Die Evangelie volgens Lukas: Jesus op pad na die kruis (Luk 23:26-32) – Francois Malan

Lukas se berig oor Jesus se weg na die kruis is kunstig opgebou. Verse 27-31 kom slegs in Lukas voor. Vers 32 stem ooreen met Johannes 19:18 aan die begin van sy weergawe van die kruisiging. Die ander Evangelies vertel nie van ’n enkele woord van Jesus op pad na Golgota nie.

 23:26 Die vers oor Simon kom ook in Markus en Mattheus voor, ná hulle melding van Jesus se mishandeling deur die soldate. Lukas vertel nie dat die soldate Hom mishandel het nie, maar verwys slegs na Pilatus se aanbod aan die Jode om Hom te laat dissiplineer (paideō) en dan vry te laat (Luk 23:22). Maar al drie het die berig oor Simon van Sirene (die provinsie in die noorde van Afrika). Moontlik is hy ’n Jood wat uit die diaspora (verstrooiing) teruggekom het om naby Jerusalem te wees. Dat Simon van die agros (land, veld, platteland, plaas) af gekom het, kan aandui dat hy daar gewoon het of tydelik vir die Paasfees oorgebly het. Mattheus en Markus sê die soldate het Simon gedwing (angareuō forseer om iets te doen, ’n reg wat Romeinse soldate gehad het; Matt 5:41) om die kruis te dra. Lukas sê hulle het hom gegryp (epilabomenoi vasgryp om te beheer, arresteer). Markus voeg by dat hy die pa was van Alexander en Rufus, moontlik dieselfde Rufus wat later lidmaat van die gemeente in Rome was, Rom 16:13. Markus het sy Evangelie juis in Rome geskryf.

 Na die kastyding deur die soldate van Pilatus (40 houe met ’n sweep? en soos die ander drie Evangelies sê: met ’n kroon van dorings op sy kop) kon Jesus fisies nie sy kruis dra nie, daarom dat die man van Sirene daarvoor opgekommandeer is. Die kruis wat gedra moet word, verwys waarskynlik nie na die hele sware kruis nie, maar na die kruisbalk wat swaar genoeg was en na die klaar geplante pale toe gedra is. Joh 19:17 noem niks van Simon nie, maar dat Jesus self sy kruis na Golgota gedra het. Van Jesus se dissipels het nie een kom aanbied om sy kruis te dra nie.

 Lukas voeg by dat hulle (die soldate) die kruis op Simon se rug gesit het om agter Jesus aan te dra. Dit word ’n simbool vir al Jesus se volgelinge wat hulle kruis moet opneem en Hom volg. Dit is ’n tema wat Lukas al twee maal beklemtoon het (Luk 9:23; 14:27, soos in Matt16:25; 10:38; vgl. een maal in Mark 8:34).

 23:27 Lukas vertel dat ’n groot menigte van die volk (laos die Here se volk) Hom gevolg het, dat die vroue oor Hom gerou en gehuil het (ekoptomai om op die bors te slaan as teken van jammerte; thrêneō weeklaag en treur oor ‘n ontslapene; vgl. Miga 1:8). Om te treur oor ’n veroordeelde was ’n bekende gebruik in Palestina. So word Sagaria 12:10-14 vervul: ‘…hulle sal na hom kyk vir wie hulle doodgesteek het en hulle sal oor hom treur soos ’n mens treur oor ’n enigste seun, hulle sal oor hom huil soos ’n mens.’  ’n Groot weeklag het dié dag in Jerusalem opgeklink. Die veroordeling en dood van Jesus het tog ’n groot deel van die volk geskud. In pas met sy aandag aan die rol van vroue, sonder Lukas die vroue van Jerusalem uit in sy berig van die groot groep mense wat Jesus na die kruis gevolg het. 

