Die Evangelie volgens Lukas: Jesus genees ’n blinde man (Luk 18:35-43) – Francois Malan

18:35 Lukas gebruik Markus 10:46-52 se verhaal van die genesing van die blinde man; volgens Lukas in die omgewing van Jerigo (letterlik: toe Hy Jerigo nader). Die meeste pelgrims uit Galilea wat paasfees toe gaan volg die roete deur Perea, kom deur die Jordaanrivier, dan die 8 km van die rivier tot by Jerigo, wat in die Jordaanvlakte 213 meter onder seespieël lê, en dan oor die berge op die eensame pad (Luk 10:30), 24 km na Jerusalem. Markus noem hom die blinde bedelaar Bartimeus, seun van Timeus. Lukas meld nie sy naam nie, maar wel dat hy langs die pad sit en bedel – die pad wat die groot skare pelgrims volg (Markus en Matteus plaas hom by die uitgang uit Jerigo, maar Lukas laat die verhaal van Saggeus in Jerigo, wat net in Lukas voorkom, hierop volg. Matteus 20:30 praat van twee blindes).

 18:36-37 Die blinde hoor ’n groot skare mense aankom; Jesus en sy dissipels is skynbaar deel van die skare uit Galilea en Perea, pelgrims op pad na die paasfees om die verlossing van Israel uit Egipte te herdenk (Eks12:14). By navraag hoor die blinde by hulle dat dit Jesus die Nasarener is wat verbyloop. Die naam Nasarener word nooit deur sy dissipels gebruik nie, en is eintlik ’n vernederende naam (vgl. Joh 1:47: ‘kan daar uit Nasaret iets goeds kom?’ vgl. die diensmeisie se verwysing in Matt 26:71; die soldate se verwysing in Joh 18:5,7 en Pilatus se spottende opskrif in Joh 19:19).

 18:38-39 Lukas gebruik die verhaal van Saggeus om die koninkryk van God verder te verduidelik. Die blinde roep hardop: ‘Jesus, Seun van Dawid, ontferm U oor my.’ Die blinde herken Jesus as die beloofde Messias/Christus, die nakomeling van koning Dawid. Daarmee onderstreep Lukas dat Jesus die Koning van God se koninkryk is, wat blindes genees, soos Jesaja  29:18 en 35:5 sê. Dit is profesieë wat die blinde waarskynlik in die sinagoge gehoor het en gesmag het om deur Hom verlos te word van sy blindheid en bedelaarsbestaan. Die nederige prediker uit Nasaret is die Koning van die Godsryk. Matteus het geskryf dat Josef na Nasaret toe gegaan het ná hulle vlug Egipte toe, sodat die Skrif vervul sou word dat Hy Nasarener genoem sal word (Matt 2:23), waarskynlik na aanleiding van die Hebreeuse woord netsêr vir die ‘takkie’ wat sal uitspruit uit die stomp van Isai, Dawid se pa (Jes 11:1). Die Jode het verwag dat die Messias, die Gesalfde koning, uit die geslag van Dawid gebore sou word (vgl. Luk 2:26; Joh 1:41;4:25; 7:42; 2 Sam 7:13).

 Die voorpunt van die skare probeer die blinde nog stil maak. Maar hy reageer op hulle berisping deur al hoe harder te roep, so dringend is sy begeerte om te kan sien: ‘Seun van Dawid, ontferm U oor my.’ In Matteus word Jesus ses maal ‘Seun van Dawid’ genoem. In Lukas (en in Markus) slegs deur die blinde, en word deur Jesus self in Luk 20:41 opgeneem. Met dié uitroep stel die blinde vir Jesus voor die vraag of Hy Hom met die Messias/Christus-naam by die skare wil laat ken of nie. Die skare sou dit met die intog in Jerusalem verkondig (Luk 19:38). Tot dusver het Jesus na Homself verwys as die Seun van die Mens – dit beteken gewoon mens.

 18:40-41 Jesus beantwoord die vraag deur te gaan staan en te beveel dat die man na Hom toe gebring moet word. Jesus vra hom om presies te formuleer wat hy van Jesus se ontferming verwag, wat Hy vir hom moet doen, nie wat Hy vir hom as bedelaar moet gee nie. Hy spreek Jesus aan as ‘Here,’ kurios, wat gebruik word vir meneer, heerser, eienaar, maar ook as titel vir God wat oor sy skepping regeer en blindes weer kan laat sien, soos Jes 29:18-19 en 35:4-5 sê. Sy versugting is: ‘Here, dat ek (weer) kan sien’ (anablepsō kan beteken om te kan sien, of om weer te kan sien). Hier en in Markus en Matteus word nie gesê dat hy van sy geboorte af blind was, soos die blinde in Joh 9:1 nie. Dit is onseker of  hy altyd blind was of nie.

 18:42 Met ’n enkele magswoord genees Jesus die man: ‘Sien (sien weer anablepsōn?), jou geloof het jou gered.’  Deur sy geloof in Jesus as sy Here, het hy sy sig (terug)gekry, en die verlossing ontvang. Die koninkryk van God word slegs deur geloof in Jesus Christus gebou.

 18:43 Onmiddellik kon hy (weer) sien. Dadelik word hy ’n volgeling van Jesus wat saam met Hom na Jerusalem toe gaan vir die fees, terwyl hy vir sy genesing en redding God loop en prys (doksazōn, teenwoordige tyd deelwoord; soos in 2;20  van die skaapwagters; 5:25 die verlamde; 5:26 die mense; 7:16 Nain se mense; 13:13 die kromgetrekte vroutjie; 17:15 die Samaritaanse melaatse; 23:47 die Romeinse soldaat) – die voortgaande lofprysing is ’n tipiese beskrywing deur Lukas. Die hele volk, die skare wat saam met Jesus loop en die mense van Jerigo, het aan God die lof gebring vir die wondergenesing deur Jesus. Die rol wat Jesus gespeel het was om sy Vader te verheerlik, nie Homself nie. Die mense het nog nie begryp dat Hy self ook God is, wat mens (die Seun van die Mens) geword het en onder ons kom woon het nie (vgl. Joh 1:14 skênoō – woon, met die implikasie van tydelik woon, soos in ’n tent of tabernakel).