Die Evangelie volgens Lukas: Die Sadduseërvraag oor die opstanding (Luk 20:27-40) – Francois Malan

20:27 Die Sadduseërs sê daar is nie ’n opstanding nie (vgl. Hand 4:1-2 vir hulle ontsteltenis omdat Petrus en Johannes die volk onderrig en in Jesus die opstanding uit die dood verkondig; vgl. ook Hand 23:8). Die Sadduseërs het slegs die Torah, die eerste vyf boeke van die Ou Testament, as God se woord aanvaar. Die Torah en die res van die Ou Testament verwys nie direk na die opstanding van die dooies nie. Dit word eintlik eers in Jesaja 26:19 en Daniël 12:3 uitgespel. Hulle kom Jesus belaglik maak voor die volk met ’n strikvraag oor die opstanding.

 20:28 Hulle spreek Jesus aan as Leermeester (didaskalos). Hulle kom met Moses se voorskrif oor die leviraatshuwelik in Deutr. 25:5-6 (levir is die Latynse woord vir ’n swaer; die vrou se man se broer is haar swaer). In Deutr. 25 is die oorwegings wat die leviraatshuwelik omring dat die broers saamwoon, dat dit gaan oor die erfgrond wat die Here aan die gesin toegeken het wat in die familie moet bly en nie in die hande van ’n buitestaander beland nie; en dat die man se naam nie uit Israel uitsterf nie. Die voorbeeld daarvan is Tamar wat met Juda se oudste en tweede oudste seuns getrou het, wat beide sonder kinders gesterf het (Gen 38). Rut se troue met Boas was nie eintlik ’n leviraatshuwelik deur die broer van die gestorwe man van Rut nie. Boas tree op as die losser van die familie wat die erfgrond vir die familie behou, maar sy huwelik met Rut, wat die naam van die familie en ’n erfgenaam vir die familie se grond verseker, het die elemente van die leviraat (vgl Rut 4:5,9-10).

 20:29-32 Die Sadduseërs wou Jesus belaglik maak voor die volk, en om die kwessie wat ’n strydpunt tussen die Sadduseërs en die Fariseërs was, ten koste van die Fariseërs se opstandingsgeloof as belaglik voorstel. Hulle kom met ’n storie oor sewe broers wat dieselfde vrou na mekaar gehad het omdat een na die ander kinderloos gesterf het, en op die end het die vrou ook gesterf.

 20:33 Hulle vraag oor wie se vrou sy in die opstanding sal wees, is veronderstel om die onmoontlikheid van die opstanding te bewys. Daarmee sal die Fariseërs se opstandingsgeloof as belaglik bewys word en Jesus as ’n onbetroubare leermeester.      

 20:34-36 Jesus se antwoord begin met die mense van hierdie bedeling, wat trou (van mans gesê) en in die huwelik uitgegee word (van dames gesê). Die huwelik is tipies van hierdie aardse bedeling. Dit is die manier waarop die menslike geslag mekaar ondersteun en voortplant (Gen 1:27-28; 2:20-24).

 Die vraestellers kon hulle nie indink in ’n gans ander soort lewe as die huidige bedeling nie. Die Sadduseërs het geglo daar is geen lewe na die dood nie. Die Jode, wat soos die Fariseërs wel gehoop het op ’n opstanding, het dit voorgestel as ’n oneindige voortsetting van die huidige bedeling, net baie beter, sonder vyande en baie meer geluk. Die lewe in die hemel is egter baie anders as enigiets op aarde. Menslike verhoudings is gebonde aan tyd en ruimte. Die Jode se beste denke oor ’n lewe waar tyd en ruimte nie meer geld nie, het die vreugdes van materiële plesiere verruil vir ’n fees in die glans van die goddelike teenwoordigheid (Berakoth 17a). Daar was baie verskille ook onder die skrifgeleerdes oor wat die Ou Testament en selfs die Torah oor die lewe na die dood sê. Maar vir hulle bly dit slegs ’n opwekking van die huidige lewe. Jesus verwerp hierdie gedagtes.

 Jesus sê dat dié wat waardig geag word om daardie ander bedeling en die opstanding uit die dood te beleef, nie trou nie en nie in die huwelik uitgegee word nie, want hulle kan nie meer sterf nie omdat hulle soos engele is, en hulle is (reeds) kinders van God. Lukas voeg by: ‘as kinders van die opstanding;’ opgestane mense. Hulle opstanding sal bewys dat hulle kinders van God is en daarom met engele vergelyk kan word. God bepaal die toekomstige bedeling, Hy alleen. Daarom verskil sy koninkryk so van die koninkryke van die mense (vgl. 1 Kor 15:35-54 onverganklik, onsterflik, in heerlikheid en krag, ’n geestelike liggaam vervang die natuurlike menslike liggaam; Flp 3:21 ons nederige liggaam word verander om gelykvormig te word aan Christus se verheerlikte liggaam).

