Die Evangelie volgens Lukas: Jesus se onderrig oor gebed (Luk 11:1-13) – Francois Malan

Teenoor Matteus 6:9-13 se sewe bede, bied Lukas vyf bede aan in die gebed wat Jesus sy dissipels leer. In Matteus is dit deel van die bergrede se onderrig in verskeie sake, en as een van die drie algemene instruksies oor privaatheid wanneer julle liefdadigheid bewys, bid, vas. Hier volg dit op die goeie deel wat Maria uitgekies het en nie van haar weggeneem sal word nie.

11:1 Drie sake word sonder naam genoem: die tyd, plek en vraer, wat aan die gedeelte algemeen geldigheid gee vir alle tye, plekke, en die persoon wat met die versoek kom: ‘op ’n keer,’  ‘op ’n sekere plek’ en ‘een van sy dissipels.’  ‘Op ’n keer’  veronderstel dat Jesus dit dikwels en gereeld gedoen het, soos dit ook in Lukas dikwels aangedui word. ‘op ’n sekere plek’ dui daarop dat Hy apart van sy disspels met sy Vader gaan praat het. ’n Ongenoemde ‘een van sy dissipels’ vra Jesus om hulle te leer bid. Die versoek kom na aanleiding van Jesus se eie gebed en Johannes die Doper se dissipels se gebruik (Luk 5:33). Lukas beskryf Jesus as ’n bidder. Die dissipels vra wat Jesus se gebede behels, anders as die tipies Joodse gebede van hulle tyd. Dit dui op die begin van ’n Jesus-gemeente wat anders is as die tipies Joodse eredienste. Dit is ook deel van die kennis oor die koninkryk van God wat Jesus aan sy dissipels leer voordat Hy hulle gaan verlaat en deur hulle gaan werk.

11:2  Jesus sê: Wanneer julle bid, moet julle sê – as ’n model wat ons gereeld moet gebruik. Dit is anders as Matteus 6 se ‘Daarom moet julle só bid’- wat meer die hoe en die manier waarop gebid word beklemtoon. Die gebed wat Jesus hulle hier leer bid begin nie soos Matteus 6 se meer formele  ‘Ons Vader wat in die hemel is’ nie, wat God eintlik ver van ons af plaas. Hier is dit meer intiem persoonlik: ‘Vader’ (Abba) – soos kinders in ’n huisgesin hulle Vader vrymoedig sal aanspreek. So spreek Jesus self sy Vader aan (Luk 10:21;  22:42,34,46) en sluit ons in by sy verhouding tot sy Vader (vgl. júlle Vader in Luk 12:30; Rom 8:14-15; Gal 4:4-7).

laat u Naam geheilig word. Met sy Naam word juis sy Naam as Vader-vir-ons bedoel (soos die Ou Testamentiese naam Jahweh, ‘die Ek is,’ Eks 3:14-15, die Ek, wat persoonlik aktief by julle teenwoordig is). Sy heiligheid is juis geleë in sy Vaderskap, wat geheilig word as ek in Hom glo, en Hom as my Vader ten volle en met my hele lewe vertrou. Met my geloofsvertroue in my Vader, word sy Naam deur my onder mense geheilig. Jesus se volgelinge moet vra dat hulle Vader se Naam, sy reputasie as Vader, Hy self, met toewyding gehoorsaam en liefgehê sal word in die wêreld, maar veral deur sy gelowige kinders; dat elke kind van God sy Naam sal heilig deur aan Hom toegewy te lewe. Hy word gevra om hulle daarin te lei en die vermoë daarvoor te skenk. Hy word gevra om sy Naam in die wêreld, in sy kerk en in my, geheilig  te laat word (vgl. Eseg 36:21-23). In Rom 8:15 sê Paulus: ‘julle het die Gees van aanneming tot kindskap ontvang, deur wie ons roep Abba, Vader.’  Dit is nie slegs ’n formule nie, maar ’n kinderlike gebed tot ons Vader om met sy Gees in ons te werk, sodat ons as God se kinders sal lewe en so sy Naam in die wêreld heilig. Dit staan teenoor die Joodse gebed, soos in Matteus, met byvoeging van ‘wat in die hemel is’ om ’n groot afstand te skep teenoor die heilige God.

laat u koninkryk kom. Die koms van die koninkryk van ons Vader open vir ons die ingang tot die ewige Vaderhuis waar ons Vader regeer oor ons en oor sy ganse skepping. Dit beteken onder andere, dat die heerskappy van die sataniese mag gebreek word, en die einde van die duiwel se bewind (Luk 11:14-26). In Luk 11:20 sê Jesus: ‘As Ek deur die vinger van God demone uitdryf, dan het die koninkryk van God julle bereik (letterlik: op julle gekom).’ As Jesus se volgeling bid dat sy Vader se koninkryk/koningskap moet kom, vra hy iets wat besig is om te begin gebeur, dat hy die voltooiing daarvan afwag, en dat die Vader sy kinders betrek by die koms van sy seggenskap en heerskappy oor alles. Dit gaan om sy regverdige en liefdevolle regering wat gevestig word deur sy vrye onvoorwaardelike genade; dit vra die mens se geloof in Hom en gehoorsaamheid aan Hom. Die regering van God is volmaak teenwoordig in Jesus, en tot ’n sekere mate in sy volgelinge. Ons bid egter dat God se koningskap in ons lewe sal toeneem, sodat ons al meer soos Christus sal word (2 Kor 3:18). Sy koningskap moet egter groei en uitbrei om alle mense te omsluit.

