Die Evangelie volgens Lukas: Die smal deur na die koninkryk van God (Luk 13:22-30) – Francois Malan

13:22 Lukas herinner sy lesers dat Jesus op pad is na Jerusalem. Maar Jesus is nie haastig nie, en die reis neem lank. Die imperfektum van die woord dieporeueto verwys na ’n wye reis en deeglike besoek aan stadjies en dorpies waar Hy onderrig gee,  terwyl Hy nie Jerusalem as die mikpunt van sy reis uit die oog verloor nie. Jesus se prediking oor die koninkryk van God het vir Jesus alles te doen met wat Hy in Jerusalem gaan volbring. Dit verhoog die spanning by die mense wat luister na sy verkondiging. Die suurdeeg is besig om te werk (13:21) en die einde van die jaar wat die vyeboom gegun word (13:8-9), kom nader.

13:23 Daarom vra een van die mense uit die skare of diegene wat gered word maar min is. Die Fariseërs het gereken dat alle Jode as kinders van Abraham, gered sal word. Maar Jesus se boodskap oor God se koninkryk, wat bekering vereis (13:3,5), en dat die verdeeldheid oor Hom selfs deur huisgesinne sal loop (12:51-53, laat vraagtekens daaroor.

13:24 Jesus spekuleer nie oor die vraag nie, maar antwoord met die gelykenis van die nou deur. Daarmee waarsku Hy almal wat op hulle eie tevergeefs sal soek om deur die nou (stenos nou, beperkte) deur (na die feesmaal) in te gaan met sy wederkoms. Hulle moet nou stry om daar in te gaan (12:31; agōnizomai om alles moontlik met groot intensiteit te doen; die woord agōnizomai word gebruik vir ’n atleet wat alles inspan om die wenpaal te haal, Hebr 12:1):

deur hulle verbintenis met die Seun van die Mens (14:26-27,33)

deur jouself te verloën en Jesus te volg (6:22-23)

te midde van mense se haat teen Jesus en sy volgelinge (12:8-9)

deur Hom voor die mense te bely (22:28-30)

deur by Jesus te bly deur al sy beproewings (9:48)

deur die minste te wees (18:14: deur jouself te verneder).

Hy skenk dit aan sy volgelinge, aan hulle wat in Hom glo; Hy is die nou deur na die koninkryk van God.

13:25 Die nou deur na die Vaderhuis bly ook nie vir altyd oop nie. Wanneer die Eienaar van die huis (oikodespotês) opstaan om die fees te laat begin, en die deur sluit, sal Israel as God se volk aanspraak maak om in te gaan deur aan die deur te klop en te sê ‘Meneer, maak vir ons oop.’ Maar die Eienaar van die huis sal hulle antwoord en sê: ‘Ek ken julle nie, waar julle vandaan kom nie.’ Dat hulle aan Israel behoort dra geen gewig meer nie. Om jou heil te bou op jou eie goeie werke word op ’n aanskoulike wyse afgewys.

13:26 Heel beeldryk word die gesprek tussen die Eienaar van die huis en die mense buite die geslote deur geskilder. Jesus weet dat hulle sal sê dat hulle in die verlede met Hom kontak gehad het toe Hy vir ’n wyle by hulle was; dat hulle  voor Hom (enōpion), aan sy maaltyd geëet en gedrink het (dink maar aan die spysiging van die 5000, ens.) en Hy het op hulle strate (in hulle dorpe en stede) geleer/onderrig gegee. Om aan Jesus se tafel te sit en na Hom te luister sonder om sy woord te glo en Hom en sy woorde en sy voorbeeld te volg, is geen waarborg nie.

13:27 Hoewel hulle sal aanspraak maak dat hulle Hom geken het, sal Hy ontken dat hulle Hom gevolg het, en Hy sal hulle wegstuur met die woorde van Ps 6:9. Hulle dade van onreg teenoor ander, sonder barmhartigheid teenoor ander, bewys dat hulle Hom nie gevolg het nie.

13:28 Die huis waarvan die deur gesluit is, is ’n beeld van die koninkryk van God.  Die Jode beroem hulleself as afstammelinge van die aartsvaders, en op die profete wat hulle gewaarsku het om hulle lewenswyse te verander. Die aartsvaders en die profete sal aansit aan die feesmaal in die koninkryk van God. Maar baie van die volk van God se verbond met Abraham Isak en Jakob, sal uitgesluit wees, na buite uitgeworpenes wees (ekballoumenous heksō), omdat hulle hulle nie bekeer het en in Jesus geglo het nie. Vir hulle sal daar ’n geween en ’n gekners van tande wees, onuitspreeklike smart, trane en gewetenswroegings, frustrasie en diepe teleurstelling.

13:29 Dan sal die profesieë vervul word: Jesaja 2:2-4 praat van die nasies wat sal stroom na die berg van die Here; Jes 49:12: hulle kom uit die noorde en uit die weste; Miga 4:1-2: die volke sal daarheen stroom, baie nasies sal daarnatoe optrek; Jes 25:6-8 praat van die feesmaal op die berg van die Here vir al die volke, waar die trane afgedroog en die smaad, wat sy volk aangedoen is, verwyder word. Die volke sal saam met die aartsvaders aansit in God se koninkryk. Israel se verwagting was dat die volke uitgewerp sal word en dat hulle sal ingaan; maar Jesus draai dit om. Dié mense wat sy uitnodiging om hulle tot Hom te bekeer verwerp, sal uitgewerp word, en die gelowiges uit die nasies sal opgeneem word. Die maatstawwe van die koninkryk van God is so anders as die aarde s’n, dat daar baie verrassings sal wees.

13:30 ‘Let op! wie laastes is’ in Jesus se tyd, nl. die volke, ‘sal eerstes wees’ om deur die smal deur in te gaan na die feesmaal van die koninkryk van God, ‘en wie eerstes is’ in Jesus se tyd, nl Israel, ‘sal laastes wees’ omdat hulle die Genadejaar van die Here wat aangebreek het (Luk 4:19), nie herken het nie (Luk 4:30; 10:13-16; 12:56). Vir die laastes wat hulle betyds tot die Here bekeer, wat insien dat hulle nie geregtig is op grond van die waan dat hulle eerstes is nie, maar hulle op die genade van die Here werp en sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here (13:35) is daar ’n sprankie hoop.