Die Evangelie volgens Lukas: Jesus begin met sy prediking (4:14-30) – Francois Malan

4:14-15 Nadat Jesus vir 40 dae in die woestyn van Judea versoek is, gaan Hy terug na Galilea in die krag van die Heilige Gees. Galilea (van die Hebreeuse woord ‘galil’ vir ’n sirkel) is die provinsie in die noorde van Palestina, ongeveer 65km van noord na suid en 33km van oos na wes, omring deur nie-Joodse volke. Die Galileërs was bekend vir hulle vooruitstrewende denke deur hulle kontak met die ander volke, maar daarom deur die ortodokse Judeërs as onrein beskou deur hulle kontak met die heidene. Dit is ’n vrugbare, waterryke gebied met baie vrugtebome en sierbome. Die nuus oor Hom het deur die hele omgewing versprei, deurdat Hy die mense in hulle sinagoges onderrig het tydens sy toer deur Galilea.

Volgens Lukas bly Jesus in Galilea werk tot aan die einde van hoofstuk 9:50. In 9:51 begin sy reis na Jerusalem vir 10 hoofstukke tot by sy intog in Jerusalem in 19:29. Die werk in Galilea en sy reis na Jerusalem word deur Lukas aangebied as die inleiding tot sy eintlike taak in Jerusalem deurdat Lukas telkens daarna verwys dat Jesus op pad is na Jerusalem (9:51,53; 13:22; 17:11; 19:11,28).

Na sy doop is Hy met die Heilige Gees toegerus vir sy taak en is Hy deur die Heilige Gees na die woestyn gelei om getoets te word en sodoende versterk en voorbereid te wees vir sy openbare optrede in die krag van die Heilige Gees. Op omtrent 30 jarige ouderdom (3:23) begin Jesus se optrede met onderrig in die sinagoges in Galilea.

Sinagoges (die Griekse woord vir ‘vergadering,’  vir die Hebreeuse Beth ha-Kenesset ‘huis van vergadering’) het waarskynlik tydens die Babiloniese ballingskap ontstaan toe daar geen tempel meer was nie, en die godsdienstige Jode bymekaargekom het in verskillende stede en dorpies van die Babiloniese ryk. Na hulle terugkeer het die gereelde byeenkomste voortgegaan en het die sinagoge ook die leerhuis geword in elke dorpie waar daar tien mans was. Daar is geen offerandes gebring nie, wat slegs in die tempel gebring word.

In die twee inleidende verse 14-15  gee Lukas ’n algemene inleiding tot Jesus se optrede in Galilea, wat oor  6 hoofstukke strek van 4:14-9:50. Hy vertel spesifiek van die sensasie en ontsteltenis wat deur Jesus se optrede gewek is. Jesus se optrede in Galilea word soms beskryf as sy lente-tydperk, maar by sy tuisdorp Nasaret blyk die teenstand teen sy prediking, wat impliseer dat  Hy nie-Jode durf insluit in God se koninkryk.

 

Jesus se preek in Nasaret (4:16-30)

4:16-17 Ná sy toer deur Galilea kom Jesus weer in sy tuisdorp Nasaret. Op die Sabbat gaan Jesus na die sinagoge soos Hy grootgeword het en met die gewoonte voortgegaan het. As lid van die volk Israel neem Jesus soos ’n vrome Jood deel aan hulle godsdienstige byeenkoms. Die boekrol van Jesaja word aan Hom gegee om voor te lees. Hy rol die boekrol oop tot by Jes 61:1-2 en 58:6 (Lukas haal hoofsaaklik uit die Griekse vertaling, die Septuaginta, aan). Die grootste deel van hierdie berig en die aanhaling uit Jesaja kom nie in die ander Evangelies voor nie. Markus 6:1-6 en Matteus 53-58 het net ’n opsomming van die reaksie van die inwoners van Nasaret op Jesus se preek, en ook nie hulle moordpoging nie.

4:18 By Jesus se salwing met die Heilige Gees ná sy doop, het die vervulling van Jesaja 61:1 begin. As draer van die Heilige Gees is Jesus Israel se verwagte Messias. Hy is God se Gesalfde koning-priester-profeet. Sy sending openbaar die profetiese woord (vgl. 4:24). Deur sy afwysing van die versoekings vanuit die Skrif word sy gesag as koning sigbaar (vgl. 6:20). Hy is aan die armes toegewy as priester (vgl. 7:22). Aan die minderbevoorregtes waarvan die Psalms (10:14; 72:4,12,-14; 82:3-4) en Jesaja 61 praat, verkondig Jesus as profeet die goeie boodskap van verlossing uit hulle ellende. Die vrylating van gevangenes en bevryding van onderdruktes is die egte godsdiens wat die Here wil hê, volgens Jesaja 58:5-6.

