Die Evangelie volgens Lukas: Jesus word begrawe (Luk 23:50-56) – Francois Malan

23:50-51 ‘En kyk…’ Lukas vra die leser se aandag vir hierdie volgeling van Jesus, wat tot dusver in die geheim, in sy hart, ’n Jesusvolgeling was, maar wat nou openlik daarmee uitkom. Lukas noem sy naam Josef. Ragel het haar eerste kind Josef genoem, want, sê sy: die Here/Jahweh sal vir my nog ’n seun byvoeg (Gen 30:24; Hebreeus: josēf ‘byvoeg’). Dit was Jakob se lieflingseun wat die onderkoning van Egipte geword het en sy familie uit die hongersnood gered het (Gen 50:20) soos Jesus God se geliefde Seun is wat ons kom red het.  

 Hierdie Josef was lid van die Raad, waarskynlik een van die familiehoofde met sitting op die Joodse Raad, die Sanhedrin. Lukas beskryf hom as ’n goeie en regverdige man, wat nie met hulle besluit en optrede saamgestem het nie. Hy het waarskynlik nie saam met hulle na Pilatus toe gegaan en nie geskreeu ‘Weg met Hom’ nie (Luk 23:18).

 Josef was afkomstig van die Joodse dorp Arimatea. Dit is waarskynlik in Jesus se tyd die naam van die stadjie Rama waar Samuel 1100 jaar v.C. gebore is en gewoon het (1 Sam 1:19-20;  7:17), dieselfde as Ramataim van 1 Sam 1:1, die huidige Rentis, noordoos van Lod. Daar is mosaïeke van ’n middeleeuse kerk wat aan Josef van Arimatea gewy is. Vir sy Griekse lesers voeg Lukas by dat dit ’n stad van die Jode is. Josef het egter nou in Jerusalem gewoon as lid van die Sanhedrin en het sy graf daar in ’n rots uitgekap (Matt 27:60). Mattheus 27:57 sê hy was ’n ryk man.

 Josef het uitgesien na die koninkryk van God, soos Simeon en Hanna aan die begin van die Evangelie uitgesien het na die herstel van Israel (Luk 2:25,38). Die term ‘koninkryk van God’ kom 32 maal in Lukas voor en verwys nie na ’n gebied nie, maar na God se heerskappy, sy absolute seggenskap oor die ganse lewe van mense en gemeenskappe, en oor sy ganse skepping.

 23:52-53 Met waagmoed gaan vra Josef die liggaaam van Jesus by Pilatus. Daarmee vereenselwig hy Hom met Jesus as iemand wat aan Jesus verbind is, en stel hy hom bloot aan die kritiek en verwerping deur die Sanhedrin. Familielede kon gewoonlik die lyk van hulle mense vra. Pilatus kon dink hierdie Raadslid verteenwoordig die Sanhedrin. Volgens Deutr. 21:22 moet ’n lyk aan ’n paal dieselfde dag begrawe word om nie die land te verontreinig nie, want wie opgehang is, is deur God vervloek. So het Jesus die vloek van God oor die sonde van die wêreld namens ons gedra om ons te reinig. 

 Josef haal die lyk van Jesus van die kruis af (volgens Johannes 19:39-40 het Nikodemus hom daarmee gehelp), draai sy naakte lyk in doeke toe en lê hom in ‘n graf wat in ’n rots uitgekap is – nie in ’n gewone graf in die grond nie, maar in ’n rykmansgraf. Jes 53:9 sê: ‘sy graf was by die misdadigers en by ’n ryke in sy dood, al het hy geen misdaad gepleeg nie en al was hy nooit vals nie.’  Jesus was aan die kruis tussen misdadigers en in sy graf by die rykes. In dié graf het nog niemand gelê nie (soos die donkievul waarop niemand nog ooit gesit het nie; Luk 19:30) – geskik vir die heilige Here.

 23:54  Dit was die Voorbereidingsdag (Goeie Vrydag), en die Sabbat het al begin aanbreek (met sononder van die Vrydag). Daarom moes daar haastig gewerk word en kon hulle Jesus nie klaar begrawe voor die eerste ster verskyn nie. Josef se goedheid en regverdigheid blyk uit sy eie graf wat hy beskikbaar stel, en dat hy bereid was om onrein te word deur aan ’n lyk te raak voor die Sabbat en die Pasga (Joh 18:28; Num 5:2; 9:7,10; 19:11,13,18; 31:19; Hag 2:13).

 23:55-56 Die Galilese vroue wat by die kruis was (23:49) het Hom gevolg, die graf gesien, en hoe sy liggaam neergelê is, en toe teruggegaan (stad toe), geurige speserye en salf voorberei (om die liggaam Sondag te gaan balsem). Op die Sabbat, wat die Vrydagaand aangebreek het, het hulle gerus, volgens die voorskrif van die wet (Eks 20:8-11). Met hulle voorbereiding wys die vroue dat hulle nie Jesus se opstanding uit die dood op Sondagmôre verwag het nie. Lukas sluit sy berig oor Jesus se begrafnis af met die vroue se voorbereiding vir hulle liefdesdiens aan Jesus.