Die Evangelie volgens Lukas: ’n Genesing op die Sabbat (Luk 6:6-11) – Francois Malan

6:6 Lukas beklemtoon hier dat Jesus die Heer is oor die Sabbat en oor liggaamsgebreke. Die genesing vind op ’n ander Sabbat plaas. Die mense se wettiese verkramptheid laat alle liefde verdwyn, en Hy kom om hulle uit hulle verknegting onder die wet te lei tot die vryheid van die kinders van God. Slegs Lukas het die byvoeging dat Jesus in die sinagoge onderrig gegee het (vgl. Luk 4:43). Jesus is die Here wat sy gemeente kom bevry van die dwang van die valse opvattings van die Joodse Sabbatswette. Daarvan is die genesing van die man van ’n lam verskrompelde regterhand ’n voorbeeld.

6:7 Die Skrifkenners en die Fariseërs is nie geïnteresseerd in die verlamde as gebroke mens nie, maar hulle vyandigheid teen Jesus het al so toegeneem dat hulle Hom fyn dophou om Hom aan te kla van ’n oortreding van die wet wat tot sy dood kon lei as Hy die man op die Sabbat sou genees. Eksodus 31:15 sê immers: Elkeen wat op die Sabbatdag werk, moet doodgemaak word.

6:8 Slegs Lukas het die volgende byvoeging by Markus se berig:  ‘maar Hy het geweet wat in hulle gedagtes omgaan.’ Hy is immers ook die Seun van God (Luk 3:38). Daarom maak Hy van die man met die verlamde hand, wat nie eers gevra het om genesing nie, ’n voorbeeld van sy evangelie van bevryding. Hy laat die man tussen die mense opstaan sodat almal hom en sy gebrek kan sien en wat Jesus met hom gaan doen.

6:9 Met die man met die verlamde hand tussen hulle, konfronteer Jesus hulle met die dubbele vraag of dit toelaatbaar is om op die Sabbat goed of sleg te doen, om ’n lewe te red of dit ten gronde te laat gaan. ’n Radikale keuse tussen goed en kwaad. Wat is God se doel met die Sabbat? Wat is die verhouding tussen Sabbatsheiliging en naasteliefde? Met dié vrae wil Jesus die Sabbatsviering verlos van ’n eie prestasievroomheid, om die godsdiensdag aan ander mense te wy, soos in Lev 19:18 uitgewys is. Jy kan nie die Here dien en jou naaste vergeet nie. Is die nalaat van die goeie nie juis die kwade nie (Jak 4:17; 1 Joh 3:17)? Jesus verstaan die Sabbatsgebod heeltemal anders as die Fariseërs en skrifgeleerdes: Hulle lê hulle toe op die vraag wat ’n mens nie mag doen op die Sabbat nie; Hy vra wat ’n mens nie op die Sabbat mag nalaat nie.

(Matteus 12:11 voeg hier in dat jy mos jou enigste skaap wat op die Sabbat in ’n put val, sal uithaal. Lukas 13:15 het die voorbeeld van ’n os of ’n donkie wat op die Sabbat gevoed word ; en Luk 14:5 die voorbeeld van jou seun of os wat in die put val op die Sabbat). Wat doen die Fariseërs en Skrifgeleerdes op dié Sabbat (6:11)?

6:10 Jesus wag op hulle antwoord, maar kry van hulle geen keuse tussen goed doen of niks doen aan iemand se nood op die Sabbat nie. Daarom genees Hy die verskrompelde regterhand met ’n enkele opdrag. Die geneesde hand getuig  dat Jesus juis die wil van God doen en dat Hy deur sy liefde vir sy naaste wys hoe om die liefdesgebod ook op die Sabbat uit te voer, hoe om God lief te hê met jou hele hart, siel, krag, verstand, en jou naaste soos jouself  (Luk 10:27). Die man met die verlamde hand se geloof in Jesus en gehoorsaamheid aan sy opdrag blyk daaruit dat hy sy verskrompelde hand uitgesteek het op Jesus se opdrag.

6:11 Die skrifgeleerdes en die Fariseërs besef dat hulle wetsinterpretasie heeltemal omvergewerp word. Vir Jesus is dit die Here wat bepaal wat ’n mens sal doen wanneer Hy iemand na jou toe bring, sodat die persoon die Here se stem en gesindheid deur jou stem en gesindheid sal hoor, ervaar en gehoorsaam. Die Seun van die Mens is die Here van die Sabbat, wat die seggenskap en aanwysings daaroor het. Hy wys die weg waarop ons die Sabbat sal heilig. Vir sy teenstanders word die verhouding tussen God en mens deur die wetskenners bepaal. Maar as jy nalaat om die mens te help, wat die Here op jou pad bring, word jy ’n oortreder van God se wil. Die hele diens aan God verander van vasgelegde onbreekbare wette tot Jesus se manier om die Vader te dien. Dit wissel van oomblik tot oomblik volgens die manier waarop die Vader op ’n bepaalde moment om sy liefdesdiens aan ander vra. Dit is Jesus se vryheid en dit is die manier waarop Hy die koningskap van God openbaar.

Buite hulleself van woede beraadslaag Jesus se teenstanders onder mekaar hoe om van Jesus ontslae te raak. Markus 3:6 stel dit sterker: hulle vergader saam met hulle vyande, die politieke groep Herodiane wat Herodes steun, om Jesus om die lewe te bring. Matteus 2:14 laat die Herodiane uit. Die beraadslaging oor wat met Jesus gedoen moet word, geskied alles op die Sabbat. Terwyl Jesus ’n man genees het, gebruik hulle die Sabbat om moord te beplan – goed of sleg doen? ’n lewe red of vernietig (6:9)? ’n Lewende mens raaksien of formele gehoorsaamheid aan die wet?  Liefdesdiens of wetsgetrouheid verbind met verdienstelikheid? Die Sabbat vir die mens of die mens vir die Sabbat (Mark 2:27)?