Die Evangelie volgens Lukas: Die gelykenis van die tien muntstukke (Luk 19:11-27) – Francois Malan

Daar is ooreenkomste en verskille tussen hierdie gelykenis wat by Jerigo uitgespreek is en Matteus 25:14-30 wat in Jerusalem uitgespreek is. In Matteus gaan dit om verskillende groot bedrae wat volgens die slawe se bekwaamhede aan hulle toevertrou word vir belangrike werke. In Lukas gaan dit om klein bedrae wat gelyk onder die tien slawe verdeel is om mee te gaan woeker. Matteus herinner ons dat ons almal verskillende gawes het; Lukas dat ons almal een basiese taak in hierdie lewe het. Matteus konsentreer op die toekomstige koninkryk van God; Lukas gee voorrang aan Jesus se verklarings oor die koninkryk van God wat reeds teenwoordig is (vgl. Luk 4:21 hierdie deel van Die Skrif is vandag vervul; Luk 17:21 die koninkryk van God is in julle midde; Luk 22:69 van nou af sal die Seun van die Mens aan die regterhand van God die Magtige sit. Die onmiddellike krisis wat Jesus voorspel is sy eie dood, wat ook die vervolging van sy dissipels behels en die oordeel oor Jerusalem. Die finale wêreldkrisis sal skielik kom (Luk 17:24; 18:8a) maar kan onbepaald uitgestel word (Luk 17:22; 18:1;8b).

 19:11 Terwyl die mense na Jesus se verklaring luister, dat Hy die beloofde Herder van Esegiël 34 is, vertel Jesus vir hulle ’n ander gelykenis, omdat die mense verwag dat die koninkryk van God nou skielik gaan aanbreek (anfainomai begin sigbaar word, verskyn) wanneer hulle in Jerusalem sou aankom, en dat Jesus daar as die koning van Israel gekroon gaan word. Die derde en laaste deel van sy tog na Jerusalem het aangebreek. Die gelykenis word gevolg deur sy intog in Jerusalem (19:29-44).

 19:12 Jesus vertel ’n gelykenis om die koms van sy koninkryk te verduidelik: ’n man van hoë afkoms (eugenês hoë status, wat moontlik aan ’n adellike afkoms verbind is) vertrek na ’n ver land om vir homself ’n koningskap te ontvang en dan terug te keer. Daarmee wys Jesus die verwagting af dat Hy in Jerusalem as koning gekroon sal word. Hy vat ook nie die koningskap vir Homself nie, maar ontvang dit; nie in Jerusalem nie, maar in ’n ver land. Eers as Hy weer kom sal dit duidelik word dat Hy die Koning is. En dit gaan nie dadelik geskied nie, want Hy gaan na ’n ver land toe, sonder aanduiding van wanneer Hy terugkom. Die rower aan die kruis spel ook uit dat Jesus nog na sy koninkryk toe gaan om sy volmag te ontvang (Luk 23:42). In Luk 12:36 suggereer Jesus ook dat sy volgelinge soos slawe is wat wag dat hulle eienaar van die bruilof af terugkom. In Luk 18:31-33 verwys Jesus na sy aanstaande lyding, dood en opstanding in Jerusalem, soos Luk 17:22 praat van die tyd van lyding wat nou vir sy volgelinge voorlê, en Luk 17:24 verwys na sy wederkoms.

 19:13 Sy volgelinge word verwys na die tyd tussen Jesus se opstanding en wederkoms. Hulle word vergelyk met die tien slawe van die man van hoë afkoms. Tien is ’n ronde getal wat al Jesus se volgelinge verteenwoordig. Hulle word sy slawe genoem, wat aan hulle Eienaar behoort (Paulus sê: ‘ons is duur gekoop’ met sy bloed; 1 Kor 6:20; Rom 5:9; Ef 1:7; 2:13; Kol 1:20). Aan elkeen word ’n klein sommetjie geld toevertrou om mee te gaan woeker (pragmateuomai besigheid doen), 1 mina per slaaf, ongeveer vier maande se loon vir ’n arbeider (Matteus 25:14-30 se gelykenis wat in Jerusalem uitgespreek is, praat slegs van drie slawe aan wie verskillende getalle talente gegee is, 1 talent verteenwoordig ongeveer 6000 daglone). In Luk 19:17 word verwys na die slaaf se getrouheid in iets wat baie gering is. So ook in Luk 16:10. Aan elkeen van sy volgelinge word die boodskap van verlossing deur Jesus toevertrou, om dit te gaan vertel en uit te leef en so by ander mense uit te kom met die evangelie van verlossing wat deur die hele wêreld versprei moet word.

