Die Evangelie volgens Lukas: Jesus se tweede verhoor voor Pilatus (Luk 23:13-25) – Francois Malan

23:13 Pilatus roep die leiers en die volk bymekaar (laos volk, soos bv. die Joodse volk, of gewone mense, of  die menigte, maar spesifiek ook vir die volk van God, soos Israel in die Ou Testament en Christene in die Nuwe Testament). Vir Pilatus is dit die gewone mense wat, onder aanvoering van hulle leiers, Jesus by hom kom aankla het. Vir Lukas is dit die uitverkore volk van God voor wie Pilatus Jesus onskuldig verklaar.

23:14 Pilatus begin om vir die skare aanklaers te herinner aan hulle klag teen hierdie man, dat Hy iemand is wat die volk mislei;  kyk, ek het Hom voor julle (in die openbaar) verhoor (anakrinō ook: deeglik ondervra) – alles was dus wettig; daarvan het Lukas nie in 23:3-4 vertel nie, maar verwys net hier daarna. Maar ek kon hierdie man geensins skuldig bevind aan die dinge waarvan julle Hom beskuldig het nie. Hierdie herhaling van sy uitspraak voor die volk is die tweede van die vier maal in Lukas dat Pilatus Jesus onskuldig verklaar op hulle aanklagte (vgl. 23:4,14,15,22; vgl. drie keer in Joh 18:38; 19:4,6).

 23:15 ‘en ook nie Herodus nie, want hy het Hom na ons teruggestuur. En let op! niks wat die dood verdien is deur Hom gedoen nie’. Dit is die derde ‘onskuldig-’verklaring deur Pilatus, wat ook verwys na Herodes se onskuldigbevinding deur Jesus terug te stuur (Luk 23:4, 14,15); . Ook oor sy lewe en optrede in Galilea is dus niks wat die doodstraf verdien nie. Nou is die twee regters die twee getuies wat vir Jesus se onskuld getuig, soos deur Deutr 19:15-20 vereis oor getuies in ’n hofsaak.

 23:16 ‘Daarom, nadat Hy gestraf is, gaan ek Hom loslaat’ (paideuō  om te straf met die doel om gedrag te verbeter, om te dissiplineer. Lukas verduidelik nie hoe die straf toegedien word nie. As ernstige waaarskuwing word Jesus onskuldig gestraf om daarmee die Jode te paai en simpatie vir Jesus se wek, voordat hy Jesus loslaat. Markus 15:15 en Matt 26:26 gebruik fragellō gesel, erg slaan met ’n sweep.

 23:17 Dit word aanvaar dat vers 17 nie in die bronteks was nie, soos bv. nie in papirus 75 vroeg 200 n.C. of Vatikanus nie, wat ongeveer 350 n.C. en effens ouer as Sinaïtikus is. Ander manuskripte, o.a. Sinaïtikus 4e eeu n.C. , en ouer vertalings, o.a. die 1953 Afr. vertaling, voeg hier die woorde van Markus 15:6 en Matteus 27:15 in [En hy was verplig om vir hulle op die fees een los te laat].

 23:18-19 Maar die hele menigte (pamplêthei) het gillend geskreeu (anakradzō): ‘Weg met die een! en laat Barabbas vir ons los.’ Lukas plaas die menigte se geskreeu om weg te doen met ‘die een’ (minagtend) en Barabbas los te laat bymekaar, om die ironie van die Jode se valse aanklag teen Jesus te beklemtoon, as sou Hy besig wees om opstand teen Rome te verkondig. Hier word geskreeu om die loslating uit die tronk van ’n lid of leier van die Selote, die Joodse weerstandsbeweging teen Rome, wat skuldig bevind was aan opstand teen Rome en aan moord. Waarskynlik het hy ’n Jood vermoor, wat goedgesind was teenoor die Romeine, soos die sicarii gedoen het. Die Romeine het opstandelinge gekruisig. Hiermee kies die Jode die pad van bevryding deur geweld, soos Moses toe hy die Egiptenaar doodgeslaan het (Eks 2:11-12).Die massa neem die vonnis uit regter Pilatus se hande. In een asem eis die massa die loslating van die skuldige, om te verseker dat die onskuldige veroordeel word.

 Lukas het nie die geskiedenis van Pilatus se keuse aan die volk, om tussen Jesus Christus (Seun van God die Vader, Luk 22:70) en Jesus Barabbas (seun van abba, die vader) te kies, soos in Matt 22:17, nie. Johannes 1:9-11 sê, die ware lig wat elke mens verlig, het na die wêreld gekom, die wêreld wat deur Hom ontstaan het, en tog het die wêreld Hom nie erken nie. Hy het gekom na wat syne was, en tog het sy eie mense Hom nie aanvaar nie.

 23:20 Pilatus het hulle weer met ’n luide stem toegespreek omdat Hy Jesus wou loslaat. Waarskynlik wou hy liewer vir Jesus loslaat as hulle keuse van Barabbas, wat ’n werklike bedreiging vir die Romeinse staat was.

