Die Geestelike Dissiplines: Hoe verander God lewens (1)

– Martin Luther King Jr.

Die Geestelike Dissiplines: Hoe verander God lewens (1)

Dallas Willard, Professor aan die University of Southern Califonia’s  School of Philosophy en leraar in die Southern Baptist Church, het ‘n belangrike boek geskryf: The Spirit of the Disciplines. [Hy is onlangs oorlede.] Ek gaan baie op hierdie boek staatmaak in hierdie reeks oor geestelike dissiplines.

 ‘n Nuwe mens in ‘n nuwe wêreld – geestelike transformasie – is ‘n belangrike tema in die Bybel. Hoe kry ons dit reg? Die antwoord van baie mense vandag is deur selfvervullingstegnieke.

Maar, ten spyte van al hierdie tegnieke kry ons vandag ‘n dwelmepidemie, geweld, selfmoorde, ens. Mense kla van ‘n gevoel van leegheid. Onderliggend tot al hierdie probleme is ons onvermoë om langdurige en betekenisvolle persoonlike verhoudings aan te gaan en te onderhou.

Die probleem is geestelik en daarom moet die oplossing ook geestelik wees. As die oplossing geestelik is, moet ons onmiddellik vra: Waar pas die Christelike geloof in? Die kerk pas nie eintlik in nie. Ons vind dat Christene in werklikheid deel van hierdie epidemie is. Moderne mense glo dikwels dat die Christelike geloof  kragteloos is of ten minste nie ter sake is nie.

Ten spyte van hierdie negatiewe siening bied die kerk steeds die enigste antwoord. Wat hou die kerk terug sodat hy nie sy verwagte rol kan vervul nie?

  • Die kerk moet die behoefte aan transformasie – ‘n nuwe mens – weer ernstig opneem. Ons kan met reg sê dat geestelike transformasie nie vir die moderne kerk ‘n ernstige en praktiese saak is nie – die kerk is nie meer getrou aan sy eie boodskap nie.
  • Die kerk moet realistiese metodes vir transformasie verduidelik en modelleer. Die vraag wat die kerk moet beantwoord, is: Hoe kan gewone mense, deur die genade van God, ‘n liefdevolle, doeltreffende en kragtige geloofsgemeenskap word? Die groot gevaar is dat die kerk te laag mik met sy boodskap.

Gelowiges het die volmaakte model: Jesus Christus. Ons lees gereeld in die Bybel dat ons meer en meer soos Jesus Christus moet word. Maar hoe doen ons dit? Ons moet leef soos Hy geleef het en die aktiwiteite beoefen wat hy beoefen het. Wat is hierdie aktiwiteite? Afsondering en stilte, gebed, ‘n eenvoudig lewe van opoffering, studie en nadenke oor God se woord en weg, diens aan ander, ens. Hierdie aktiwiteite is vir ons nog steeds belangrik, want ons behoeftes is groter.

Hierdie geloof waarvan ons hier praat, word nie vandag meer aanvaar nie. Ons glo dat geloof iets intellektueel is – alles in die verstand. Ons het ‘n muur gebou tussen geloof en genade aan die een kant en dit wat ons werklik doen aan die ander kant. Geen wonder ons sien geloof as iets wat mense se lewens moet verander … maar dit nie regkry nie.

My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie (Johannes 18:36),  sê Jesus vir Pilatus. Hoe oorbrug ons  die kloof tussen hierdie wêreld en God se koninkryk? Deur vir Jesus Christus en sy Vader te ontmoet. Hoe doen ons dit? Ons ontmoet vir Jesus Christus en sy Vader as ons die geestelike dissiplines beoefen. Hierdie dissiplines moet die middelpunt van ons lewens in Christus wees. Ons moet dit beoefen en ander uitnooi om by ons aan te sluit.

Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan. En ons verheug ons ook in die hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God (Romeine 5:2). Die geestelike dissiplines is niks anders as die wil om soos Hy te wees nie.

Maar is hierdie las nie te swaar nie? Daarna kyk ons volgende keer.