Die Evangelie volgens Lukas: Die loflied van Sagaria (Die Benedictus, 1:67-80) – Francois Malan

Die lied bevat die lofprysing van Sagaria by die naamgewing van Johannes in 1:64. Dit begin met die woord ‘Geseënd’ (eulogetos in Grieks, benedictus in Latyn), en verskaf die antwoord op die vraag oor die toekoms van die kindjie in vers 66. Terwyl die Magnificat van Maria uit die geslag van Dawid ’n koninklike aanslag het, het die Benedictus van Sagaria uit die priestergeslag meer ’n offeraanslag.

Maria se loflied begin met haar persoonlik (1:46-50) en daarna die boodskap (1:51-55). Sagaria se loflied begin in omgekeerde volgorde, eers die boodskap (1:68-75) en daarna die persoonlike deel (1:76-79), met gebruik van woorde en terme uit die Psalms, 1 Samuel, Miga, Eksodus, Jeremia, Genesis, Josua, Jesaja, Maleagi, wat die lied ook veranker in die Ou Testament.

Die eerste deel verwys na die Ou Testamentiese verbond en verlossing met die uittog uit Egipte, met die bekwame regering van die geslag van Dawid en die Messiaanse verwagting wat daarna volg. Die betekenis van die name rondom Johannes se geboorte vind hier ook ’n neerslag: Sagaria ‘die Here dink aan,’ Elisabet ‘die Here het gesweer;’ Johannes ‘die Here is genadig.’

Die tweede deel is ’n gelukwensingsgedig by die geboorte en die rol van die kindjie.

 

1:67 Die inhoud van hierdie himne word bestempel as ’n profesie wat deur die Heilige Gees geïnspireer word en daarom God se raadsplan openbaar. Naas sy moeder se profesie (1:42-45) word sy priestervader ook nou ’n profeet wat die wil van die Here verkondig.

1:68 Sagaria loof die Here (Jahweh), die God van Israel, wat ‘gedink het’ aan sy verbond met hulle: Ek sal julle God wees en julle sal my volk wees (Jer 31:31-35). Want Hy het sy volk besoek (episkeptomai, raakgesien, uitgesoek, versorg, teenwoordig wees). So het die Here Abraham by Mamre besoek (Gen 18). Nou het Hy hulle verlossing (lutrosis) kom bewerk. Van hierdie verlossingsgeskenk word in die eerste deel gemeld met woorde uit Psalms 41:13-14; 106:47-48; 111:9.

1:69 ‘En Hy het vir ons ’n horing van verlossing verwek…’ ’n Dier se horing is beskou as ’n simbool van krag, daarom ’n kragtige verlossing (vgl. Hanna se loflied in 1 Sam 2:10: Hy gee sterkte aan sy gesalfde, letterlik: Hy verhef die horing van sy gesalfde; Ps 18:3: die Here is die krag van my redding, letterlik: die horing van my redding; 132:17; Eseg 29:21: Ek laat Israel se mag weer groei, letterlik: Ek sal vir die huis van Israel ’n horing laat groei).

Die Verlosser kom ‘uit die nageslag van Dawid sy dienskneg (pais ook in Hand 4:25)’ – vgl. 2 Sam 7:12-16. Die profete het voorspel dat ’n kragtige verlosser sal kom. Die profesie begin nou in vervulling gaan. Sagaria juig dat die Here reeds begin het om dit te vervul deur ’n Verlosser te stuur van wie sy seun die voorloper is.

1:70 Die Here het die Verlosser reeds lank gelede beloof deur sy profete – heilige profete beteken die profete wat aan die Here behoort en wat Hy gebruik het as sy mondstukke. Die tyd van die belofte kom nou tot ’n end, want dit word vervul met die koms van die koninklike Verlosser (vgl, Luk 16:16; 24:25), wat die koninkryk/koningsheerskappy van God in sy persoon bring.

1:71 Die vers brei uit op vers 69 se werkwoord oor wat die Here belowe het: verlossing uit die hand van ons vyande en die hand van almal wat ons haat (Ps 106:10). Die redding wat die Here beloof het, is deur die volk en hulle leiers nasionaal-polities verstaan, waarby Sagaria aansluit. Sagaria sluit homself by die opvatting van die volke aan, maar verklaar die verlossing tog as vergifnis van sonde  (1:77).

1:72 Die redding is ’n daad van die Here se beloofde barmhartigheid en van sy verbond met Abraham, Dawid en Israel.  Hy onthou sy verbond en sy volk sonder ophou. Nog steeds is die Here (Die Ek is) deel van die daaglikse lewe van sy volk (vgl. Miga 7:20; Eks 24:25;  Ps 105:8; Jer 11:4).

