Die geduldige mense van God

There is a big difference between an eager man who wants to read a book and a tired man who wants a book to read –  G. K. Chesterton

Die geduldige mense van God

C. Christopher Smith en John Pattison het onlangs ‘n boek, Slow Church, geskryf wat besig is om baie aandag te geniet. Ek gaan ‘n aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

Ek is die weg en die waarheid en die lewe (Johannes 14:6). Wat beteken dit as ek sê dat Jesus die weg is?

Ons gemeentes moet die beliggaming van Jesus Christus wees en is noodsaaklik vir God se werk in hierdie wêreld. Gemeentes is die primêre weg waardeeur Christus se volgelinge in hierdie wêreld moet werk. Kloostergemeenskappe beskou die uitdaging om  die weg van Christus te beliggaam ernstig op – op hulle besondere plekke. Om die lewe saam as gemeenskap te leef en nie die gemeente as ‘n weeklikse bymekaarkomplek vir individue te beskou nie, moet elke faset van die lewe –  huis, werk, aanbidding, ens –  ondersoek word om seker te maak dit voldoen aan die versoenende weg van Jesus Christus. Ons moet Jesus Christus saam op ‘n spesifieke plek beliggaam.

 

Om Jesus Christus te volg daag ons uit om aandag te gee aan God se versoeningswerk met sy hele skepping. Ons het ruimte in ons gemeentes nodig waar ons saam hierdie rigting kan bespreek en onderskei. Ons besluite moet aandag gee aan God se liefde vir en versoening met die hele skepping

Ons moet al Jesus Christus se onderrig ernstig opneem – selfs om jou ander wang te draai, jou vyand lief te hê, jou kledingstukke met ander te deel, ens. Oppas as ons eers begin rasionaliseer oor wat ons maar kan uitlaat. Ons moet ‘n diep kennis hê van wie Jesus was en wat Hy vir ons geleer het. Ons moet die Bybelverse oor versoening in ons gemeentes bespreek, sodat ons Jesus Christus beter kan ken.

Ons maak aanspraak daarop dat ons Jesus Christus volg, maar die manier waarop ons getuig van sy versoeningswerk lyk nie juis soos die manier wat Jesus Christus geleef het nie. Ons moet Jesus se weg volg al is dit ongemaklik – al lyk dit onmoontlik. Maar dan moet ons bely dat ons toegegee het aan die Westerse kultuur van ongeduld. Ons moet ons weer in ons plaaslike gemeentes aan God onderwerp. Daar moet ons leer om in sy weg te volg – met deernis en geduld.

Volgende keer begin ons kyk na die tweede beginsel van die stadige kerk: ekologie.