 23:21 Hulle skreeu terug en die ‘heilige’ stad weerklink met ‘Kruisig, kruisig Hom.’ Met die dubbele uitroep stel hulle hulle eis met nadruk. Hulle vra nie om die Joodse straf vir ’n godslasteraar, naamlik steniging vir ’n valse profeet, nie (Deutr 13:10), maar die gebruiklike Romeinse straf vir opstandelinge en rebelle. Daarmee verwerp hulle Jesus as hulle Koning en soek die vloek van God op Hom (Deutr 21: wie aan ’n paal opgehang word, is deur God vervloek).

 23:22 Nog ’n maal verklaar Pilatus Jesus se onskuld. Lukas beklemtoon dat dit die derde maal is wat Pilatus probeer  om Jesus los te laat deur vir die massa te vra watter kwaad Hy dan gedoen het, aangesien hy geen rede vir doodstraf in Jesus gevind het nie (Luk 23:16, 20,22). Dit lyk amper of hy smeek om Jesus se vrylating en dat dit nie meer ’n regsuitspraak is nie. Deur hulle te vra wattter kwaad Hy dan gedoen het, voel die massa blykbaar aan dat hy begin om aan hulle toe te gee.

 Hy herhaal sy plan om Jesus met ’n straf te waarsku en daarna los te laat (23:16). Volgens Johannes 19:1 het hy Jesus erg met ’n sweep laat slaan (mastigoō) om simpatie vir Hom by die massa te wek. Deutr 25:3 het bepaal dat ’n skuldige nie meer as 40 houe lyfstraf mag kry nie (vgl. Paulus se 39 houe, 2 Kor 11:24). Sy plan is ’n verdere bewys van sy toegee aan die massa.

 23:23 Toe kom die druk en agitasie van die Jode tot ’n hoogtepunt. Met groot geskreeu het hulle aanhou eis dat Hy gekruisig word. Die versoek waarmee hulle na Pilatus gekom het, het nou ’n eis geword. Die luide geskreeu het die indruk gewek dat die oproer momentum kry. Hulle geskreeu het toe geseëvier. So swig Pilatus voor die massa en gee sy driemalige vryspraak van Jesus prys. Lukas se berig wys baie duidelik dat die Jode teen geen prys Jesus wou laat vrykom nie, en dat Pilatus bewustelik onreg pleeg om homself te red.

 23:24 Toe het Pilatus verklaar dat hulle eis uitgevoer word. Dit is sy uitspraak.

 23:25 Lukas vertel dat Pilatus die man Barnabas laat gaan het, wat hy in 23:19 bespreek het, vir wie se vrylating hulle gevra het, maar Jesus het hy aan hulle wil oorgegee – hulle wil dat Hy gekruisig moet word. Die een wat vir ’n dood skuldig is, word vrygelaat (apoluō) en die onskuldige sterf in sy plek aan die kruis – en in die plek van die sondaars van die hele wêreld (vgl. Joh 1:29).

  Lukas vermy n direkte uitspraak van Pilatus dat Jesus gekruisig moet word en lê die blaam vir Jesus se kruisiging op die Jode. Die ander drie Evangelies sê dat Pilatus Hom aan hulle oorgelewer het om gekruisig te word en Mattheus 27:24 beskryf die tafereel waar Pilatus sy hande in onskuld was en die hele volk toe die verantwoordelikheid vir Jesus se bloed op hulle en hulle kinders neem.

 Die Jode se verwerping van Jesus, ook na sy opstanding, lei egter daartoe dat God nog die oorblyfsel van die Jode, wat Jesus se offer vir die sonde van die wêreld aanvaar, deel maak van God se genadige verlossing van die mens. Vergelyk die 3000 wat op die Pinksterdag Petrus se boodskap aangeneem het, en dat die Here daagliks verlostes by hulle getal gevoeg het (Hand 2:41,47). Hulle kan egter slegs deel van God se volk wees deur na Jesus toe te kom. Paulus skryf in Romeine hoofstuk 11: ‘God het hoegenaamd nie sy volk verstoot wat Hy tevore gekies het nie. Ek is tog ook ’n Israeliet.’ ‘Daar is ook in die huidige tyd ’n oorblyfsel, deur genade uitgekies’ (soos die 7,000 in Elia se tyd; 1 Kon 19:18; vgl. ook Jes 10:21 se oorblyfsel; 11:1: ’n takkie uit die stomp van Isai; Jes 11:11 die oorblyfsel). Die uitverkorenes het wel die verlossing gekry wat hulle soek. Die res is egter verhard. Paulus sê hy hoop dat hy deur sy bediening sy eie mense jaloers kan maak en sommige van hulle tot verlossing kan bring. As hulle nie in ongeloof volhard nie, sal hulle weer ingeënt word in die vyeboom van God.