 23:28  Tussen die huilende vroue tree Jesus as Profeet op. Sy lyding is nie sy liggaamlike pyn en smart nie, maar die mense se ellende in die komende oordeel oor Jerusalem. Simon dra wel sy kruisbalk, maar Jesus dra reeds in sy hart die kruis van Israel se veroordeling. Met smart het Hy die stad betree (Luk 19:41). Met dieselfde smart verlaat Hy die stad. Hy draai Hom na die vroue en sê: ‘Dogters van Jerusalem, moenie oor My huil nie. Huil liewer oor julleself en julle kinders’ (soos in Luk 19:44). Jesus soek nie hulle medelye nie, maar hulle bekering (vgl die hoogmoedigheid van die dogters van Sion in Jesaja 3:16). ‘Die mense van Nineve het tot bekering gekom op grond van Jona se prediking dat die stad binne 40 dae verwoes gaan word (Jona 3:4), en wat hier is, is meer as Jona,’  het Jesus reeds in Lukas 11:32 gesê as die teken wat hulle gevra het. Veertig jaar ná Jesus se sterwe is die stad Jerusalem verwoes (vgl Jesus se voorspelling van die verwoesting van die stad in Luk 21:20).

 23:29 Want daar kom dae dat die seën van moederskap waarna elke moeder verlang (Luk 11:27; Ps 127:3) verwens sal word. Jesus se laaste woorde aan sy volk sit sy waarskuwings voort oor die oordeel oor die stad en volk (soos in 11:50-51; 13:34-35; 19:41-44; 20:15-16,18; 21:20,22-24).

 23:30 In die aanstaande smart sal die volk die dood  soek, of  ’n wegkruipplek. Jesus haal die profesie van Hosea 10:8 oor Israel aan, wat weer vervul sal word as hulle begin sê  ‘Berge val op ons; heuwels bedek ons,’ om God se oordeel wat Hy deur die Romeine gaan voltrek, te probeer ontvlug. Die verwoesting van Jerusalem het Jesus reeds in Lukas 21:20-24 aangekondig. Openbaring 6:16 haal ook Hosea aan, maar dan met die oog op die vervulling van die profesie op die groot dag van die toorn van die Here (vgl. Openb 9:6).

 23:31 Jesus se oproep tot bekering sluit af met ’n spreekwoord: As hulle dit met die groen hout doen (wat moeilik brand), wat sal nie met die droë hout (in die vuur) gebeur nie. Die rabbi’s het gesê die groen hout word met die droë hout aan die brand gesteek. So het die hardheid van Israel se harte tot die dood van Jesus gelei. Israel se onversoenlikheid het reeds die vuur van die Romeine se ongeduld aangesteek, en as hulle vuur warm genoeg is om iemand te verbrand wat onder hulle reg onskuldig verklaar is, wat moet die skuldiges verwag? Wat met hulle sal gebeur, het Jesus reeds in Lukas  20:16 met die gelykenis van die huurders in die Here se wingerd gesê. In Jeremia 5:14 sê die Here, ‘Ek maak my woorde in jou mond ’n vuur, en hierdie volk hout, sodat die vuur hulle kan verteer.’  In Esegiël 20:45-21:5 sê die Here vir Jerusalem en die land Israel in verband met hulle ballingskap na Babel: ‘Ek gaan jou aan die brand steek. Elke groen boom en elke droë boom in jou gaan verbrand…’  So voorspel Jesus die oordeel van God oor Homself (die groen hout wat lewe), as die draer van die straf op die sonde van die wêreld, en oor Israel (die droë hout wat dood is), omdat hulle hulle Verlosser verwerp.

 23:32 Jesus sit sy kruisweg voort, gevolg deur Simon van Sirene. Lukas sê Hy word saam met twee misdadigers weggelei om tereggestel te word (kakourgoi mense wat gewoonlik misdade pleeg). Volgens Lukas word Jesus, benewens die skare, gevolg deur Simon van Sirene as teken van sy swakheid, en die twee misdadigers as simbool van Jesus as die vriend van sondaars (Luk 7:34). Lukas beklemtoon dat die twee misdadigers weggelei word om saam met Hom tereggestel te word (anaireo om van iemand ontslae te raak deur teregstelling). Die kruiselinge is gewoonlik deur die strate geparadeer met hulle skuldigbevinding op ’n bordjie om hulle nek as waarskuwing vir almal om te lees. Op Jesus se bordjie staan: Hy is die koning van die Jode (23:38).

 Markus en Mattheus noem die twee medekruiselinge lêistai rowers, wat met geweld roof, soos in Luk 10:30; of rebelle soos Barabbas, Mark 15:7. Joh 18:40 sê dat hulle in opstand gekom het teen die regering. Die drie ander Evangelies vertel net dat hulle saam met Hom gekruisig is.