Die Evangelie volgens Lukas: Terugskou oor die Lukasevangelie se beklemtonings – Francois Malan

Die Evangelie begin met ’n inleiding oor Lukas se skriftelike en mondelinge bronne en sy doel om dit in ‘n betekenisvolle samehang aan te bied om mense tot God te bekeer om die ware geluk te beleef (1:1-4). Daarop volg 1:5-4:13 met die geboorteverhale van Johannes en Jesus, ook die voorbereiding, doop en versoekings van Jesus. Die eerste hoofdeel (4:14-9:50) vertel van Jesus se lering, gelykenisse en wonders in Galilea. Die tweede hoofdeel (9:51-19:27 ) Jesus op pad na Jerusalem vir die einddoel van sy koms na die aarde, met talle gelykenisse en lering en min wonders. Derde hoofdeel (19:28-24:53) Jesus in Jerusalem: intog, profetiese rede, instelling van die nagmaal, Getsemane, gevangeneming en verhoor, kruisiging, dood, opstanding hemelvaart.

 Lukas plaas die verhaal van Jesus in die raamwerk van die wêreldgeskiedenis in 2:1-2 en 3:1. Lukas voer Jesus se stamboom terug tot by Adam, die vader van die ganse mensdom (3:23-38)). Ou Simeon sê dat Jesus ’n lig is wat vir die nasies tot openbaring dien (2:32). Lukas gee ook besondere aandag aan die Samaritane (10:33-37; 17:16). Die boodskap oor Jesus is vir alle nasies bedoel.

 Lukas lê besondere klem op die Heilige Gees wat werksaam is by Johannes die Doper (1:15), Maria (1:35), Elisabet (1:41), Sagaria (1:67), Simeon (2:25) en by Jesus (1:35; 3:16, 22; 4:1,14,18), en beloof word aan sy volgelinge (11:13; 12:12; 24:49); wie teen die Gees laster kan nie vergewe word nie (12:10).

 Gebed speel ’n belangrike rol in dié Evangelie. Nege keer het Jesus gebid: by sy doop (3:21), gereeld teruggetrek in afgeleë plekke (5:16), ’n hele nag in gebed voor die verkiesing van sy 12 apostels (6:12), alleen met sy dissipels (9:18), op die berg van verheerliking (9:28-29), sy lof aan sy Vader (10:21), toe die dissipels gevra het Hy moet hulle leer bid (11:1-4), in Getsemane (22:41-45), aan die kruis (23:34,46). Twee van sy gelykenisse gaan oor gebed: die vriend om middernag (11:5-13) en die weduwee en die onregverdige regter (18:1); vgl. die Fariseër en die tollenaar se gebede (19:10-14).

 Vreugde oor die genade van God word beklemtoon: 2:20 die engel aan die skaapwagters; vreugde oor verlore goedere en mense wat gevind word in 15:5-7, 9-10,23-24,32; Saggeus se blydskap 19:6. Die Evangelie begin en eindig met blydskap, Maria se gees jubel oor God haar Verlosser (1:47); die dissipels keer met groot blydskap terug ná Jesus se hemelvaart (24:52)). Slegs in Lukas kom die lofsange voor van Maria (1:46-55) en Sagaria (1:68-79) en die engele (2:14) en van Simeon (2:29-32).

 Lukas beklemtoon dat wat gebeur op bevel van God en volgens sy plan is. Maria aanvaar haar swangerskap as die wil van God (1:38). Die Fariseërs en die wetskenners het God se plan vir hulle verwerp (7:30). In Getsemane bid Jesus dat God se wil geskied (22:42);  ‘soos geskrywe is’ moet vervul word (18:31; 22:37). Dikwels word gesê dat Jesus iets  moet doen: 2:49 moet Hy met die dinge van sy Vader besig wees; 4:43 moet Hy die evangelie in die ander dorpe verkondig; 13:16 moet Hy op die Sabbat gebreklikes/siekes genees; 19:5 moet Hy in Saggeus se huis oorbly. Sy hele bediening is onderworpe aan hierdie ‘moet’ 13:33; veral sy lyding en dood wat tot verheerliking lei (9:22; 17:25; 22:37; 24:7,26,44). God is konstant besig met die lewe van mense om sy verlossingsdoel deur te voer.