1:73-75 Die Here onthou die eed waarmee Hy die land  aan Abraham gegee  het (Gen 22:16-18; 26:3; Ps 105:8-11; Jer 11:5).

Die einddoel van die Here se verlossing van Israel uit die hande van hulle vyande is dat hulle die Here sal dien (latreuo soos in aanbidding), sonder las van die vyande, om vry van die bande van sonde en vernietiging te leef deur toewyding aan die Here en sy woord, en in die regte verhouding met God en met hulle medemense.

1:76-77 Die tweede deel van die Benedictus het aanwysings vir die kindjie Johannes, wat saamgestel is uit Maleagi 3:1: Hy sal die pad voor My uit regmaak; en Jes 40:3: Maak vir die Here ’n pad in die dorre woestyn, maak in die barre wêreld ’n grootpad vir ons God.

Johannes is die profeet van die Allerhoogste wat reeds voor sy geboorte met die Heilige Gees gesalf is, wat die Here se wil aan die volk bekendmaak. Hy is die voorloper van die Here self. Jesus is die Gesalfde Koning wat uit die Heilige Gees gebore is,. Die volk verwag ’n politieke verlossing uit die oorheersing van die Romeine, maar Jesus kom om hulle, uit sy groot genade en deur sy liefdesoffer van Homself, te bevry uit hulle sondeskuld en die mag van die sonde wat hulle van God skei.

1:78-79 Die mense word uit die mag van die sonde bevry danksy die innige ontferming (splanchna eleos) van óns God (wat met ons ‘n genadeverbond gemaak het), waardeur die oggendlumier (anatole) uit die hoogte oor ons sal opkom  (’n verwysing na Maleagi 4:2 ‘maar vir julle wat my Naam eerbiedig sal die son van geregtigheid opkom met genesing in sy vlerke’ – dit word gesien as ’n heenwysing na Christus). Die oggendson van verlossing sal oor ons opkom, of: die Messias sal na ons toe kom soos die oggendson uit die hoogte.

Die son kom skyn oor die mense wat in die duisternis (van sonde) is en hulle bevind in die skaduwee van die dood (van God se straf oor die sonde) – So het Jesaja 9:2 reeds gesê, ook Jes 58:8 en 60:1-2. Dié bekende profesieë weerklink in die Benedictus van Sagaria, en word nou vervul met die koms van die voorloper en die koms van God self om mens te word vir ons, en ons op dié manier raaksien en besoek. Sy koms is soos die son wat die hele wêreld waarin ons leef verlig.

Die ‘opkom’ herinner ook aan die ster van Jakob en die septer wat uit Israel sal opkom – in die profesie van Bileam (Num 24:17, 1200 jaar v.C.); wat die son van geregtigheid in Maleagi 4:2 geword het, en my dienaar Loot in Sagaria 3:8; 6:12. Die Hebreeuse woord Loot  hou verband met die woord vir ‘vinnig opkom.’ Jeremia 23:5 praat van ‘’n regverdige spruit’ wat die Here vir Dawid sal laat opskiet.

In die kragveld van die dood breek die kragveld van die Lewe in, wat die lig vir die mense is (Joh 1:4), om ons voete op die pad van vrede te plaas, die pad van die volle heil (sjalom).

1:80 Die vraag in 1:66 waarvoor die kindjie bestem is, en die opmerking dat die hand van die Here werklik met hom was, word hier opgeneem. Die kindjie het gegroei en het sterk geword in die gees – dit kan verwys na sy innerlike groei in die gees en krag van Elia (1:17), of na die Heilige Gees waarmee hy reeds voor sy geboorte vervul is (1:15); waarskynlik na albei.

Die opmerking dat hy in die woestyne was totdat sy bediening begin het, het fantastiese teorië daaroor laat ontstaan dat sy ou ouers oorlede is en hy deur die asketiese Koemraangemeenskap, wat ooreenkomse met Johannes se prediking vertoon, grootgemaak is. Maar sy prediking oor die komende Christus, bekering en reiniging van sonde, teenoor hulle wassinge, en hulle afgeslotenheid van die breër gemeenskap maak dit onwaarskynlik. Markus 1:6 en Matteus 3:4 se beskrywing van sy klere verbind hom met Elia se harige kleed en leergordel (2 Kon 1:8). Lukas se opmerking beteken dat Johannes nie soos sy pa die priesteramp opgeneem het, waartoe sy afstamming hom bestem het nie, maar dat ’n groter diens as van ’n priester in die tempel op hom gewag het. Die Gees is sterker as die tradisie. Lukas skilder hom as ’n ware profeet wat soos Elia in die woestyn deur die Here versorg en geïnspireer is (vir Elia se versorging vgl. 1 Kon 17:5 by Kritspruit, 17:9 by Sarfat,  1 Kon 19 by Horeb).