Terwille van sy tweemaal driedeling (3 u-gebede; 3 ons-gebede) voeg Matteus 6:10 by: ‘Laat u wil geskied soos in die hemel, so ook op die aarde.’ Die derde u-gebed ontbreek in Lukas en is eintlik ’n uitbreiding en verduideliking van ‘laat u koninkryk kom.’

11:3 Gee ons elke dag ons daaglikse brood. Die teenwoordige tyd van die werkwoord ‘gee’ is ’n versoek dat my Vader telkens op elke dag vir my sal gee wat vir die dag nodig is (vgl. Spr 30:7-9). Die volgeling wat só bid, staan voor sy Vader in die wete: ek is die ontvanger voor my sorgsame Vader wat my behoefte ken. Hy vertrou my met wat Hy aan my gee dat ek dit reg sal gebruik. Die Jode bid vir hulle jaarlikse brood in die negende seën van hulle daaglikse 18 gebede. Daarteenoor staan die gelowige volgeling van Jesus elke dag in afwagting op die sorg van sy Vader, met afwagting op die heerskappy van sy Vader oor elke dag tot aan die voleinding, soos Hy vir Israel in die woestyn elke dag manna voorsien het volgens elkeen se behoefte (Eks 16:17-18,21). Christene lewe in konstante afhanklikheid van God. Brood is ’n simbool vir alles wat nodig is vir ons aardse bestaan om te lewe en te werk in ooreenstemming met God se wil. Dit is ook nie ’n selfsugtige gebed vir myself nie, maar vir ‘ons,’  wat al God se kinders insluit. God gee dit nie as beloning vir goeie werke nie, maar ons vra in vertroue op ons Vader se genade, vir sy konstante voorsiening in ons behoeftes.

11:4 en vergeef ons ons sondes, want ook ons vergeef elkeen wat teenoor ons skuldig staan.  Na die gebed om brood en alles daarby wat die Here aan ons toevertrou, staan ons in skuld voor God oor ons gebruik maar veral oor ons  misbruik van sy gawes. Daarom noem Lukas dit sonde teen ons Vader waarvoor ons vergifnis vra (vgl. Luk 7:41-43; Mat 6:12 praat van skulde). Omdat ons lewe uit God se genadige vergifnis, staan ons, wat ons Vader se vergifnis ontvang het, teenoor ons medemense as mense wat vergewe. Die gebed om vergifnis is ook soos die gebed om die daaglikse brood in die teenwoordige tyd wat voortdurend om vergifnis vra. Die gemeenskap met God as Vader skep ’n nuwe gemeenskap onder sy kinders. Die barmhartigheid van ons Vader maak ons ook barmhartig teenoor mekaar (vgl. Luk 6:20-38).  Die ‘want’ is nie ’n voorwaarde vir God om ons te vergewe nie, maar ’n belydenis van ons kindskap van die Vader en dat ons aan ander doen wat die Vader aan ons doen. Daarmee bely ons dat ons sy kinders is en dat Hy ’n barmhartige God is wat vergewe (vgl. Eks 34:5-7).

En bring ons nie in versoeking nie. Die Griekse woord peirasmos kan toetsing of versoeking aandui. Versoeking is die poging om iemand te laat sonde doen. Toetsing verwys na ’n deeglike en uitgebreide ondersoek om die karakter van iemand te leer ken. Jakobus 1:12-14 sê: ‘Geseënd is die man wat beproewing (peirasmos) deurstaan, want as hy die toets deurstaan, sal hy die kroon van die lewe ontvang wat God beloof het aan hulle wat Hom liefhet. Laat niemand wat versoek word, sê: “Ek word deur God versoek,” nie, want God kan nie deur kwaad versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie. Elkeen word versoek wanneer hy deur sy eie begeerte meegevoer en verlei word.’ Dit is daarom ’n ernstige bede dat my Vader my sal bystaan wanneer die duiwel en my eie begeertes my in versoekings laat beland en met sy kragtige bystand my deur beproewings heen bewaar (1 Petrus 1:5-7). Die Vadergebed onderstreep die swakheid van die mens en die mag van die Bose. Daarom is dit ’n gebed om in God se hand te bly. ‘Geen versoeking het oor julle gekom behalwe ’n menslike een nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle vermoë versoek word nie, maar sal saam met die versoeking ook uitkoms gee, sodat julle dit kan verduur’ (1 Kor 10:13).

Matteus voeg nog by: en verlos ons van die Bose. Lukas het egter in verse 5-8 ’n voorbeeld van ’n gebed wat nie in die ander Evangelies voorkom nie. Die volgende gedeeltes in Lukas brei uit op die gebed.