Die Evangelie volgens Lukas: Die vermeerdering van die brood (Luk 9:10-17) – Francois Malan

Aan die einde van sy Galilese bediening gee Jesus ’n afskeidsfeesmaal aan sy menigte volgelinge. In die Joodse geskrifte is een van die simbole van die messiaanse tyd die groot feesmaal met die kroning van God as Koning (Jes 25:6-9). Jesus gebruik dit in die gelykenis van die groot feesmaal (Luk 14:15-24), en verwys daarna in Luk 13:29-30; en tweemaal met die instelling van die Nagmaal (Luk 22:16,18). Al vier Evangelies het die verhaal van die vermeerdering van die brood, die enigste wonder wat in al vier voorkom. Johannes 6:14 noem die wondervermeerdering ’n teken (semeion ’n teken van groot betekenis).

9:10 Met die terugkeer van die twaalf apostels, na hulle vertel het wat op hulle reis gebeur het, vertrek Jesus net met die twaalf, uit Galilea, die gebied van Herodes, oor die grens na Betsaida in die gebied van Filippus. Markus 6:30-33 vertel dat Jesus vir die teruggekeerde apostels gesê het hulle moet saam met Hom by ’n verlate plek, wat nie genoem word nie, oorkant die see, ’n bietjie gaan rus, want daar het gedurig so baie mense gekom en gegaan dat hulle nie eers ’n kans gekry het om te eet nie.

9:11 Die skare kom dit egter agter en volg hulle. En weer ontvang Jesus die mense vriendelik (apodechomai; Markus 6:34 sê: Jesus het hulle innig jammer gekry, omdat hulle soos skape sonder ’n herder was). Hy sit sy gewone werkswyse voort, soos Hy ook die twaalf geleer en aan hulle opgedra het: Hy praat met hulle oor die koningskap van God, en genees dié wat genesing (therapeia genesing, versorging) nodig het.

9:12 Die verlate plek is waarskynlik in die berge om Betsaida (Joh 6:3). Toe dit begin aand se kant toe staan, sê die apostels vir Jesus om die skare na die dorpies en plase te stuur om slaapplek en kos te gaan soek (Markus 6:36 en Matt 14:15: om vir hulleself iets te ete te gaan koop; in Joh 6:5-6 stel Jesus die vraag waar hulle die kos sal kry).

9:13-15 Jesus gee egter die opdrag aan sy twaalf apostels: ‘gee júlle vir hulle om te eet.’ Slegs die mans tel al 5,000 en die vroue en kinders sal die getal seker oor die 10,000 stoot, en hulle het slegs ’n beskeie vyf brode en twee visse beskikbaar (Joh 6:9 sê dit was ’n seun se padkos; Mark 6:37 sê: 200 daglone se kos sou nodig wees; Joh 6:7: 200 daglone se brood is nie genoeg om vir elkeen n stukkie te laat kry nie). Hulle eie onmag is duidelik, maar op Jesus se opdrag laat hulle die skare sit in groepe van ongeveer 50  om die bediening makliker te maak (Lukas vermeld nie die groen gras van Mark 6:39 nie).

9:16-17 Jesus neem die 5 brode en 2 visse wat hulle vir Hom gee, kyk op na die hemel, na sy Vader van wie alles kom, vra sy seën (eulogeo) daaroor, breek die brood en gee die brood en visse aan die dissipels om aan die mense uit te deel. Die dissipels leer om te dien en om op Jesus te vertrou. Die skare leer dat Jesus leef en praat en handel vanuit sy gemeenskap met sy Vader. Almal word versadig en 12 mandjies vol brokstukke word opgetel om die oorvloed van die vermeerdering te beklemtoon, en niks word vermors nie. Die bietjie wat hulle vir Jesus gee word ’n oorvloed vanuit sy hand.

Jesus is bekommerd oor mense wat honger is; Jesus se hulp is ruim – almal het genoeg gekry, Jesus se gawes is op die regte tyd. In Flp 4:19 sê Paulus: My God sal ruimskoots in julle behoeftes voorsien in ooreenstemming met sy heerlike rykdom in Christus Jesus. Teenoor die versoeking om vir ’n klip te sê om brood te word toe Hyself honger was (Luk 4:3-4) staan Jesus se barmhartigheid teenoor hongeriges om met 5 brode ’n menigte te voed as deel van die feesmaal wat Hy kom berei vir sy volgelinge – Ps 23:5 sê: U dek vir my ’n tafel…my beker  loop oor. Vir Homself het Hy die broodwonder afgewys; maar toe Hy die honger mense om Hom sien, verskaf Hy die nodige voedsel.

 

Petrus se belydenis (Luk 9:18-20)

Lukas laat hier die hele gedeelte van Markus 6:45-8:26 uit en volg hom weer van Markus 8:27 af. Dit lewer ’n interessante opvolging van temas in Lukas: Herodes het gevra wie Jesus is (Luk 9:18-19). Daarop word tot ’n mate geantwoord deur Jesus se vermeerdering van die brode  (Joh 6:14 bestempel dit as ‘n teken) en die dissipels gee die drie antwoorde wat Herodes ook by die mense gehoor het, maar Petrus gee ook sy eie antwoord oor wie Jesus is (9:19). Die klimaks kom met die antwoord van God oor wie Jesus is in 9:35. Die dissipels se erkenning dat Jesus die Messias/Christus is, word onmiddellik gevolg deur Jesus se eerste aankondiging dat sy Christus-/Gesalfde-skap deur God, sy kruisdood en opstanding beteken (9:22) en ook vir sy volgelinge ’n kruis en ’n verheerliking beteken (9:23,26).

9:18-20 Matteus en Markus plaas die gebeurtenis in die omgewing van Saserea-Filippi, in die provinsie van Filippus, die seun van Herodes die Grote by sy vyfde vrou Kleopatra. Jesus gaan uit die gebied van Herodes Antipas, Herodes die Grote se seun by sy vierde vrou Malthase; en ook weg van die skares wat Jesus omring het. Dit is heidense gebied waar die groot god Pan veral aanbid word. Lukas gee egter geen aanduiding van die plek nie, en begin met ‘op ’n keer…’  Jesus kon toe in stilte bid en sy twaalf dissipels onderrig. Lukas beklemtoon Jesus se gebedslewe, hier waar Hy alleen is voor ’n groot aankondiging en ’n draaipunt in sy lewensloop en optrede.

Na die gebed tree Jesus in gesprek met sy dissipels oor wat die mense oor Hom sê; dié mense wat hulle in die dorpies en op die platteland van Galilea ontmoet het, en veral onder die skare wat Hom gevolg het. Hulle antwoord is dieselfde as wat Herodes van die mense verneem het (9:7-8). Maar Jesus wil weet wat hulle persoonlik van Hom dink. Die kennis van Christus is altyd ’n persoonlike ontdekking.

Petrus antwoord namens hulle twaalf dissipels: ‘Die Christus/Gesalfde van God!’ (vgl. 2:26 en 2:11). Die twaalftal het geestelik al ver gevorder in die jaar wat hulle saam met Jesus geloop en gewerk het. Hulle word gewaarsku om dit nie in die publiek te noem dat Hy die Messias is nie, omdat die Jode ’n aardse heerser verwag het, ‘n messias wat met geweld sal heers om hulle te bevry van die Romeinse juk.