4:19 Die genadejaar van die Here wat nou permanent aangebreek het, word in die Ou Testament gesimboliseer deur elke 50ste jaar as die groot hersteljaar  (Lev 25:8-17). Die genadejaar is vir Lukas ’n samevatting van die werk van die Messias wat in vers 18 genoem is. Lukas noem dit die era van God se welbehae (dektos die era wat vir God aangenaam is omdat dit aanvaarbaar is; Die Hebreeuse teks van Jesaja 61:1 praat van die jaar van God se ‘razon,’ sy guns). Die Jubeljaar (Hebreeuse ‘jobel’ ramshoring, vir die hersteljaar, ‘Jubilee/Jubileum’),  God se Genadejaar wat nou aangebreek het, is die kern van die goeie boodskap van verlossing; dit is die inhoud van die koninkryk en koningskap van God, waar mense vrygemaak word van hulle sondeskuld en ellende en elke dag en elke jaar in gelowige gemeenskap met God lewe volgens sy wil. (Luk 22:42)

4:20 Nadat Jesus die gedeeltes uit Jesaja staande gelees het, het Hy gaan sit. Die mense sit met gespanne verwagting oor hoe Jesus die teks vir hulle gaan uitlê.

4:21 Met een sin word sy uitleg saamgevat: ‘Vandag! is hierdie Skrif in julle ore vervul.’ Die Verlossingsjaar van die Here het aangebreek met Jesus se optrede; Hy, wat as die Verlosser gebore is (2:11, soos deur die engel aan die herders aangekondig is), is as God se Seun aangewys, oor wie die Here Hom verheug (3:22, die stem uit die hemel met sy doop). Hy bring met sy koms die dag van Versoening (Hebreeuse Lev 25:9 – Kipurim – vgl. die hedendaagse Jom Kippur) tussen die mens en God.  Die Griekse vertaling van Lev 25:9: hilasmos, verwys na Jesus as die middel waarmee sonde vergewe word.  Lukas 4:19 haal Jesaja 61:1 se Griekse vertaling met dektos aan; die Direkte vertaling noem dit die genadejaar.

Jesus verduidelik dat Jesaja 61-2 en 58:6 in hulle ore vervul is, die goeie nuus waarvan die profeet gepraat het. Jesus het dit nie slegs voorgelees nie, maar as boodskapper van die Koning word dit ’n koninklike verklaring van amnestie en vrylating. Hy is die Dienaar van die Here wat na Israel gestuur is om aan te kondig: Jou God is Koning (Jes 52:7), en die  koninklike heerskappy van God word uitgeoefen soos in 4:18 uitgespel: deur vergewing, genesing en bevryding (vgl. Jes 53:4-5).

4:22 ‘En almal het oor Hom getuig, en was verwonderd oor die woorde van genade wat uit sy mond uitgekom het, en het gesê: Is dit nie die seun van Josef nie? (die Afrikaanse Bybels vertaal die eerste neutrale sinsnede ‘het oor Hom getuig’ positief met ‘het instemming met Hom betuig,’ wat nie pas by hulle aangehaalde neerhalende vraag oor wie se seun Hy is nie; Markus  6:2-3 en Matt 13:54-57 beskou hulle reaksie ook nie as positief nie). Sy aanbod van heil word egter deur hulle verwerp. Hulle ken sy afkoms; seun van die plaaslike timmerman Josef. Waar kry Hy dié genadewoorde (charis) vandaan? Op wie se gesag kan Hy dit aanbied?

4:23 Jesus voorsien en verwoord hulle antwoord op sy prediking, dat hulle eintlik ’n bietjie sensasie soek, wonders en wondertekens vra, soos die duiwel in die tweede versoeking van Jesus in die woestyn (vgl. 1 Kor  1:22).

