Die Evangelie volgens Lukas: Die roeping van die eerste dissipels (Luk 5:1-11) – Francois Malan

Lukas het ’n eie berig oor die roeping van die eerste dissipels van Jesus, waarin slegs Luk 5:8-11 ooreenkoms met Mattheus 4:18-22 en Markus 1:16-20 vertoon.

5:1 Jesus is deur ’n skare omring aan die wal van die meer van Gennesaret (die vrugbare vlakte suid van Kapernaum, Ginnerot in die Hebreeuse Ou Testament, Jos 11:2; 12:3;  in Matt. en Mark die see van Galilea genoem, in Joh 6:1,23 en 21:1 see van Tiberias). Die meer is 22km lank x11km breed, en lê 208 meter onder seespieël. Die woord van God waarna die skare kom luister gaan oor die evangelie van die koninkryk van God (4:43) wat ’n vervulling is van Jesaja 61:1 en 58:6 (4:18-19).

5:2 Jesus sien twee klein bootjies (ploiaria) met vissers wat moeg is na die nag se vangwerk, en vroegoggend eers hulle nette uitspoel vir die volgende nag se vangwerk.

5:3  Weens die skare mense klim Jesus in die bootjie van Simon, wie se skoonmoeder Hy genees het (Luk 4:38-39), om vanuit die boot, wat ’n entjie in die meer sy anker laat sak het, die groot skare te onderrig. Jesus sit in die boot, soos die rabbi’s wat met hulle leerlinge om hulle sit en onderrig gee (vgl. Mark 3:9; 4:1).

5:4 Toe sy onderrig van die skare vanaf Petrus se boot klaar is, moontlik teen die middag, gee Hy aan Petrus die opdrag om op die swakste en onwaarskynlikste visvangtyd van die dag die diepte in te vaar en hulle nette, wat reeds vir die nag se vangs gereedgemaak is, te laat sak.

5:5 Petrus spreek Jesus aan as Meester (epistáta leier, meester) wat enigiemand in ’n leiersrol aandui en sy gesag aanvaar (die aanspreekvorm word slegs in Lukas gebruik en wel 7 maal vir Jesus). Lukas beklemtoon die wonder van die groot visvangs met Petrus se vertelling dat hulle die hele nag vrugteloos hard gewerk het (kopiao verwys na harde werk onder moeilike omstandighede; maar ook moeg en moedeloos as gevolg daarvan) en niks daarvoor gekry het nie. Hy is egter bereid, ten spyte van die verkeerde tyd vir visvang volgens die moeë ouhandvisser, om op Jesus se (enkele) woord (rhêma) die nette te laat sak. Ná Nasaret se ongelowige verwerping van Jesus se woord, skyn hier ’n gehoorsame gelowige aanvaarding van sy woord deur, wat teen al hulle visvang-kennis, vertrou op Jesus se woord, waarna hy so pas geluister het en wat ook die koors in sy skoonmoeder kon bestraf. Jesus het sulke mense as sy dissipels nodig, mense wat gedissiplineerd is deur harde werk, maar met onvoorwaardelike lojaliteit kon sê: as U ’n opdrag gee, sal ek dit doen.

5:6-7 Dat Jesus se woord werk, word bewys deur die massa visse wat hulle toe uittrek. Daar was so baie vis dat hulle nette besig was om te skeur (Met Joh 21:11 se groot visvangs ná Jesus se opstanding het die net nie geskeur nie). Selfs toe hulle vriende, Johannes en Jakobus, met die ander boot kom help, was die twee bote so vol visse dat hulle besig was om te sink. Dit alles was bewyse van die Here se ryke onverdiende seën.

5:8-9 Hier begin Lukas die dubbelnaam ‘Simon Petrus (rots)’ gebruik. Jesus roep hierdie man as sy volgeling, wat met sy erkenning ‘ek is ’n sondige mens’ voor Jesus se knieë kom buig en vra ‘Gaan weg van my.’ In die aangesig van die Here se heil, begryp die mens sy eie onheil, sy onwaardigheid om in die Here se teenwoordigheid te wees. So was ook Abraham (Gen 18:27), Job (42:5,6), Jesaja (Jes 6:5), Israel (Eks 20:18-19). Petrus wat sy nette dwarsdeur die nag vrugteloos laat sak het, waar hy sy lewe op sy eie werke probeer bou, weet nou dat die mens se moeisame nag beëindig is wanneer jy jou leë hande deur die Here laat vul. Sonder die seën van die Here is ons werk leeg. In die ontmoeting met die genadige goddelike Here gee die mens sy selfverheerliking prys, en word die kloof tussen die mens en God verander in verwondering en aanbidding.

5:10 Jakobus en Johannes in die ander boot was net so verbaas; dit is die twee seuns van Sebedeus en Salome (Mark 15:40/Matt 27:56/Mark 16:1; vgl. Mark 10:20).

Jesus sê vir dié rots (petra in Grieks) Petrus wat aan sy knieë kniel: ‘Moenie bang wees nie. Van nou af sal jy mense vang.’ ‘Moenie bang wees nie’ word in die Bybel gewoonlik deur die Here of ’n engel gesê. Hier sê die mens Jesus dit vir Petrus, wat die gevolge van sy goddelike woord gesien het in die magdom visse. Plaas dat Hy Petrus verlaat, trek Jesus hom nouer nader. Hy kry ’n aandeel aan Jesus se werk om voortaan mense te versamel vir die gemeente van God. Petrus se lewenstaak word deur dié woord van Jesus in ’n oogwink verander, van selfversorgende visserman tot volgeling en leerling van Jesus, in diens van die koninkryk van God. Die woord vir visvang (halieuo) verskil van die woord wat hier in die vertaling gebruik word vir mense vang (zogreo onder beheer bring, in toom hou). So het Jesus die massa visse onder beheer gebring en tot in Petrus se nette gelei, waar Petrus beheer oor die visse oorgeneem het. Nou gaan hy mense bring om lewende gevangenes van die ryk van God te maak. In 5:5 het Petrus Jesus nog as Meester aangespreek; hier as Here (kurios wat ook vir God gebruik word), en dit pas by sy kniel voor Jesus.

5:11 Die vier vissers bring die vol bote aan land, los die grootste vangs wat hulle in hulle lewe gesien het, en volg Jesus. Petrus het vir Jesus gevra om hulle gemeenskap te beëindig. Jesus het egter van die sondaar sy dienaar gemaak.

So begin die dissipelkring van Jesus nie met ’n oordeelswooord oor hulle sonde nie, maar met die evangelie van vergiffenis deur God wat onder die mense kom woon het.