Die Evangelie volgens Lukas: Wie is die belangrikste? (Luk 9:46-48) – Francois Malan

9:46 Hoewel God die betekenis van Jesus se lydensweg vir sy volgelinge verberg het, wys die derde kort berig na hulle aandeel aan hulle onbegrip. Hulle kon Jesus nie verstaan nie, want vir Jesus is die enigste ware grootheid die grootheid van nederige diens, selfs aan mense wat dit nie verdien nie. Hulle denke, wat nie van die algemeen menslike denke onderskei kan word nie, was gerig op erkenning en voorrang. Hulle lê elkeen redes voor oor wie van hulle die belangrikste is en argumenteer oor elkeen se eie voortreflikhede. (Mat 18:1 voeg by die grootste ‘in die koninkryk van die hemele;’ volgens Mark 9:33-34 was dit hulle onderlinge gesprek op die pad waaroor Jesus hulle uitvra). Jesus het pas gepraat oor sy soendood, maar elkeen van hulle soek nog die beste ereposisie. Hulle dink elkeen net aan hulleself; Hy dink aan ander mense. Daarom kan hulle Hom en die koninkryk van God nie verstaan nie, en waarom Hy moet ly nie.

9:47 Jesus weet wat die begeerte in elkeen van hulle se hart is, en antwoord nie direk op hulle onderlinge argument nie, maar neem ’n kind en laat hom langs Hom in die ereposisie staan. Die kind verteenwoordig die hulpeloses en die onbelangrikes (Luk 10:21; 17:2; 18:16).

9:48 Wie die kind in Jesus se Naam ontvang, ontvang Jesus, en wie Jesus ontvang, ontvang vir God wat Hom gestuur het. ‘In Jesus se Naam’ verwys na Homself en na alles waarvoor Hy staan as die Christus, die Gesalfde koning-priester-profeet, Seun van die Mens, en lydende Dienaar van God. Om ’n kind in Jesus se Naam te ontvang beteken om op te tree as Jesus se verteenwoordiger, om te doen wat Jesus self sou doen en om agent te wees van die Vader se liefde. Die sekerste pad na die teenwoordigheid van God toe, is om dié mens lief te hê vir wie die Vader lief is. Om ‘aan te neem’ beteken om te dien en te help.

Die kleinste onder julle almal, hy is groot – nie die grootste nie. In God se koninkryk word mense nie met mekaar vergelyk nie. Ware grootheid bestaan uit nederige diens, om klein te wees voor God en teenoor mense (vgl. Flp 2:3-5).

 

Wie nie teen julle is nie, is vir julle (Luk 9:49-50)

9:49 Die vierde kort berig wys dat as iemand selfbelangrik is, is jaloesie en onverdraagsaamheid nie ver nie. Johannes beantwoord Jesus se antwoord, oor wie die grootste is en ’n kind ontvang in sy Naam, met ’n vraag oor ’n vreemde duiweluitdrywer in Jesus se Naam. Die man dryf duiwels uit in Jesus se Naam, wat hulle nie kon doen nie omdat hulle gedink het hulle het mos die vermoë gehad met hulle Galilese bediening (9:40). Maar omdat die man nie saam met die dissipels vir Jesus volg nie, het die dissipels probeer om hom te keer om Jesus se Naam te ‘misbruik.’  Dié tipe onverdraagsaamheid teenoor ander gelowiges wat nie saam met ons is nie, het deur die eeue die eenheid van die kerk van die Here gekniehalter.

9:50  Jesus sê vir Johannes om nie die man te keer nie, want wie nie teen julle is nie, is vir julle – Markus  9:40: want wie nie teen ons is nie, is vir ons. In Lukas 11:23 sê Jesus: ‘wie hulle nie by My skaar nie, is teen My…:  Die mens wat die duiwels teengaan in Jesus se naam behoort verwelkom te word, nie teengestaan word nie. Hy staan aan Jesus se kant, al volg hy nie Jesus saam met sy dissipels nie. Soos hulle kindertjies in sy Naam moet ontvang (9:48), dryf die man duiwels uit in Jesus se Naam.

Met die vier kort berigte oor die dissipels se verkeerde verwagtings oor Jesus, ná sy aankondiging van sy aanstaande lyding, ná sy bestraffing van die onreine gees wat op sy verheerliking op die berg gevolg het, word Jesus se bediening in die Noorde afgesluit, in Galilea en daarna in die gebied van Filippus. Nou is Hy op pad Jerusalem toe (Luk 9:51-19:48) om daar te gaan ly en sterf.