Die evangelie

For every good reason there is to lie, there is a better reason to tell the truth (Bo Bennett).

Die evangelie

In 1 Timoteus 1:15 gee Paulus een van die beknopste, duidelikste beskrywings van die evangelie. Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos (1:15). Hier leer ons van die evangelie, die genade van God en die heerlikheid van God.

 

Christus Jesus het in die wêreld gekom. Dit beteken dat Hy ‘n mens geword het. Dit beteken nie dat Hy voor sy geboorte in Betlehem nie bestaan het nie. Hy het reeds bestaan as deel van die Drie-eenheid. In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. Hy was reeds in die begin by God. Alles het deur Hom tot stand gekom (Johannes 1:1 – 3). Hy wat van altyd bestaan het, kom na die wêreld as ‘n baba gebore in Betlehem. Hy wat in heerlikheid by die Vader was, word mens en kom na ons. Dit is sy menswording.

 

Maar hoekom het Jesus Christus gekom? Hy kom om die lewe te leef wat ons nie kon leef nie; om die dood wat ons verdien het, te sterwe; om in oorwinning oor die vyande uit die dood uit op te staan. So oorwin Hy die vyande was ons nie kon oorwin nie – die sonde en dood. Paulus sê dit is die waarheid. Anders as die dwaalleraars hou hy hom nie met mites en spekulasie besig nie. Dit is ‘n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word (1:15).

 

Ons het nou gesien dat Christus Jesus gekom het om sondaars te verlos. Watter sondaars? Almal wat die evangelie aanvaar. Paulus sê dat hy die grootste sondaar van almal was, maar tog het Christus sy verdraagsaamheid aan hom betoon. Paulus dien as voorbeeld vir almal wat in die toekoms in Hom sou glo om die ewige lewe te verkry (1:16). Die evangelie is dus persoonlik en universeel. Die Here oorlaai ons met genade, liefde en geloof. Ons moenie vergeet dat Paulus vantevore dié vervolger van die kerk was nie. Hy het sy lewe daaraan gewy om Christene in die tronk te gooi en dood te maak.

 

Paulus se voorbeeld vertel vir ons baie van God se genade. God se genade is onvoorwaardelik. Daar was niks in Paulus wat genade verdien het nie. Die oorsprong van sy verlossing was net in God. Dieselfde geld vir my en vir jou.

 

God se genade is ook doelgerig. In Paulus se lewe lei dit tot geloof en liefde (1:14). Dit is goeie nuus vir almal wat geglo het dat God hom nie kan verlos weens sy veelvuldige sondes nie. God neem die hoofvervolger van die kerk en maak hom die hoofsendeling van die kerk. God is geduldig – hy wag lank vir Paulus en Hy sal ook vir ons wag.

 

God se genade moet tot lof lei. Aan Hom wat vir ewig Koning is … kom toe die eer en heerlikheid tot in alle ewigheid. Paulus is oorweldig dat hy van so ‘n Koning genade kan ontvang. 1:17 leer ons iets van die heerlikheid van God.

  • Hy is vir ewig Koning. Hy is onsterflik; Hy word nie moeg nie; Hy verander nooit nie.
  • Hy is onverganklik en onsigbaar.
  • Hy is die enigste God.

 

Individuele gelowiges, plaaslike gemeentes en die kerk van God wêreldwyd gaan deur moeilike tye, maar die Hoof van die kerk, Christus, sal altyd in beheer bly. Teenstand en uitdagings mag kom, maar God is ewig en Hy sal ons lei, beskerm, reinig, heilig maak en behoue laat bly.