Die Evangelie volgens Lukas: Jesus voor die hoëpriester en Petrus verloën Jesus (Luk 22:54-62) – Francois Malan

22:54 Lukas noem kortliks die verskyning van Jesus in die hoëpriester se ampswoning. Johannes 18:13-24 het eers ’n verskyning voor Annas, die skoonvader van Kajafas. Markus vertel dat die hoëpriester, die leierpriesters, ouderlinge en die skrifkenners by die onwettige nagtelike vergadering was (die reëls van die Sanhedrin het bepaal dat die offisiële vergadering slegs bedags gehou mag word aangesien die deure van die tempelplein snags gesluit is; vgl. 1 Sam 3:15;  Luk 22:66). Slegs Mattheus en Johannes noem hier die naam van die hoëpriester Kajafas (Annas en Kajafas word slegs in Luk 3:2 genoem).

 Petrus het op ’n afstand gevolg, tot by die ampswoning van die hoëpriester (miskien waar Annas gebly het?). Markus en Mattheus sê eers dat al die dissipels ná Jesus se arrestasie gevlug het, maar al vier vertel dat Petrus op ’n afstand gevolg het. Johannes voeg by dat ‘die ander dissipel’ saam met Petrus gevolg het, en dat die ander dissipel, wat ’n kennis van die hoëpriester was, met die deurwagster gepraat het om Petrus ook in te laat. Wie die ander dissipel was weet ons nie. Dit kon sekerlik nie Johannes die ongeletterde visserman van Galilea wees nie (vgl. bv. Hand 4:13).

 22:55 Lukas verwys na ‘hulle’ wat in die voorhof van die hoëpriester se ampswoning ’n vuur aangesteek het. Dit verwys waarskynlik na die mense wat Jesus kom arresteer het.

 Johannes sê dit was die slawe en tempelwagte wat hulle gestaan en warm maak het omdat dit koud was. Mattheus sê slegs: Petrus het in die binnehof gesit; Markus: dat hy hom warm gemaak het by die vuur in die binnehof saam met die dienspersoneel.

 22:56-60 Lukas vertel van drie mense wat Petrus in toenemende mate van sekerheid gekonfronteer het: ’n sekere diensmeisie wat hom in die lig van die vuur stip aangekyk het, het die opmerking gemaak ‘hy was saam met Hom.’ Toe iemand anders (heteros die manlike vorm van iemand) wat hom direk gekonfronteer het: ‘jy is van Hom.’ en na ongeveer ’n uur ’n ander (allos manlike vorm van ‘ander’) wat nadruklik sê: ‘so waar, hy was saam met Hom, want hy is ’n Galileër.’ Die Galilese dialek kon maklik van die Judese dialek onderskei word (vgl. Matt 23:76; Rigt 12:6).

 Markus sê die diensmeisie het hom tweemaal uitgewys en die mense het hom as ’n Galileër uitgewys. Mattheus volg hoofsaaklik vir Markus. Johannes praat van die deurwagster, daarna van dié wat hulle staan en warm maak het, en toe ’n familielid van Malgus.

 Petrus word telkens uitgewys as iemand wat saam met Jesus was, maar Petrus ontken telkens dat hy Jesus ken (arneomai ontken en om vals teenoor jouself te wees); vir die diensmeisietjie: ‘vrou ek ken Hom nie;’ daarna ‘Man, ek is nie’ (Luk 22:58, teenoor Jesus se ‘Ek is’ bv. Joh 14:6; 15:1; 18:5,8), en die derde keer, met sy Galilese stem: ‘Man, ek weet nie wat jy praat nie.’

 Markus en Mattheus vertel dat Petrus met die derde beskuldiging begin het om sy vissermanstaal te gebruik, gevloek en gesweer het, dat hy dié man wat hulle van praat, nie ken nie.

 Daarmee gee Petrus sy dissipelskap van Jesus prys en probeer homself loslieg uit sy verbondenheid met Jesus uit. Jesus het gesê die duiwel is die vader van die leuen (Joh 8:44).

 ‘En onmiddellik, terwyl hy nog besig was om te praat (tydens sy derde verloëning van Jesus) het ’n haan gekraai (om die aanbreek van die dag aan te kondig). Markus 14:68,72 sê die haan het tweemaal gekraai, eers na die eerste diensmeisie se opmerking en die tweede direk na die derde verloëning (vgl. Mark 14:30).

 22:61-62  Tydens Petrus se derde verloëning van Jesus gebeur drie dinge tegelyk: Petrus sê: ‘Man, ek weet nie wat jy praat nie;’ ‘n haan het gekraai,’ ‘en die Here, wat Hom omgedraai het, het direk na Petrus gekyk’ (emblepō direk aankyk, en ook om aan iemand te dink, met jou hart na iemand te kyk). Jesus se kyk na Petrus staan slegs in Lukas. Terwyl Jesus voor die onwettige byeenkoms van die Sanhedrin verneder, mishandel, en deur soldate opgepas word, het Hy tyd vir Petrus wat besig is om Hom te verloën. Sy simpatieke kyk herinner Petrus aan sy selfvertroue en bravade: ‘Here, ek is bereid om saam met U in die tronk of die dood in te gaan’ (Luk 22:33), en aan Jesus se waarskuwing dat hy Hom vandag driemaal gaan verloën voor die haan kraai (Luk 22:34), maar ook aan Jesus se voorbidding en opdrag aan hom (Luk 22:32). Die opdrag word in Johannes 21:15-19 uitgespel; vgl. Jesus se verskyning aan hom in Luk 24:34. Al sê Petrus dat hy Jesus nie ken nie, ken Jesus hom en het hom al vroeër deurgrond.

 Meteens sien Petrus homself met verpletterende bewustheid. Drie maal het hy ontken dat hy Jesus ken. Maar Jesus wat vir hom gebid het, hou hom met sy blik vas terwyl hy Jesus losgelaat het. Petrus weet ineens dat hy homself verloor het en dat Jesus hom vashou. Toe gaan hy uit die kring van Jesus se vyande buitentoe en hy het bitterlik gehuil (pikrōs bitterlik, met ’n sielesmart). Was dit sy bekering waarvoor Jesus gebid het dat sy geloof nie sal wankel nie? (Luk 22:32). Was hy nog dissipel van Jesus? Lukas het Jesus se indringende blik bykbaar so verstaan. In vers 61 gebruik hy twee maal ‘die Here’ (ho kurios). Die Here het hom stip aangekyk, en Petrus het die woorde van die Here aan hom onthou. Vir Lukas is Petrus ’n sentrale figuur in sy val, in sy skaamte oor homself, in sy berou en in sy onthou van sy Here se woorde.