Jesus weet in hulle harte leef die spreekwoord ‘Geneesheer, genees jouself’ – die betekenis daarvan word verduidelik: hulle het gehoor wat alles in Kapernaum gebeur het (ook van die wonders). Doen dit ook in jou tuisdorp! (patris wat sinspeel op Josef as sy vader, pater). As Hy iets aan te bied het, behoort sy vaderstad eerste aanspraak daarop te hê. Maar mense wat op hulle regte staan en voorkeurbehandeling eis, kan nie die Man begryp wat die pad oopmaak vir diens aan ander nie, en ’n evangelie (goeie nuus) wat geen plek het vir bevoorregting nie, soos sal blyk uit die voorbeelde uit die geskiedenis van Israel wat Jesus aanhaal, van Elia en Elisa se optredes (4:25-27).

4:24 Jesus vereenselwig Hom hier met die profete in Israel se geskiedenis. Soos hulle deur hulle eie mense verwerp is, word Jesus ook deur sy tuisdorp se mense verwerp – geen dokter genees die mense wat hom ken nie, want hulle vertrou hom nie, ook nie die profeet wat aan hulle die woord van die Here bring nie.

4:25-26  Aan die lot van die profeet in 4:23 word die profete se onbegryplike optredes onder die leiding van die Here, in die volgende verse bygevoeg. Met die groot droogte en hongersnood in Elia se tyd, was daar baie weduwees in Israel wat honger gaan slaap het, maar die Here stuur vir Elia om ’n weduwee en haar seuntjie te gaan voed in die stadjie Sarfat (1 Kon 17:12-16) in die gebied van die heidense koning Etbaäl van Sidon, nl. Agab se skoonvader, Isebel se pa

(1 Kon 17:31). Lukas sê die droogte het drie en ’n half jaar geduur (soos in Jakobus 5:17; 1 Kon 18:1 verwys na ’n lang tyd van omtrent drie jaar).

4:27 Elia se opvolger Elisa, die profeet van die Here, het Naäman, die Siriese  hoof van die leër, van sy melaatsheid genees, maar nie een van Israel se melaatses nie (2 Kor 5). Jesus se antwoord op sy verwerping deur die inwoners van sy tuisdorp maak die pad oop vir heidene om deel te word van God se uitverkore volk, terwyl die deel wat Hom nie wil aanneem nie, verwerp word en nie meer deel is van God se volk nie. Hy doop met die Heilige Gees en met vuur, wat die kaf, wat van die koringkorrels uitgewan is, verbrand (3:8-9). Die Here se belofte aan Abraham ‘in jou sal al die volke van die aarde geseën wees’ (Gen 12:3) word nou ’n werklikheid.

4:28-29 Van die Here se seën aan Abraham sluit die onwillige Nasaret hulleself uit, deur nie in Jesus as hulle Verlosser te glo nie. Hulle is woedend oor sy identifisering met Elia vir wie die Here na heidene gestuur, en Elisa na wie ’n heiden gestuur is vir genesing. Dit toon aan dat die Here vry is om ook aan heidene ’n opdrag te gee. Hulle meen Jesus maak asof die Here vir Hom, die timmerman van Nasaret se seun, gestuur het. Dit is vir hulle lasterlik en daarom wil hulle Hom vermoor. Die suggestie dat heidene tot God se koninkryk toegelaat kan word het ’n uitbarsting van nasionalistiese ywer laat ontbrand wat alle redelikheid verdoof het, sodat hulle net die godslasteraar wou uitwis (Lev 24:10-16; vgl. Joh 10:30-31; Joh 5:16). Die rand van die berg waar hulle Hom wou afgooi, kan verwys na die 8 meter hoë rand 1 km van die stad af, of na die 60 meter hoë rand 2 km van die stad af.

4:30 Jesus is egter vir sy teenstanders onaantasbaar omdat sy uur nog nie aangebreek het nie (vgl. Joh 7:30, 44;  8:59). Die skare is in bedwang gehou deur die majesteit van sy teenwoordigheid (vgl. Joh 7:46). Jesus gaan weg van Nasaret af en ons lees nie dat Hy ooit weer daarheen teruggaan nie.

Na Jesus sy stryd teen die bose magte in die eensaamheid van die woestyn volbring het, verskyn die bose magte in sy tuisdorp Nasaret in die vorm van sy medeburgers. Die hele gedeelte laat Jesus se lewe, sterwe en opstanding deurskemer: Die Here het Hom na sy volk gestuur; die profesie oor Hom word vervul;  maar sy mense het Hom nie aangeneem nie.