Die Geestelike Dissiplines: Hoe verander God lewens (12)

To read without reflecting is like eating without digesting. -Edmund Burke, staatsman en skrywer (1729-1797)

Die Geestelike Dissiplines: Hoe verander God lewens (12)

Dallas Willard, Professor aan die University of Southern Califonia se School of Philosophy en leraar in die Southern Baptist Church, het ‘n belangrike boek geskryf: The Spirit of the Disciplines. [Hy is onlangs oorlede.] Ek gaan baie op hierdie boek staatmaak in hierdie reeks oor geestelike dissiplines.

Ons het in die vorige blog gewys dat die geestelike dissiplines in twee kategorieë verdeel kan word. Ons begin vandag met die eerste kategorie: Die Dissiplines van onthouding. Daarom dring ek by julle daarop  aan om nie aan sinlike begeertes toe te gee nie (1 Petrus 2:11).

 

Die dissiplines van onthouding moet deur almal beoefen word. Dit moet lei tot ‘n sobere en matige gebruik van al God se gawes. As ons voel dat enige gewoonte, al is dit skadeloos, ons van God weghou; as ons voel dat dit wat ander met straffeloosheid doen ons verlei – dan is onthouding ons enigste keuse. Ons moet ontslae raak van alles wat tussen onsself en God kom.

In hierdie dissiplines bly ons weg van wat ons gewoonlik as normale en wettige begeertes beskou. Dit is dinge wat ons basies motiveer – kos, slaap, liggaamsaktiwiteite, vriendskappe  en seks. Ons begeertes vir gemak, materiële sekuriteit, reputasie en roem en verskeidenheid val ook onder hierdie groep. Meeste hiervan moet tot ‘n sekere mate vervul word vir menslike lewe en gesondheid. Onthou daar is nie noodwendig iets inherent verkeerd met hierdie begeertes nie. Ongelukkig laat ons toe dat hierdie begeertes soms hand uit ruk. Uiteindelik is dit ‘n bron van sonde.

Die sewe dodelike sondes wat dwarsdeur die geskiedenis van die kerk erken is, is: trots, jaloesie,  woede, luiheid, hebsug, gulsigheid  en wellus. Elkeen, tot ‘n meerdere of mindere mate,  is wettige begeertes wat skeefgeloop het. Deur ons omstandighede en gedrag aan te pas, kan ons hierdie basiese begeertes in hulle regte plek plaas.

Volgende keer begin ons met spesifieke dissiplines van onthouding. Ek gaan my beperk tot die meer algemene dissiplines.