Die Evangelie volgens Lukas: Die geboorte van Johannes die Doper (1:57-66) – Francois Malan

1:57 Die tyd wat Elisabet  geboorte moes gee is vervul (pimplemi, ten volle gevul) – ’n Hebreeuse uitdrukking soos in Genesis 25:24, wat ’n voltooiing is van die voorspelling in 1:20 oor die woorde wat op hulle vasgestelde tyd in vervulling sal gaan.  Dit voltooi ook die gedeelte wat met vers 56 afgesluit het. ‘…en sy het aan ’n seun geboorte gegee’ – die ideaal van elke Joodse gesin, wat in 1:13 aan die ou mense-paar voorspel is oor die wondergeboorte.

1:58 Die omgewing se mense en die familie kom bymekaar en herken hierin die grootheid van die Here se barmhartigheid (vgl Ps 126:2-3) wat sy optrede bepaal (vgl 1:50 oor sy ontferming eleos, waaroor Maria ook gesing het). So word Johannes en Jesus se geboortes toegeskryf aan die Here se ontferming oor dié wat Hom eer van geslag tot geslag. Die skare vriende en familie saam met die ouers vervul die belofte in 1:14: en baie mense sal bly wees oor sy geboorte.

1:59 Van Johannes se geboortedag gaan Lukas oor na sy besnydingsdag – op die agste dag, soos deur die Here bepaal as teken van sy verbond met Abraham (Gen 17:12; 21:4; Lev 12:3). Onder Griekse invloed  is die naamgewing aan die besnydenis verbind in Jesus se tyd en in die Laat Jodendom. Die mense meen die wonder van die ouderdomskind moes in die kind se naam weerspieël word: Sagaria seun van Sagaria (‘die Here dink aan/onthou’ sy beloftes/sy verbond).

1:60  Elisabet weier egter volstrek en sê Johannes (Jehoganan ‘die Here is genadig,’ ‘die Here se genadige geskenk,’ vgl. Joh 1:6) is sy naam, die naam wat die Here deur sy engel gegee het (1:13) vir die man wat voor die Here sal uitgaan om ’n volk vir die Here se genade voor te berei (1:17).

1:61-63 Toe die mense dit vreemd vind omdat niemand in die familie die naam Johannes het nie, word Sagaria met handgebare geraadpleeg oor sy wens, hy wat doof en stom geword het as teken van sy ongeloof in die woord van die Here, en van die Here se betroubaarheid aan sy woord en verbond (1:20; die woord kofos in 1:22 kan doof en stom beteken). Op ’n skryfbordjie, ’n houtbordjie met was oorgetrek, skryf hy: Johannes is sy naam. Dat moeder en vader as twee getuies so sterk oortuig is dat dit reeds die naam is, beskou almal in verbasing as ’n wonder van die Here.

1:64 Die tweede wonder. Onmiddellik het sy mond oopgegaan en sy tong losgeraak en hy het gepraat, soos die engel gesê het (1:20) en met sy eerste woorde loof hy die Here (vgl. 1:67-80). Die mond van die vroom man, wat nie kon glo nie, en deur sy tydelike doofstomheid oortuig is om die woord van die Here onvoorwaardelik te glo, uiter sy geloof in lofprysing aan die Here.

1:65 Almal is met vrees/ontsag vervul deur die wonders waarvan hulle getuies in die hele bergstreek van Judea geword het. Die nuus het soos ’n vuur deur Judea versprei.

1:66 Almal wat gehoor het wat met Sagaria en Elisabet en die seun gebeur het, en die lofsang van Sagaria gehoor het, het met die vraag rondgeloop: waarvoor is hierdie kind bestem? Die skrywer Lukas of sy mondelingse bron antwoord op die vraag: Die hand van die Here was werklik op hom – die hand veronderstel ’n magtige werking deur die kind, wat reeds voor sy geboorte met die Heilige Gees vervul is (1:15). Die vraag waarmee die mense rondgeloop het, het hulle later na sy prediking by die Jordaan gelok (3:3,7,10,15,18).