Die Evangelie volgens Lukas: Jesus en Saggeus die hooftollenaar(Luk 19:1-10) – Francois Malan

Jesus en Saggeus die hooftollenaar(Luk 19:1-10)

 Die verhaal kom slegs in Lukas voor en beklemtoon dat Jesus gekom het om verlorenes te soek en te verlos (Luk 19:10), as ’n vriend van tollenaars en sondaars (Luk 7:34). Teenoor die skatryk maghebber wie se rykdom hom in besit geneem het (Luk 18:23), is die ryk hooftollenaar, wat sy rykdom uitdeel aan armes en verontregtes, in die koninkryk van God (Luk 19:8).

 19:1 Op pad na Jerusalem gaan Jesus deur Jerigo, ’n belangrike doeanepos wat deurgang tussen Trans-Jordanië en Judea beheer.

 19:2 Saggeus (uit die familie van Sakkai van Esra 2:9 en Nehemia 7:14 wat saam met Serubbabel uit die ballingskap teruggekom het in 538 v.C.; vgl. Baruk die seun van Sakkai in Neh 3:20) woon en werk as die hooftollenaar in Jerigo. Sy naam beteken ‘die reine’ of ‘die regverdige’ hoewel ’n tollenaar deur die bevolking as onrein en onregverdig beskou is. Die tolstelsel om belasting vir die Romeinse regering te in, is volgens ’n pagstelsel bedryf, waarvolgens gebie word vir die insameling in ’n gebied. In die proses kon die kontrakteur aan wie die pag toegeken is, die bedrag van sy aanslag op die mense in sy gebied self bepaal. As hooftollenaar sou hy ’n aantal tollenaars onder hom gehad het wat elkeen ook vir homself gewerk het om die som wat hy gebie het te versamel. Vanweë sy werk was Saggeus ’n vermoënde man. Maar die bevolking het die Joodse tollenaars as verraaiers in diens van Israel se onderdrukkers beskou, as ’n sondige man (Luk 19:7), wat daagliks met onrein nie-Jode omgaan, en wat onregmatige wins gemaak het. Sy sondige praktyke het eintlik van sy naam Saggeus, ‘die reine, regverdige,’ ’n bespotting gemaak.  

 19:3 Saggeus het die begeerte gehad om te sien wie Jesus is. Moontlik het hy al gehoor dat Jesus nie tollenaars vermy nie, maar hulle in sy gehore ontvang (Luk 15:1), en selfs een geroep het om een van sy dissipels te wees, en dat Jesus saam met dié tollenaar se vriende gaan eet het (Luk5:27-29). Die verslae oor Jesus het duidelik die goeie werk in sy hart begin, maar hy sou ontdek dat die helfte oor Jesus nog nie aan hom vertel is nie (1 Kon 10:7). Die groot skare het nie vir die ‘ongewilde’ mannetjie plek gemaak om voor in die ry langs die pad te kom staan nie, en hy was ’n kort mannetjie. 

 19:4 Hy hardloop, om voor die skare te kom, en klim in ’n wildevy met sy breë takke tot oor die pad en digte blare waar hy ongemerk deur die skare, kan sit, en kan sien wie die man Jesus is, sonder om die guns van die skare te vra.

 19:5  Toe Hy by die plek onder die boom kom, kyk Jesus op  – niemand wat vir Jesus soek bly vir Hom verborge nie. Jesus roep hom om haastig af te klim, ‘want Ek moet vandag in jou huis oorbly.’ Hy gaan nie net sien wie Jesus is nie, maar Hom in sy huis ontvang om Hom deeglik te beleef. Jesus onderbreek sy reis na Jerusalem om eers aan hierdie soekende man aandag te gee en vriendskap te bewys. Uit Luk 19:9 is dit duidelik dat ‘vandag’ die teenwoordigheid van heil verkondig (vgl.Luk  2:11 die Verlosser se geboortedag; Luk 4:21 die vervullingsdag van die Skrifwoord uit Jesaja;  Luk 5:26 Vandag het ons iets ongeloofliks gesien; Luk 23:43 Jy sal vandag nog saam met My in die paradys wees). Dat Jesus dit moet doen wys weer dat dit deel is van Jesus se opdrag van die Vader om hierdie man, wat Hom so graag wil sien, op te vang in sy sorg. Dat Saggeus haastig moet afklim weerspieël Lukas se beklemtoning van die dringendheid by Jesus om by die man uit te kom (vgl. bv. Luk 2:16: die herders wat ná die engelboodskap haastig na Betlehem vertrek het; Luk 14:21 gaan dadelik uit in die strate en stegies; Luk 15:22 bring gou die beste kleed; Luk 18:8 God sal baie gou aan hulle reg laat geskied). 

