Die Evangelie volgens Lukas: Die ryk man en Lasarus (Luk 16:19-31) – Francois Malan

Die verhaal kom slegs in Lukas voor en sluit sonder verwysing na plek of tyd van vertelling direk aan by die voorgaande. Daarom is die gehoor aan wie Jesus die verhaal vertel waarskynlik dieselfde as in 16:1, sy dissipels, en 16:14, met die gierige Fariseërs ook teenwoordig. In 16:1 is ’n ryk man deel van die gelykenis, soos hier, en by die gelykenis van die ryk dwaas (12:13-21) het Jesus reeds gesê: so gaan dit met iemand wat vir homself skatte bymekaar maak en nie in God ryk is nie. Die seën oor die armes en hulle beloning in die hemel (6:20-23) en die ellende wat vir die rykes wag (6:24-28) word hier met dié gelykenis onderstreep.

 16:19 Die selfsugtige lewenswyse van die ryk man word beskryf: klere van purper is gedra deur konings, en die Fariseërs het gedink God is met purper beklee. ’n Bo-kleed van purper was kosbaar. Fyn linne vir ’n onderkleed word uit Egipte ingevoer en as ’n luukse beskou. Elke dag het hy swierig feesgevier, soos die ryk dwaas op aarde (12:19). In 16:15 het Jesus vir die Fariseërs gesê: dit wat deur mense hoog aangeskrewe word, is ’n gruwel voor God. 

 16:20-21 ’n Arm bedelaar, oortrek met swere wat slegs deur onrein honde gelek word, is neergesit (ebeblêto) voor die ryk man se ingang (pulōn); waarskynlik was hy lam en kon nie self loop nie. Hy begeer om gevoed te word met die afvalstukkies van die ryk man se tafel af – die rykes vee die vet van hulle hande af met brood wat hulle dan onder die tafel weggooi, waar die honde dit optel (vgl. Matt 15:27). Die man se naam Lasarus kom waarskynlik van die Hebreeuse  El’azar (God help). Hy is geheel en al van God se hulp afhanklik. Vir die Fariseërs was die ryk man se voorspoed teken van die Here se seën en die arme/sondaar daarsonder, soos Job se vriende ook geredeneer het (Job 8:4,20; 15:8,13).

 16:22 Albei, die arme en die ryke, sterf. Die lotsbestemming van die twee word teenoor mekaar gestel. Die arme word deur die engele gedra na die boesem van Abraham, die ereplek by die feesmaal van die Here. Daarmee word Lukas 6:20-25 vervul. Dit is die plek wat die Skrifgeleerdes vir hulleself as ‘regverdiges’ in die vooruitsig stel, vir dié wat reg doen, juis hulle wat vir hulleself die ereplekke opeis by die aardse feesmale.

 Die ryke sterf ook en is begrawe. Waarskynlik met ’n groot begrafnis, maar dit word nie eers gemeld nie.  Die belangrike is wat met die mens gebeur na sy dood, wat God van jou dink.  

 16:23-24 Anders as die arme in die hemelse fees, bevind die ryke hom gefolter in Hades, die plek waarheen mense wat sterf afdaal volgens die geloof van die mense van die Bybelse tyd. Nou herken hy van ver af vir Abraham oor wie hy geroem het dat hy ’n afstammeling van Abraham is en daarom in die Here se koninkryk hoort. Die ryke spreek Abraham aan as ‘vader’ van wie hy afstam en as besnede Jood deel is van God se verbond met Abraham. Nou sien hy ook die arm Lasarus raak, wat voor sy huis van ellende omgekom het, sonder dat hy daardeur geraak was. Nou soek hy sy hulp. Hierdie verhaal gaan oor die verhouding van mense teenoor mekaar, soos in die verhaal van die barmhartige Samaritaan (Luk 10:25-37). Hy wil van die bedelaar Lasarus sy dienskneg maak. Die ryk man is nou die bedelaar wat vra dat sy tong met water afgekoel word in sy vreeslike lyding in die vlam. Maar Lasarus se lyding op aarde het by hom verbygegaan sonder dat hy ’n vinger verroer het. Die maatstaf van God is anders as die mens s’n. Wat deur mense hoog aangeskryf word, is by God ’n gruwel (Luk 16:15).

