Die Evangelie volgens Lukas: Die opwekking van die jongman van Naïn (Luk 7:11-17) – Francois Malan

Die verhaal kom slegs in Lukas voor. Daar is ’n stygende lyn in Jesus se genesingswonders van ’n sterwende waardevolle slaaf van ’n ryk hoofman, tot ’n gestorwe enigste seun van ’n arm weduwee wat vir haar meer werd was as die slaaf vir sy heer. Daarby word Jesus se barmhartigheid teenoor mense in nood beklemtoon. Die genesing sluit aan by die twee profete waarna Jesus in Nasaret verwys het: Elia wat die weduwee van Sarfat se seun uit die dood opwek (1 Kon 17:17-23 en Elisa se opwekking van die Sunemmitiese vrou se seun  (2 Kon 4:32-36).

7:11 Die opwekking word aan die genenesing van die slaaf verbind met ‘kort daarna.’ Vir die eerste maal word vertel dat Jesus met sy dissipels en ’n groot skare op reis gaan. Naïn lê ongeveer 30 km suid-wes van Kapernaum en ongeveer 8 km suid van Nasaret af teen die hang van klein Hermon, nie te ver van Sunem aan die anderkant van klein Hermon af nie.

7:12 Voor die stadspoort ontmoet Jesus se stoet van die lewe die stoet van die dood. Gewoonlik word ’n dooie op dieselfde dag as sy dood begrawe, en sou die ontmoeting teen die laatmiddag gewees het. ‘En kyk! ’n gestorwe enigste seun van ’n weduwee moeder word uitgedra (ekkomizo ’n tegniese term vir uitdra van ’n lyk om begrawe te word) om buite die dorpie begrawe te word. Omdat sy ’n weduwee is, is haar seun haar enigste versorger en regsverteenwoordiger. Sonder hom is sy sonder regsbeskerming en is sy onversorg. Die stoet bestaan uit ’n groot groep uit die stadjie. Om ’n lyk te vergesel is deur die Jode gesien as ’n verdienstelike werk.

7:13 Vir die vrou voel die Here innig jammer (splanchnizomai innerlik geroer) en sê sy moenie huil nie. Sy loop volgens gebruik voor die baar waar Jesus haar stop. Lukas noem Jesus ‘Here’ (kurios verwys na die Heerser wat die bevele gee, of die Eienaar, of vir respekbetoning; die titel word in die Bybel veral vir God en vir Christus gebruik). Niemand vra iets van Jesus nie, maar Hy tree op uit sy innerlike meegevoel teenoor die vrou.

7:14 Jesus gaan nader en raak aan die draagbaar, waarskynlik ’n plank waarop die lyk lê, toegemaak in ’n doodskleed. Die draers gaan staan oor dié man wat aan ’n lyk kom raak, en dit sonder vrees om daardeur verontreinig te word. Volgens Numeri 19:11 is elkeen wat aan ’n lyk raak vir sewe dae onrein. Maar hier wyk die reinheidswet voor die hoë wet van barmhartigheid. Hy spreek die dooie aan as ‘Jongman’ (neaniske ’n ongetroude jong man na puberteit) en spreek sy volmagswoord uit: ‘Ek sê vir jou: staan op!  As die Here, soos Lukas Hom hier noem (7:13) en as Here oor die Sabbat (6:5), wat ook seggenskap het oor lewe en dood, spreek Hy ‘n opwekkingswoord aan ’n jongman. Dit volg as klimaks op sy prediking en sy vergewing van sonde in die vorige hoofstukke, sy aanspreek van die duiwel en bestraffing van demone, van ’n hoë koors, visse, die ry genesingswoorde, ’n reinigingswoord aan ’n melaatse en roepingswoorde aan sy dissipels, wat alles die mag van sy woord onderstreep.

7:15 Met sy regopsit en praat bewys die jongman dat die lewe in hom teruggekeer het (vgl. Ps 104:29-30 wat die Here prys omdat Hy lewe gee en dood). Uit sy erbarming oor die weduwee-moeder word haar enigste steun en beskermer aan haar teruggegee, soos aan die weduwee-moeder in Sarfat (1 Kon 17:23). Die jongman word nie geroep om Jesus te volg nie, maar word aan sy moeder gegee om haar te troos en te versorg. Jesus se gebruik van sy volmag word gekenmerk deur sy barmhartigheid om ’n lewe, wat ten gronde gegaan het, te red (vgl. 7:9).

7:16 Die daad van Jesus wek vrees onder die mense en lof aan God, soos in 5:26 met die opstaan van die verlamde man. God word geprys dat Hy ’n groot profeet onder hulle laat opstaan het, soos Elia en Elisa (4:24-27). Deur hierdie profeet is God self tussen hulle teenwoordig met sy innige ontferming waarvan Sagaria gesing het (1:78-79). Die opwekking van die jongman van Nain is ’n vervulling van die belofte in Sagaria se lofsang: danksy ons God se innige ontferming laat Hy die son skyn oor diegene wat hulle in die skaduwee van die dood bevind.

7:17 Die roem van Jesus versprei hierna oor die hele Joodse land, soos die naam Judea hier gebruik word (Nain lê in Galilea),. Sy roem versprei ook in die omliggende gebiede soos Sirië, Dekapolis, ens.