 God bepaal ook wie waardig is om daardie bedeling te beleef (dié wat God trek om in Jesus te glo, en so lewe dat dit die Here waardig is; vgl. Joh 6:37,44,65; 10:29, 17;2,6-9,12,24; 18:9; Heb 2:13). Paulus bid dat die Kolossense so sal lewe dat dit die Here waardig is, om Hom in alles te behaag, deur vrug te dra in elke goeie werk en te groei in die kennis van God (Kol 1:10: soos die 1953-vertaling; 1983: tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang…).

 Oor die Sadduseërs se vraag oor die leviraatshuwelik sê Jesus dat die tyd om kinders te verwek sodat erfgrond in die familie behou word, verby sal wees. Soos die engele, sal God in vryheid geloof word en gedien word. Dat dit gans anders sal wees beteken dat God alles in almal sal wees (1 Kor 15:28). Om dit te weet, is vir sy volgelinge genoeg (1 Tess 4:17; Flp 1:23; 2 Kor 5:8 om altyd by Hom te wees).

 Jesus het die Fariseërs se aardse fantasieë en die Jode se algemene verwagting van ’n voortsetting van die huidige bedeling die nek ingeslaan. Die Sadduseërs, wat Hom belaglik wou maak, se lewensgevaarlike onkunde oor die opstanding en hulle dwaasheid het Hy aan die volk openbaar.

 20:37-38 As bewys dat die dooies (deur God) opgewek word, verwys Jesus na God se openbaring van sy Naam aan Moses by die braambos. Die Here (Jahweh, die Ek is), is die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob. Dit staan juis in die Torah wat wel deur die Sadduseërs as God se woord aanvaar word (Eks 3:15).

 (In Markus 12:26 en Matteus 22:31 stel Jesus dit in ’n mate spottend as ’n vraag of hulle dan nie dié woord van God gelees het nie: Markus: hoe God aan Moses gesê het; Matteus: die woord aan julle deur God).

  Jesus gee heeltemal ’n ander verklaring van die teks as wat die Sadduseërs dit verstaan. Hulle glo dat God die God van die lewendes is en nie van die dooies nie. Daaruit lei hulle af dat dit met die dooies verby is, dat hulle geen verhouding meer met God het nie, soos die lied van Hiskia ook suggereer (Jes 38:18; vgl. ook Ps 6:6; 30:10; 88:11-13; 115:17). Jesus gee heeltemal ’n ander betekenis aan Gen 3:15. Wat God betref is hulle almal lewendes! Abraham en Isak en Jakob. Wanneer God iemand kies, die persoon aan Hom verbind en hom/haar met sy belofte aanspreek, kan so iemand nie meer van Hom losgemaak word nie, maar word deel van die lewe van God, die ewige onverganklike lewe.

 Slegs Lukas voeg by: ‘want almal lewe tot Hom’ – die lewe van die gelowige is ’n lewe vir God en hierdie lewe is nou reeds teenwoordig. Paulus sê: vir my is om te leef Christus en om te sterf wins, maar as ek liggaamlik bly leef, beteken dit dat ek nog verder vrugbaar kan wees… (Flp 1:21-23); ons burgerskap is egter in die hemel, vanwaar ons as Verlosser verwag: die Here Jesus Christus. Hy sal ons nederige liggaam verander om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam, deur die krag wat Hom in staat stel om alles aan Hom te onderwerp (Flp 3:20-21). Alle lewe, hier en hierna, bestaan in ’n vriendskapsverhouding met God. Die dood kan ’n einde aan die fisiese bestaan bring, maar nie aan die vriendskapsverhouding met God wat van nature ewig is nie. Ons sekerheid van die opstanding berus nie op ’n spekulatiewe leer van die onsterflikheid van die siel nie, maar op die waarheid van God se ewige liefde. Vir ons is mense wat sterf dood, maar nie vir God nie. Die dood kan nie hulle verhouding met God verbreek nie. ’n Mens wat hier voor God se aangesig leef, gaan in hierdie verbondenheid aan God blywend voort. So word aan die getroue slawe in hierdie lewe, groter verantwoordelikheid gegee in die ewigheid (Luk 19:19).

 Met sekerheid van sy opstanding uit die dood gaan Jesus sy dood tegemoet.

 20:39-40 Kommentaar kom slegs van sommige van die skrifkenners: ‘Meester U het ’n goeie antwoord gegee,’ so oortuigend en nuut was Jesus se uitleg van die Skrif. Hulle moes erken dat Jesus die vraag effektief beantwoord het. Van die Sadduseërs is daar egter nie een wat waag om Hom verder uit te vra nie.