 19:14 Die teenstand van die burgers teen die koningskap van die man van hoë afkoms, het ’n voorbeeld uit die resente geskiedenis van Jerusalem se reaksie op Jesus se verlange. Hulle woorde: ‘Ons wil nie’ dat hierdie man oor ons heers nie, is ’n weerklank van Jesus se klagte in Luk 13:34 ‘Jerusalem, Jerusalem…. ‘julle wou nie’  dat Jesus hulle onder sy vlerke bymekaar maak nie.

 [Jerusalem het ’n geskiedenisvoorbeeld van hulle opstand teen hulle koning. Toe Herodus die Grote in 4v.C. dood is, het sy seun Argelaus na Rome gegaan om vir keiser Augustus te vra om hom in sy pa se plek as koning oor Israel aan te stel, soos sy pa deur die keiser aangestel was. Maar om so wreed soos sy pa voor te kom, maak hy eers 3000 Jode voor die tempel dood. Dit het gemaak dat die Jode Argelaus gehaat het en sy aansoek by die keiser teengestaan het. Argelaus en sy twee half-broers, wat ook aanspraak op die troon gemaak het, kry egter elkeen ’n kwart van hulle pa se ryk: Argelaus oor  Idumea, Judea en Samaria; Herodus Antipas oor Galilea en Perea; en Filippus oor Batanië, Tragonitus en Auranitis. Hulle tante Salome kry die res. In die tiende jaar van Argelaus se heerskappy gaan kla die burgers van Jerusalem by die keiser oor die wrede regering van Argelaus. Daarop verban die keiser vir Argelaus na Wene in 6 n.C., en vervang hom met agtereenvolgende goewerneurs, vgl. Josefus se Antiquitatis Judaiorum 17:9,12-13].

 Deur Jesus as hulle koning te verwerp sê die leiers en ’n groot deel van die bevolking eintlik dat hulle God en sy Seun verwerp (vgl. die klagte wat hulle teen Jesus by goewerneur Pilatus lê; Luk 23:1-5; 13-25).

 19:15 Die Jode se teenstand teen Jesus het nie sy kroning as Christus, die gesalfde Koning van God se Koninkryk verhinder nie (vgl. Luk 22:42; 22:69 die Seun van die Mens sit aan die regterhand van God). By sy wederkoms sal Hy van elkeen rekenskap vra van die wins wat hy gemaak het met die gawe wat die Here aan hom/haar toevertrou het. 

 19:16-19 Van drie van die tien slawe word vertel wat hulle met die gawe gemaak het. Die eerste en tweede vertel dat die mina wat aan hulle toevertrou is, onderskeidelik tien en vyf minas bygemaak het, ’n 1000% en 500%. vermeerdering. Hulle roem nie oor hulle aandeel aan die vermeerdering nie, maar stel dit so asof die Heer se mina in hulle hande vrugbaar was, vanself vermeerder het. Hulle eienaar word as kurios, Here/meneer, aangespreek. Albei slawe word bevorder en aangestel oor die aantal stede wat hulle volgens hulle wins gemaak het. Daarmee tree hulle in diens van die Here om sy wil in die stede uit te voer. Hulle loon is nie rus nie, maar ’n groter geleentheid om diens te lewer, omdat hulle getrou was in die geringste wat aan hulle toevertrou is (vgl. Luk 16:10). Hulle troue diens verskaf aan die dienaars ’n aandeel aan die koningsheerskappy van Christus (vgl. Luk 12:32; 22:29-30). Van die tweede slaaf word nie gesê dat hy ’n goeie en getroue slaaf is nie, maar dit word blykbaar veronderstel.