 16:25 Abraham ontken nie die ryke se afstamming nie en spreek hom aan as ‘kind’ (teknon gebruik vir afstammeling). Maar om aan Abraham se huis te behoort is nie genoeg nie (Luk 3:7-8). Aangesien die ryke die goeie ontvang het en hy gekies het om sy lewe met sy rykdom vir homself ’n daaglikse fees met feesklere te maak, maar die honger Lasarus nie raakgesien het nie, verkeer hy nou in die pyn van God se oordeel. Die ryke se keuse was vir selfsugtige Mammon en nie vir die barmhartige God nie (Luk 16:13). Lasarus, wat in al sy nood sy hulp van God alleen gekry het, soos sy naam ‘God help’ aandui, word nou deur God getroos.  Die ryke pleit om barmhartigheid wat hy nie aan die arme tydens sy lewe op aarde gegee het nie (vgl. Matt 6:14-15).

 16:26 Daarby is daar ’n groot kloof (chasma ’n diep onoorbrugbare kloof) tussen ons en julle gevestig (estêriktai) – die perfektum passiewe werkwoord dui aan dat God dit daar gestel het en dat die gevolge daarvan blywend is. Niemand kan oor die kloof van die een kant na die ander gaan nie. Die keuses wat die mens op aarde maak, het ewige gevolge in die ewigheid.

 16.27-28 Die ryke het ‘n tweede bede wat hy ook aan Abraham as sy stamvader rig. Hy toon nou tog belangstelling in ander mense, wel nie in die armes nie, maar net in sy eie familiekring. Dat Lasarus gestuur moet word toon sy meerderwaardigheid om sy mindere rond te stuur. Hy impliseer ook dat hy nie regverdig behandel is nie. As hy sou gewaarsku gewees het, sou hy hom bekeer het. Lasarus praat nooit in die gelykenis nie, maar aanvaar wat die Here oor hom bring en aan hom doen.

 16:29-31 Tipies soos die Jode, wat ’n teken wil sien, en soos baie mense wat nuuskierig wil weet wat na die dood gebeur, versoek die ryk man dat Lasarus, met eerstehandse kennis van die lewe na die dood, na sy broers gestuur word om hulle te bekeer. Dit word afgewys met ’n verwysing na Moses (die wet) en die profete van die Ou Testament. Dit is die woord van God om mense te oortuig van God se genade en om te antwoord op sy roepstem om metanoia, bekering van hulle denke en optrede. Sy vyf boers is blykbaar soos hy, in hulle denke nie oop vir oortuiging deur die woord van God wat deur Moses en die profete gespreek is nie, en met harte wat selfsugtig gesluit is vir barmhartigheid.

 Die drie vrae en antwoorde in die gesprek gaan eers oor die noodkreet van die ryk man in pyn (16:24-26), dan oor sy broers wat nog die geleentheid tot bekering en barmhartigheid het (16:27-29) en laastens oor doofheid vir die woord van God in die wet en profete, ’n doofheid wat sal voortgaan al sou hulle ’n spesiale boodskap uit die hiernamaals ontvang. Op die eerste vraag en antwoord is dit duidelik dat die onoorbrugbare kloof sê: die geleenthede in sy lewe wat die ryke versuim het, is onherstelbaar na die dood. Vir sy broers is die wet en die profete genoeg om hulle te laat besef dat hulle met God te doen het. Geen verskyning van afgestorwenes kan mense oortuig nie as hulle doof en blind is vir wat God reeds vir hulle gegee het. 

 Vir Lukas is die stem van God in die Ou Verbond dieselfde as Jesus se woorde en werk in die Nuwe Verbond. As God se  stem in die Oue nie verstaan word nie, word Jesus ook nie verstaan nie. Die ryk man kan moontlik ’n Sadduseër wees wat nie glo aan die opstanding na die dood nie (Luk 20:27) en nou sy broers wil waarsku dat daar wel ’n lewe na die dood is waar rekenskap gegee moet word van jou lewe.