 Die onbelangrike en minderbevoorregte mense van destyds ontvang besondere aandag van Jesus om hulle menswaardigheid te herstel en die hele samelewing van destyds en van vandag op nuwe verhoudings van liefde te stuur:

 Lukas gee besondere aandag aan die rol van vroue, wat in Jesus se tyd nie geag is nie: Maria 1:27, Elisabet 1:36, Hanna 2:36, Martha en Maria 10:38-39, Maria Magdalena 8:2, Johanna 8:3, Susanna 8:3, Maria die vrou van Jakobus 34:10, die weduwee van Sarfat 4:26, die weduwee van Nain 7:11, die sondares wat Jesus se voete gesalf het 7:37, die vrou wat bloedvloeiing gehad het 8:43; die vrou wat Jesus se moeder geseënd noem 10:27;  die gebreklike vrou 13:11; die vrou wat suurdeeg inwerk 13:21; die arm weduwee wat alles wat sy gehad het gegee het 21:2, die vroue van Jerusalem wat oor Hom gehuil het 23:28, en in die gelykenisse; die vrou wat haar geldstuk verloor het 15:8, die weduwee en die onregverdige regter 18:3.

 Lukas maak dit duidelik dat Jesus in kinders belangstel. Lukas begin met die geboorte van Jesus en sy kinderdae, en ook van Johannes die Doper se geboorte en naamgewing. Lukas praat van die ‘enigste seun’ en ‘enigste dogter’ van die mense oor wie hy skryf; 7:12 weduwee van Nain; 8:42 van Jaïrus; 9:38 seun met stuiptrekkings. Jesus vergelyk die Fariseërs en wetskenners met kinders op die markplein wat nie wil dans of treur nie (7:32). Wie ’n kind in Jesus se Naam ontvang, ontvang vir Hom (9:47-48). Die koninkryk van God behoort aan mense wat soos kinders na Jesus toe kom; wie die koninkryk van God nie soos ’n kind ontvang nie, sal beslis nie daar ingaan nie; en Hy raak die kindertjies aan (18:15-17). Die vroue van Jerusalem moet huil oor hulleself en hulle kinders (23:28).

 Lukas skryf hoe die genade van God tot mense gekom het. Selfs die eenvoudigstes, verlorenes en diegene op wie mense neersien, is die voorwerpe van God se liefde, soos die armes in 4:18; 7:22 die evangelie word aan die armes verkondig, 6:20 geseënd is julle wat arm is, 14:13,21 nooi die armes, kreupeles, verlamdes, en blindes na jou feesmaal; 16:19,22 die arm bedelaar Lasarus, 18:22 deel jou goed onder die armes uit; soos Saggeus 19:8 en die arm weduwee 21:2-3.

 Ook bv. die onbetroubare skaapwagters wat die eerste getuies van Jesus se geboorte word 2:8,17. Sy eerste dissipels was ongeleerde vissers (vgl. Hand 4:13), en ’n tollenaar 5:27, vgl. ook die tollenaars wat na Johannes die Doper gekom het om gedoop te word 3:12; 7:29; die Fariseërs en skrifkenners wat mor omdat Jesus saam met tollenaars en sondaars eet 5:29-30, 15:1-2; Jesus word genoem ’n vriend van tollenaars en sondaars 7:34; vgl. die tollenaar wat gebid het 18:10,11,13.

 Lukas beskryf die plan van God wat in die Skrifte aangekondig is om sondaars te red. Jesus voer God se plan uit, deur sy prediking en wonderdade, deur sy lyding, sterwe, opstanding en hemelvaart. Jesus stuur sy volgelinge na alle volke en rus hulle toe om Hom te volg en sy opdrag uit te voer om met woord en daad van Hom en sy redding te getuig. Slegs Lukas en Johannes van die vier Evangelies noem Jesus die Verlosser (sōtêr Luk 1:47; 2:11; Joh 4:42; ook in Handelinge 5:31; 13:23 en dikwels in Paulus en Petrus se briewe; een keer elk in 1 Joh en Judas).