Die Evangelie volgens Lukas: Jesus word uit die dood opgewek (Luk 24:1-12) – Francois Malan

image_pdfimage_print

24:1 Die vers sluit direk by die vorige aan. Die vroue wat vir die Sondagmôre se salwing voorberei het, is baie vroeg skemer op die eerste dag van die week na die graf met (hulle) geurige speserye. Daarmee wou hulle die begrafnis van Jesus gaan voltooi.

 24:2-3 Die vroue kry ’n groot verrassing. Hulle vind dat die steen voor die graf weggerol is, gaan in en vind die graf leeg sonder die liggaam van die Here Jesus. Jesus se aankondigings dat Hy na sy dood op die derde dag sal opstaan (Luk 9:22; 18:33) het duidelik nie tot hulle deurgedring nie. Lukas is die enigste Evangelie wat uitdruklik sê dat hulle die liggaam van die Here Jesus nie gekry het nie. Dit word by die ander geïmpliseer (vgl. bv. Joh 20:3-13). So bly die geheim van hoe Jesus uit die dood opgestaan het, gewaarborg. Paulus verduidelik die geheimenis van die opstanding van die dooies met Jesus se wederkoms as: ‘ons sal almal verander word’ (1 Kor 15:51 allassō ons aard of natuur sal verander word: ‘hierdie verganklike liggaam moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike liggaam met onsterflikheid’ (15:53).

 24:4 In hulle verwarring oor die dinge (aporeisthai verward, onseker, bekommerd, ontsteld) staan daar skielik twee manne in glinsterende klere by hulle, wat kom verduidelik wat hier gebeur het. Die glinsterende klere is tipies van Lukas wat daarmee ’n hemelse verskynsel aandui (vgl. Luk 2:9  die engele en die hemelse glans om die skaapwagters; 9:29 Jesus se klere wat skitterend wit geword het; Hand 1:10 twee mans in wit klere by die apostels; Hand 9:3 en 22:6 die lig uit die hemel wat Paulus omstraal het.  

 24:5 Die vroue was verskrik (emfobōn baie bevrees) en buig hulle gesigte na die grond toe voor die hemelse boodskappers. Die boodskap begin met ’n vermaning wat slegs in Lukas voorkom: ‘Waarom soek julle die Lewende by die dooies?’ Anders as die Joodse gebruik om ‘grafmonumente vir profete te bou’ (Luk 11:47) moet daar nie vir Jesus, die grootste profeet van alle tye, ’n monument gebou word waarheen telkens teruggekom word om daar aan Hom hulde te betoon nie. In Lukas 20:8 het Jesus in verband met Abraham, Isak en Jakob gesê: ‘Die Here is nie ‘n God van dooies nie, maar van lewendes. Wat Hom betref is hulle almal lewendes.’ Dat Jesus die Lewende is, is ’n betekenisvolle woord. Hier dui dit ook op sy Godheid waarvan Johannes 1:4 sê: ‘In Hom was lewe, en dié lewe was die lig vir die mense.’  Daarby het Hy twee maal vir hulle gesê dat Hy gaan opstaan (Luk 9:22; 18:33).

 24:6-7 Die twee engele antwoord self op hulle vraag: ‘Hy is nie hier nie, Hy is opgewek’ (êgerthê passiewe vorm, verwys na God wat Hom opgewek het). Hulle herinner die dissipels aan Jesus se woorde in Galilea (Luk 9:22) dat Hy ‘op die derde dag sal opstaan’ (anastênai aktiewe vorm, self opstaan). So werk God ook vandag in en deur ons deur sy inwoning in ons en ons gebed tot Hom;  Hy wek ons sodat ons kan opstaan om sy werk en sy wil aktief deur te voer.  

 24:8 Hulle het toe sy woorde onthou. Die pad wat Jesus geloop het van sy gevangeneming tot sy opstanding begin hulle in ’n nuwe lig sien. Hulle begin ook hulle ongeloof in Jesus se woorde raaksien. Maar hulle verwagting van die Messias/Christus, ’n Gesalfde Koning was so anders, dat hulle nie kon dink aan ’n Verlosser wat vir hulle aan die kruis en met sy dood en opstanding uit hulle sondige self en die dood kom verlos nie.

