die verspreiding van koring na almal gereël, tempels herstel, gebou en versier, met ’n bekwame staatsdiens. Hy het self in ’n gewone huis sonder verkwisting geleef, en uit sy groot geërfde rykdom sy soldate se salaris en pensioen betaal. Aangesien dit die eerste registrasie van die hele ryk is, was dit ’n ongewone gebeurtenis vir die bevolking. Mans, vroue en slawe moes geregistreer word, sowel as hulle grondbesit. Daarvolgens is o.a. die belasting van die Ryk bepaal (vgl. Hand 5:37 vir die tweede sensus in 6 n.C.).

Lukas wys hoe die Here nie net vir Sagaria en Elisabet en Maria gebruik in sy groot verlossingsplan vir die wêreld nie, maar ook die Romeinse keiser en sy verteenwoordiger, om te sorg dat sy woord wat 700 jaar v.C. uitgespreek is volgens Miga 5:1, vervul word (vgl. Mat 2:5-6 vir Betlehem, die geboortestad van Dawid, 1 Sam 16:1). Die veilige lande en reise het die pad vir die vroeë verspreiding van die evangelie oopgemaak.

Volgens die Joodse gebruik (en in Egipte) word die sensus nie op die plek van verblyf aangeteken nie, maar by die familieplek van geboorte (vgl. die Ou Testament se toekenning van grondgebiede aan die 12 stamme, in Josua 13-22).

2:4-5 Josef is uit die huis en nageslag van Dawid wat 1,000 jaar tevore in Betlehem gebore is. Daarom moet Josef hom in Betlehem laat registreer, en hy neem die swanger Maria, wat aan hom beloof is vir ‘n huwelik – sy verloofde – saam. Josef gaan na Betlehem uit gehoorsaamheid aan die keiser se opdrag (die Selote het geweier om geregistreer te word as Romeinse onderdane). Maria is gehoorsaam aan haar verloofde, en deur haar verlowing is sy familie van Josef en sy voorvader Dawid, sodat sy ook na Betlehem moes gaan.

2:6-7 Vir die geboorte van Maria se kind kry Josef ’n stal waar diere slaap, met ’n fatne wat die groter voerbak kan wees waar voer gebêre word of die kleiner krip/trog waaruit die diere eet. Die rede wat aangegee word is dat daar geen plek vir hulle was in die kataluma nie. Die woord kataluma word gebruik vir ’n reisigerskaravaanherberg waar gewoonlik  slegs ’n gemeenskaplike slaapsaal was (vgl. Eks 4:24 waar die engel Moses probeer doodmaak het). Kataluma word ook gebruik vir die groot bovertrek in ’n huis vir gaste of onthale, soos in Luk 22:11. Moontlik was die familiewoning se bovertrek reeds vol en nie ’n geskikte plek vir ’n geboorte nie. Sommige huise het ’n stal aan die huis gebou vir die diere. In baie huise sonder ’n stal het die enkele diere wat hulle besit het, saam met die mense in hulle eenkamerhuisies geslaap. In 150 n.C. het die kerkvader Justinus die Martelaar gesê die stal was in ‘n grot, wat as stal vir die diere gebruik is. In 330 n.C. het Konstantyn ’n kerk oor die graf gebou waar daar vandag nog ’n kerk is.

Dit is eienaardig dat Lukas in 22:11 kataluma gebruik vir die bovertrek van Jesus se instelling van die nagmaal, terwyl hy die woord pandocheion in 10:34 gebruik vir die herberg waar die barmhartige Samaritaan die gewonde man gelaat het. Dit lyk asof die woord hier ook verwys na die groot gastekamer op die boonste verdieping van die familiehuis.

Waar God se belofte van ’n verlosser vir mense as onvervulbaar beskou is, begin die vervulling daarvan in die verborge: as die kind van ouers wat gedwing word om ’n reis teensinnig in die kritieke tyd van Maria te onderneem. Waar die mensdom uit die middelpunt van die Ryk aan die beweging gesit word, skenk God die beloofde Here in een van die uithoeke van die Romeinse Ryk om die ware middelpunt van die mensegeskiedenis te wees (Jes 9:5-6; soos met Dawid, Ps 78:70-72). Ook Maria moes geskud gewees het deur die omstandighede waaronder sy die belofte van die Kind ontvang het; hoe kan die ewige Here in sulke omstandighede na die wêreld kom? Filp 2:6-8 sê dat Hy sy gelykheid aan God, ja, Homself prysgegee deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en het aan mense gelyk geword. Hy het die heerlikheid van die Vader verlaat en Homself verneder om as mens onder die nederigste en moeilikste omstandighede gebore te word.