 19:6 Saggeus neem die opdrag en uitnodiging gretig aan, klim vinnig af en ontvang Jesus in sy huis terwyl hy straal van blydskap (chaírōn, teenwoordige deelwoord, terwyl hy deurentyd bly is), bly dat hy raakgesien is, en vir die geleentheid om Jesus in sy huis te kan ontvang.     

 19:7 ‘Almal wat dit gesien het (dit was die algemene gevoel in Jerigo en onder die Paaspelgrims), het gemor ( soos in Luk 5:30 met Levi se fees; Luk 15:2) en gesê: Hy het ingegaan om as gas ontvang te word by ’n sondige man.’ Hulle skryf die tollenaar af as ’n sondaar (voor God) en kritiseer Jesus omdat Hy by die onreine tollenaar en in sy onrein huis tuisgaan.

 19:8 ‘Maar’ – anders as die morrendes, gaan staan Saggeus voor Jesus en lê ’n gelofte af aan Hom, wat hy as ‘Here’ aanspreek. Dit getuig van sy waardering dat Jesus hom raakgesien het en na sy huis toe gekom het, maar veral van sy bekering uit sy skuldige lewenswyse, wat deur sy verlange na besittings gelei was. Ná sy gemeenskap met Jesus verklaar hy ‘Kyk! die helfte van my besittings, Here, gee ek aan die armes.’ Die teenwoordige tyd van die werkwoord ‘gee’ (didōmi) beteken dat hy dit nou gaan gee en dat dit voortaan sy nuwe lewenswyse gaan wees (meer as Jesus se opdrag aan die ryk jongman in Luk 18:22). As hy valse verklarings oor iemand in die hof gemaak het om ’n deel van die boete te kan kry (dit is die betekenis van die woord sukofanteō) gee hy dit viervoudig terug.

 19:9 Waar daar bekering is, is daar redding (vgl. Luk 3:8). Die Fariseërs het vereis dat ’n tollenaar wat tot bekering kom, sy werk moet opgee en gedoop moes word om sy heidense lewe af te was. As volgeling van Jesus bly Saggeus in sy werk as tollenaar, soos Johannes die Doper ook aan hulle gesê het (Luk 3:12-13). Bekering beteken die omkeer van jou denke oor God en jou medemens, en van jou lewenswyse voor God en met jou medemens, terwyl jy bly in jou beroep (vgl. 1 Kor 7:20-24). Die verlossing het vir hierdie huis gekom. Terwyl sy hele huisgesin deur die inwoners vermy is, word hulle deur Jesus aanvaar in sy koninkryk. Jesus sê dit ook vir kennisname van die inwoners van Jerigo wat Saggeus as ’n renegaat beskou het, want ‘ook hy is ’n seun van Abraham’ (vgl. Luk 13:16 ’n dogter van Abraham; Luk 3:8 God kan uit klippe kinders vir Abraham verwek), Abraham die vader van die geloof in God (vgl. Rom 4:16-25 ). As kind van Abraham het Saggeus ook deel aan die beloftes en verbond van die Here met Abraham: Ek sal julle God wees en julle sal my volk wees (Gen 17:7-10; Jer 31;33; Eseg 36:26-28).  Clemens van Alexandrië wat in 216 n.C. oorlede is, het geskryf dat Saggeus die biskop van Sesarea geword het.

 19:10 Met die slotwoord verkondig Jesus dat Hy die beloofde Herder is wat die verlorenes in Israel soek en red  (Eseg 34:15-16,23; vgl Luk 15:4-7). Die Seun van die Mens is Israel se verwagte Messias; God se Gesalfde Koning, Priester, Profeet. Die verlore tollenaar is deur Hom gesoek en gered saam met sy huisgesin.