 19:20-21 ’n Ander slaaf, wat mense wat soos hy optree verteenwoordig, kom en sê: ‘Meneer (kurios) hier is jou mina, wat ek vir veilige bewaring weggesit het (apokeimai om iets weg te sit vir veilige bewaring) in ’n spoudarion (’n klein lappie wat gebruik kan word as handdoek, borslap, sakdoek, gesigsvadoek). Want ek was bang vir jou omdat jy ’n austêros (harde, streng, veeleisende) man is, wat vorder wat jy nie belê het nie en oes wat jy nie gesaai het nie.’  Sy houding is deur vrees gedryf. Sy opvatting van sy heer is dat hy ’n harde onvriendelike man is, wat eiendom wat nie syne is nie, vir hom toeëien, om wins te maak uit ander mense wat vir hom werk. 

 Jesus bedoel dat elke volgeling van Hom gebruik moet maak van die gawe wat aan hom/haar toevertrou is tydens die wagtyd op sy terugkoms. Jesus kom weer en dan as regter wat streng gaan oordeel oor elkeen se aandeel aan die werk in God se koninkryk, aan die deel wat aan hom/haar toevertrou is.

 19:23 Sy valse beeld van sy heer moes hom daartoe gebring het om ten minste die geld van sy heer in die bank te sit om vir sy heer rente te laat trek. Dan sou hy ten minste iets met sy heer se geld vir sy heer gedoen het, en nie net niks daarmee gedoen het nie. Ons verlossing deur Jesus is nie bedoel om onsself gelukkig en veilig te hou nie, ‘in ’n doek toegedraai,’ in jou eie dop of groep teruggetrek nie, maar om vir ons Here en ons medemense te lewe en te werk, in sy koninkryk en onder sy koningskap. Eintlik werk Hy deur ons met ander mense, en so vermeerder sy evangelie wat Hy aan ons toevertrou.

 19:24-25 Die omstanders kry die bevel om die mina van die slaaf wat een ontvang het weg te neem en dit te gee aan die een wat 10 minas by verkry het. Die een wat die een mina ontvang het word nie gestraf nie, maar dit waarmee hy vertrou was, word hom ontneem (vgl. 1 Kor 3:13-15). Vir die omstanders is die opdrag onverstaanbaar. Hulle sien nie dat die man wat 10 minas by verkry het, met groot toewyding aan sy Heer, deur die Here gebruik is en met groter verantwoordelikheid vertrou kan word nie. Vir hom dra sy toewyding in die geringe nog verdere vrug.

 19:26 Jesus antwoord met ’n spreuk oor dié wat het en dié wat nie het nie. Die spreuk is reeds in ’n ander verband in Luk 8:18 gebruik, van jou lig wat nie onder ’n houer weggesteek moet word vir die mense wat wil inkom nie (so ook in Markus 4:25; in Matt 13:12 oor Jesus se gebruik van gelykenisse wat vir sommige onverstaanbaar is). In God se heilswil word algehele oorgawe aan Hom met groeiende vervulling geseën – vgl. Luk 6:36-38 soos ons Vader moet ons barmhartig wees, sonder om te oordeel of te veroordeel, maar deur te vergewe en te gee. Dan sal aan ons ’n goeie oorlopende maat gegee word; want met die maat waarmee ons meet sal ons deur God gemeet word.

 19:27 Die slot keer terug na die beeld van die mense wat nie die hoë amptenaar as hulle koning wou hê nie. Dit is ’n waarskuwing vir Jerusalem wat Jesus in die volgende paar dae gaan verwerp en kruisig. Met hulle verwerping van die Koning wat God na hulle toe stuur, bewerk hulle onvermydelik hulle eie ondergang (Joh 19:37 haal Sagaria 12:10 by die kruis van Jesus aan: Hulle sal Hom sien vir wie hulle deurboor het. En Openb 1:7 sê: elke oog sal Hom sien, selfs hulle wat Hom deurboor het.) Vgl. egter ook die gevaar waarin die vrugtelose slaaf kan verval in Luk 13:25-28, en hoe Jesus oor Jerusalem huil in 19:41-44.