 24:9En toe hulle teruggekeer het van die graf af…’ – die woord epistrefō kan aandui dat hulle terug is na die stad toe, maar het ook die betekenis van terugkeer na geloof in Jesus en na sy woord dat Hy na drie dae sal opstaan. Die vroue word die eerste getuies van Jesus se opstanding uit die dood. Hulle gaan vertel alles wat hulle by die graf gesien het (die leë graf en die engele) en gehoor het (dat Jesus opgestaan het). Hulle vertel dit aan die elf apostels en die ander vriende van Jesus wat saam met hulle byeen was, en nog verslae is oor wat Vrydag gebeur het (vgl. Luk 24:33).

 24:10 Onder die groepie vroue by die graf was daar Maria Magdalena van die dorpie Magdala aan die wes-oewer van die see van Galilea, uit wie Jesus 7 duiwels uitgedryf het (Luk 8:2); Johanna, die vrou van Gusa, ’n bestuurder van Herodes Antipas (Luk 8:3); hulle twee is van die vroue wat uit hulle eie bronne vir Jesus en die twaalf gesorg het (Luk 8:3); saam met hulle was Maria die moeder van Jakobus, wat in Luk 6:15 genoem word die seun van Alfeus – almal lojale volgelinge van Jesus uit Galilea (vgl. Luk 23:55).

 [Mark 16:1 noem ook Maria Magdalena, en Maria die moeder van Jakobus (die seun van Alfeus, Mark 3:18); en voeg Salome, die suster van Jesus se ma Maria, by. Mattheus 27:56 noem Salome die moeder van die seuns van Sebedeus, m.a.w. Johannes en Jakobus was Jesus se neefs. Volgens Matt 20:20 het Salome vir Jesus kom vra dat haar seuns weerskante van Jesus sal sit in sy komende koninkryk. Salome is die vroulike vorm van Salomo (‘ryk aan vrede’)]. 

  24:11 Maar vir hulle, vir die apostels en ander vriende van Jesus, het die woorde van die vroue se getuienis gelyk soos pure nonsens (lêros) en hulle het die vroue nie geglo nie. Terwyl die vroue die woorde van die engele aanvaar het en onthou het dat Jesus vir hulle gesê het van sy opstanding, aanvaar die apostels nie stories van die vroue nie. In hulle oë is die vroue liggelowig. Tog het dit die apostels ontstel (Luk 24:22). Hulle, die apostels, onthou egter nog nie Jesus se woorde oor sy opstanding nie. Hulle hoë politieke verwagting van Jesus as die Messias, as die koning in God se komende koninkryk is deur die kruisiging heeltemal verduister.

 24:12 Die impulsiewe Petrus hardloop egter graf toe en sien deur die opening in die rotsgraf slegs die grafdoeke wat op hulle eie lê. Hy gaan terug terwyl hy wonder oor wat gebeur het. Dit is vir hom duidelik dat hier ’n onverklaarbare ding gebeur het. Die doeke is nog daar maar die lyk nie. Die raaisel verdiep. Die vroue sien ’n leë graf sonder die liggaam van Jesus en hulle is verward, maar die engele klaar die verwarring vir hulle op. Petrus sien die doeke eenkant lê en begin wonder oor die storie van die vroue.

 Johannes 20:3-10 vertel dat Petrus en ‘die ander dissipel’ daarheen gehardloop het en die doeke gesien het, apart van mekaar opgerol en die ander dissipel het geglo, maar nog nie die Skrif oor Jesus se opstanding verstaan nie (vgl. Luk 24:24). Johannes 20:1-18 vertel dat Maria Magdalena eerste by die graf was, en toe sy sien die klip voor die graf is weggerol, hardloop sy en vertel dit vir Petrus en die dissipel vir wie Jesus liefgehad het. Hulle hardloop toe daarheen en vind die doeke apart opgerol. Daarna het Maria buite die graf staan en huil tot Jesus aan haar verskyn het.

 Markus 16:1-8 vertel van Maria Magdalena en die ander vroue wat by die graf ingegaan het en die jongman in wit klere wat vir hulle sê dat Jesus opgestaan het.

 Mattheus 28:1-10 vertel, soos Markus, dat Maria Magdalena en ’n ander Maria graf toe is, ’n engel die steen weggerol het, dat hulle vir die vroue sê dat Jesus opgestaan het, en dat Jesus met hulle terugtog aan hulle verskyn het.

image_pdfimage_print

You may also like...